Twee van die land se politieke partye wat in verskeie munisipaliteite as koalisievennote saam regeer en hoop om die ANC in 2024 as regerende party uit die kussings te lig, die DA en ActionSA, is weer in mekaar se hare.
In die jongste twis tussen die twee partye word die toekoms van die Tshwane-koalisie nou bedreig. Hulle baklei soos twee honde oor ’n been, wat kan beteken dat die ANC op die ou einde daarmee wegstap.
Die DA beskuldig ActionSA daarvan dat hulle leier, Herman Mashaba, se ego daarvoor verantwoordelik is dat die toekoms van die Tshwane-koalisie in die gedrang is.
Dit volg nadat ActionSA besluit het om teen ’n verslag te stem wat volgens die DA sal help om die hoofstad onafhanklik van Eskom en beurtkrag te maak.
Die stad wil die Pretoria-Wes- en Rooiwal-kragstasies verhuur aan ’n konsortium van privaat maatskappye wat in skoon, alternatiewe energieopwekking wil belê.
Die DA sê in ’n verklaring die huurkontrak sal nie net die stad R300 miljoen per jaar aan instandhoudingskoste bespaar nie, maar dit kan ook privaatsektorinvestering ontsluit wat nie tans vir die stad beskikbaar is nie en 30 000 nuwe werksgeleenthede skep.
“In wese is die projek een van die moontlike antwoorde op die vraag wat elke metro in die land homself moet afvra: Hoe kan ons ons elektrisiteitsvoorsiening diversifiseer, minder afhanklik van Eskom raak en beurtkrag tot die minimum beperk?”
ActionSA sê dat hulle teen die plan gekant is omdat dit duidelik onwettig is en in stryd is met die voorskrifte van ’n veelparty-koalisie-ooreenkoms wat die verskillende partye onderteken het.
We will today vote against a report brought by the Executive Mayor of Tshwane on the grounds that it is unlawful & in breach of the signed multiparty coalition agreement.
We are not in coalition to serve Mayors, political parties or service providers.https://t.co/fWnxxeKMbi
— ActionSA (@Action4SA) August 16, 2022
Die DA sê egter openbare insette moet nog deur die raad oorweeg word voordat enige verdere stappe gedoen word. Volgens die DA sal die openbare deelnameproses die stad in staat stel om ActionSA se aantygings oor die reëlmatigheid van die huurkontrak te toets.
“ActionSA se misleidende posisie verhinder openbare deelname, misplaas sy rol in die proses, en blyk ’n poging te wees om die hele projek aan die begin te kelder.”
Die DA sê dit wil voorkom of die opdrag aan ActionSA se Tshwane-raadslede om teen die verslag te stem, van die party se nasionale leierskap gekom het.
“Mashaba wil blykbaar nie hê die koalisieregering moet slaag nie tensy hy sy wil kan afdwing, naamlik ’n herrangskikte koalisie wat die EFF as ’n steunblok vir homself insluit. Dit is ’n konsekwente patroon van opsetlike ontwrigting wat in daardie rigting ontstaan het.”
The DA is disappointed by the decision of ActionSA in Tshwane to vote against a report that will help make the capital city independent of Eskom and load-shedding.
Mashaba’s ego threatens the future of Tshwane, service delivery and over 30 000 new jobs.https://t.co/VlQsvfGwDM
— Democratic Alliance (@Our_DA) August 16, 2022
Volgens die DA is dit ’n kinderagtige, arrogante houding om geen ander party in die koalisie te laat slaag nie tensy hulle die voorwaardes kan dikteer.
Die DA erken in hulle verklaring dat die sukses van die koalisieregerings deurslaggewend is, nie net vir die toekoms van die metro's nie, maar ook vir die toekoms van die land. “In 2024 sal Suid-Afrika na alle waarskynlikheid ’n koalisieregering hê, en dit sal dinge gedoen moet kry.”
ActionSA sê op hulle beurt hulle het oplossings binne die koalisiereëling gesoek, maar die DA het dit onmoontlik gemaak.
“Veelpartykoalisies moet die inwoners van die Stad Tshwane dien en ActionSA sê hulle sal alles doen wat nodig is om te verseker dat hierdie verbintenis nagekom word.”
ActionSA sê in ’n verklaring dit is onder hulle aandag gebring dat burgemeester Williams sessies met die ANC en EFF gehou het in ’n poging om hul steun vir hierdie item in die raad te werf. Dit is glo gedoen ondanks die feit dat die DA-koalisiegesprekke in KwaDukuza in duie gestort het weens hul aandrang op ’n klousule wat die werwing van steun van enige party buite die koalisiereëling verbied om ’n raadsbesluit te verseker.
“Indien burgemeester Williams voortgaan met die verslag aan die raad, en indien dit met die steun van die ANC of EFF goedgekeur word, sal ActionSA voortgaan om klagtes by die Kantoor van die Openbare Beskermer, Nasionale Tesourie, die Valke en die SOE in te dien.”
ActionSA het ’n beroep gedoen op ander koalisievennote om hul steun vir hierdie item terug te trek en “saam met die inwoners van Tshwane te staan ter verdediging van goeie regering”.
Die DA het op hulle beurt ’n beroep op ActionSA gedoen om sy besluit te heroorweeg, en die openbare deelnameproses te gebruik om kommer te opper wat hul lede van die burgemeesterskomitee nie geopper het toe die huurvoorstel aanvanklik na die munisipale raad verwys is vir ’n besluit nie.