DA blameer Wim de Villiers vir US se taaldiskriminasie

  • 0

Die Demokratiese Alliansie (DA) beskuldig die Universiteit Stellenbosch (US) se bestuur, en spesifiek die rektor, Wim de Villiers, daarvan dat hulle menseregtevergrype teen Afrikaanse studente ignoreer.

In ’n sterkbewoorde verklaring sê die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, die DA “deel die pyn van Afrikaanssprekende studente aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat vanoggend wakker geword het met die nuus dat die universiteitsbestuur – onder leiding van rektor Wim de Villiers – reeds vir ses maande lank die hulpkrete van Afrikaanse studente eenvoudig ignoreer”.

Die DA se beskuldiging teen De Villiers spruit uit ’n berig wat die afgelope naweek in Rapport verskyn het wat beweer studente van die Tygerbergkampus het reeds in Augustus verlede jaar klagtes oor taaldiskriminasie aanhangig gemaak.

Die klagtes is glo by die betrokke huiskomitee, koshuishoof, die TygerMaties-kluster, sowel as die US se gelykheidseenheid ingedien.

“Vir ’n halwe jaar lank het hul hulpkrete op dowe ore geval, met die universiteit wat skynbaar nou eers wakker geskrik het te midde van die voortslepende storm weens die verbod op Afrikaans aan die universiteit,” sê die DA in hulle verklaring.

Die party wil weet waarom die bestuur van die universiteit die vermeende menseregtevergrype teen Afrikaanse studente ignoreer.

Die DA sê hulle is ook “gewalg” deur die bewerings dat vrouestudente by sekere koshuise gedreig word met boetes en tugstappe as hulle Afrikaans praat.

“Daar is nou berigte van dosyne studente by minstens vyf koshuise dat hulle belet word om Afrikaans te praat in die openbaar, op WhatsApp, en selfs in hul eie kamers. Dit blyk nou ook dat Afrikaans spesifiek geteiken word, met een student wat aanvoer dat hulle toegelaat word om alle tale behalwe Afrikaans te praat omdat dit glo as ’n onderdrukkende taal beskou word.”

Volgens Schreiber is dit teen hierdie tyd duidelik dat die grondwetlike regte van talle Afrikaanse studente aktief vertrap word aan die US. “Maar waar is Wim de Villiers?” wil hy weet.

Hy sê die rektor, wat die dryfkrag was agter die 2016-Taalbeleid wat Afrikaans as ’n gelyke taal afgeskaf het en daardeur klaarblyklik ’n atmosfeer van diskriminasie teen Afrikaans geskep het, het nog nie ’n enkele woord gerep oor hierdie vermeende menseregtevergrype nie.

“In plaas daarvan om proaktief en met empatie te reageer, het die bestuur van die universiteit tot dusver probeer wegkruip, die klagtes ignoreer of probeer afmaak as ’n ‘verkeerde interpretasie’ van die ‘gees’ van die taalbeleid.”

Schreiber sê gegewe die feit dat De Villiers se taalbeleid openlik verklaar het dat Afrikaans minder belangrik is as Engels aan die US, lyk dit eerder asof die huidige vergrype die direkte gevolg van die 2016-Taalbeleid is. Die enigste oplossing is volgens hom om die beleid te hersien deur seker te maak dat Afrikaans gelykgestel word aan Engels.

Hy sê De Villiers se bestuur se weiering tot op hede om ferm op te tree ter beskerming van die vrouestudente wat vermoedelik verbied word om hul moedertaal te praat maak hulle, volgens De Villiers, aandadig en medepligtig in hierdie vermeende vergrype.

Die DA sê aangesien die bestuur duidelik geen aptyt het om op te staan vir hierdie studente nie, gaan hulle die nuutste onthullings oor studente wat vermoedelik met boetes gedreig word, insluit by hulle bestaande klagte by die Menseregtekommissie.

Deur die loop van die komende week gaan die DA ook verdere aksies aankondig ter verdediging van moedertaalonderrig op Stellenbosch. Die party sê hulle nooi elke Suid-Afrikaner wat verbind is tot die land se grondwet om met hulle hande te vat vir die grootste veldtog van sy soort in die geskiedenis van ons demokrasie.

’n Woordvoerder van die universiteit het aan Voertaal gesê hy sal die DA se verklaring opneem met die universiteit se bestuur, wat sal besluit of hulle daarop wil reageer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top