Die DA en die ANC het mekaar aan die keel beet oor ’n DA-verkiesingsadvertensie op TV en sosiale media waarin die Suid-Afrikaanse vlag eers tot as verbrand word en daarna weer in volle glorie herstel word.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het die ANC-leier, Cyril Ramaphosa, tot ’n openbare debat oor die kwessie uitgedaag.
Ramaphosa sê die advertensie is onaanvaarbaar en niks ander as verraad nie.
Hy het gesê alle Suid-Afrikaners moet hierdie “misbruik van die landsvlag vir partypolitieke doeleindes” betreur.
“Ons vlag is ’n simbool van identiteit, integriteit en eenheid wat ons laat wapper met ’n trots en bewussyn wat partypolitieke belange te bowe gaan.
“Ons vlag is baie belangrik vir die nasie, aangesien dit die swaar verworwe vryhede en vrede verteenwoordig wat bereik is deur historiese stryd teen onreg.
“As regering verdedig ons die reg op vryheid van uitdrukking ferm, met die verwagting dat hierdie reg uitgeoefen word met respek vir alle mense en dat dit nie sosiale omwenteling of geweld aanhits nie,” het Ramaphosa in ’n verklaring gesê.
The South African flag represents the unity, diversity, and resilience of our nation. Any attempt to degrade it for political gain is deeply offensive and undermines the progress we've made towards a more inclusive society. Political discourse should elevate, not diminish. Let's… pic.twitter.com/74mmctvkSI
— ANC SECRETARY GENERAL | Fikile Mbalula (@MbalulaFikile) May 6, 2024
Intussen oorweeg die minister van sport, kuns en kultuur, Zizi Kodwa, dit om verdere stappe teen die DA te doen oor die advertensie. Kodwa het dit “afskuwelik en onpatrioties” genoem.
Hy het ook die waarnemende direkteur-generaal, adviseurs en die departement se regseenheid opdrag gegee om hom dringend te adviseer oor die stappe wat hy kan doen.
Die DA hou egter vol hulle advertensie het meriete. Die party sê dit wys net Suid-Afrika se demokratiese instellings, sowel as die land se ekonomie, sal tot as verbrand onder ’n ANC-EFF-MK-PA-koalisie.
???????? We are proud of our flag and are working hard to protect it and SA from the corrupt ANC/EFF Doomsday Coalition.
If we do not unite to #RescueSA on 29 May, South Africa’s democratic institutions, as well as our economy, will burn to ash under this Coalition:… https://t.co/RuI5zrB39x
— Democratic Alliance (@Our_DA) May 8, 2024
Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê in ’n verklaring die DA se rol is om alles moontlik te doen om te verhoed dat dit gebeur. “Die enigste mense wat die mag het om dit te doen, is die kiesers. Ons het nog drie weke om hierdie punt tuis te bring.”
Zille sê die DA het die vlag gekies as die duidelikste simbool van die droom wat Suid-Afrikaners 30 jaar gelede gedeel het, aan die begin van demokrasie onder president Nelson Mandela. “Die vlamme wys hoe sy visie deur 30 jaar van ANC-bewind verwoes is. En ons waarsku dat dit onder ’n ANC-EFF-MK-PA-koalisie heeltemal uitgewis sal word.”
Die 30-sekonde-advertensie eindig met die vlag wat tot sy eertydse glorie herstel is met ’n oproep tot aksie vir elke volwasse Suid-Afrikaner: “Red SA, stem DA!”
Steenhuise het in sy reaksie oor die herrie gesê dit is duidelik dat die advertensie ’n senuwee binne die ANC aangeraak het deur sy planne om ’n oordeelsdagkoalisie te vorm, bloot te lê.
Hy het elke Suid-Afrikaner wat nog nie die advertensie gesien het nie, aangemoedig om die DA se webwerf of sosiale platforms te besoek “om die waarheid te sien van hoe ’n ANC-EFF-koalisie Suid-Afrika tot as gaan verbrand en hoe net die DA kan keer dat dit gebeur”.
???? This election is about survival! Watch the DA's new TV advert. Your vote can stop a corrupt coalition between the ANC, the violent EFF and the Zuma faction.
A strong DA can anchor a new caring government to create more jobs and get things done. Unite to #RescueSA. ????????#DAtvAd pic.twitter.com/2PiEcp8W2t
— Democratic Alliance (@Our_DA) May 5, 2024
“In die lig van sy jongste leuens en die feit dat Ramaphosa onlangs weggeskram het van ’n uitnodiging vir ’n presidensiële debat wat deur News24 uitgereik is, daag ek hom nou persoonlik uit tot ’n een-tot-een-debat om nie net sy skandelike rekord in die amp te verdedig nie, maar ook sy beplande stigting van ’n oordeelsdagkoalisie om aanspreeklikheid vry te spring nadat die ANC op 29 Mei sy meerderheid verloor het,” het Steenhuisen in ’n verklaring gesê.
Hy sê die President moet ophou om soos ’n politieke kommentator op te tree en moet oor sy standpunt kom debatteer as hy so geskok is. “Meneer die President, noem die tyd en plek en ek sal met graagte blootlê hoe u en die ANC Suid-Afrika laat brand het,” het Steenhuisen gesê.