Die stof rondom die omstrede sakeman en familielid van president Cyril Ramaphosa, Hangwani Morgan Maumela, wil eenvoudig nie gaan lê nie.
Die DA het gister (Donderdag) ’n verklaring uitgereik waarin hulle Ramaphosa kritiseer vir die weiering om die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na Maumela en sy beweerde korrupsiesindikaat uit te brei na ander provinsies, ondanks nuwe bewyse van aktiwiteite buite Gauteng.
Maumela, wat as die beweerde spilpunt van die Tembisa-hospitaal-plundering beskou word, is reeds die fokus van ’n SOE-ondersoek wat na bewering R816 miljoen se onreëlmatige transaksies blootgelê het. Die jongste onthullings dui egter daarop dat sy netwerk nie tot Gauteng beperk is nie. Volgens News24 het Maumela probeer om sy invloed uit te brei na Noordwes, waar hy tans die wettige tenderwenner dagvaar wat kos aan 17 hospitale en klinieke moet verskaf.
Die skandaal het in 2021 begin toe Babita Deokaran, hoof van finansies by die Gautengse Departement van Gesondheid, R850 miljoen se verdagte betalings by Tembisa-hospitaal aan die lig gebring het. Drie dae later is sy voor haar huis in Johannesburg met agt skote vermoor.
He was named as a central figure in the R1 billion extraction scheme at Tembisa Hospital. Now Hangwani Morgan Maumela is selling off chunks of his R280 million property portfolio to avoid the prying eyes of the SIU. | @wicks_jeff https://t.co/1sUDCf6VAy
— News24 🇿🇦 (@News24) July 24, 2023
Die SOE se ondersoek het aan die lig gebring dat Maumela – wat aan sy ma se kant met Ramaphosa se eerste vrou, Hope Ramaphosa (gebore Mudau), verwant is – aan die spits was van ’n sindikaat wat R816 miljoen uit 1 728 kontrakte geplunder het.
Die DA se gesondheidswoordvoerder, Michele Clarke, sê ten spyte van oorvloedige bewyse dat Maumela se operasies provinsiale grense oorskry, het die president se kantoor aangedui dat daar nie genoeg bewyse is om die ondersoek uit te brei nie.
Die ironie, volgens Clarke, is dat die oorspronklike SOE-ondersoek juis begin het ná die moord op die fluitjieblaser Babita Deokaran. “As daardie bewyse genoeg was om die ondersoek te begin, waarom is die nuwe bewyse nou nie genoeg om dit uit te brei nie?” vra Clarke.
The DA wants President Cyril Ramaphosa to expand SIU's investigation into alleged looting at Tembisa Hospital to other provinces. https://t.co/rnGZNWS5n7
— Current Affairs ZA (@zacurrentaffair) October 30, 2025
Die DA het aangekondig dat hulle ’n formele brief aan gesondheidsminister Aaron Motsoaledi sal rig waarin hulle versoek dat hy die bewyse wat hy op 2 September 2025 tydens ’n mediakonferensie genoem het, aan die President oorhandig. Hulle dring aan dat die SOE-ondersoek uitgebrei moet word na die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, waar soortgelyke patrone van beweerde tenderkorrupsie en sindikaataktiwiteite vermoed word.
Die SOE se jongste optrede het ook opslae gemaak toe hulle op 9 Oktober Maumela se luukse Sandton-herehuis deursoek en ’n vloot Lamborghini’s, kunswerke en selfs ’n speelgoed-Range Rover gekonfiskeer het. Hierdie dramatiese toneel het die publiek se aandag weer gevestig op die omvang van die beweerde plundering van openbaregesondheidsfondse.
The SIU is currently raiding the alleged home of Businessman Hangwani Morgan Maumela who is linked to the over R2.3billion Tembisa Fraud and corruption case. The property, which allegedly boasts a car wash and a barber shop is located in Sandhurst, Sandton. #tembisahospital pic.twitter.com/XFu0Xjq5FC
— linda (@lindamagalakanq) October 9, 2025
Die presidensie het intussen volgehou dat daar geen formele bande tussen Ramaphosa en Maumela bestaan nie, ondanks foto’s waar die President in 2023 buite Maumela se huis vriendelik met hom gesels toe hy in die buurt gaan stap het. Hierdie ontkenning het verdere vrae laat ontstaan oor die politieke wil om die volle omvang van die beweerde korrupsie aan te spreek.
Die DA het hulle beroep op Ramaphosa herhaal om die belange van Suid-Afrikaners eerste te stel en die SOE-ondersoek uit te brei. “Openbare gesondheidsorg is te belangrik om toe te laat dat hierdie verrotting voortduur,” het Clarke gewaarsku.
Met die SOE se tussentydse verslag wat reeds die omvang van die skade in Gauteng bevestig het, en Maumela se beweerde pogings om ander provinsies te infiltreer, lyk dit al hoe meer onverantwoordelik om die ondersoek beperk te hou. Die DA en ander burgerlike groepe hou vol dat slegs ’n nasionale ondersoek die ware omvang van die skade kan blootlê en die skuldiges tot verantwoording kan roep.
