DA en ActionSA se politieke huwelik in Tshwane op die rotse

  • 0

Die politieke huwelik tussen die DA en ActionSA in Tshwane is finaal op die rotse. Die twee partye beskuldig mekaar oor en weer van misleidende en kwaadwillige optredes.

ActionSA se besluit die afgelope naweek om hulle rug te keer op die veelpartykoalisie in Tshwane en nie die DA-burgemeester, Cilliers Brink, te steun wanneer die ANC later die week ’n mosie van wantroue teen hom gaan instel nie, kan tot gevolg hê dat die Jakarandastad nog dié week weer in die hande van die ANC en EFF beland.

Die DA se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp, het ActionSA en sy leier, Herman Mashaba, Maandag in ’n sterk bewoorde verklaring van skynheiligheid beskuldig.

Hy sê Mashaba het ActionSA in die nuttige idiote van antigrondwetlike magte in die Suid-Afrikaanse politiek verander, en in die proses die toekoms van die hoofstad in gevaar gestel.  

“Die party se optrede teenoor koalisievennote, ondersteuners en die publiek is gekenmerk deur leuens, bedrog en verraad.”

ActionSA se leier, Herman Mashaba, het in ’n verklaring ontken dat hulle beplan om blindelings in ’n koalisie te gaan ter ondersteuning van ’n ANC wat hy nog altyd gesweer het om nooit te ondersteun nie. “Ons sal dit nooit ondersteun, of toelaat dat ActionSA gebruik word om korrupsie en ander vorme van misbruik te beskerm nie, ongeag met wie ons in ’n koalisie gaan,” het Mashaba gesê.

Hy sê ActionSA is bewus van die verwarring wat deur die voortslepende gebeure in Tshwane veroorsaak word.

Volgens Mashaba is die besluit om ’n alternatiewe munisipale koalisieregering vir Tshwane te oorweeg nie ligtelik geneem nie. Hy sê dit spruit voort uit beide die veelparty-na-verkiesingsrealiteit in Suid-Afrika en die talle gevalle van wanbestuur in Tshwane.

Die DA sê egter minder as twee maande gelede het ActionSA nog eer aanvaar vir die sukses van die Tshwane-veelpartykoalisie. Hulle het die ANC se mosie van wantroue in burgemeester Cilliers Brink as opportunisties beskryf.  

“Nou blameer ActionSA, wat die onderburgemeesterskap en sleutelburgemeesterskomiteeportefeuljes in Tshwane beklee, sy koalisievennote vir die stad se veronderstelde mislukkings.”

Dit is volgens die DA duidelik dat ActionSA se besluit om hulle rug te draai op die Tshwane-koalisie niks te doen het met dienslewering, die inwoners van Tshwane, of die toekoms van die stad nie.

“Mashaba het gereken op ’n ooreenkoms met die ANC en die EFF om ’n ActionSA-burgemeester te verkies, met die berekening dat die party sal baat as hulle hierdie posisie beklee.”

Maandag se verklaring wat deur ActionSA uitgereik is, onthul dat geen so ’n ooreenkoms nog beklink is nie. ActionSA het volgens die DA geen plan vir Tshwane nie, behalwe om in ’n mosie van wantroue te stem om ’n funksionerende regering in duie te laat stort.

“Die enigste manier waarop ActionSA se slenter kan werk, is as sy nuwe koalisie die EFF insluit, wat die party van chaos, haat en geweld as koningmakers in ’n nuwe Tshwane-koalisie sal wees.”

Die DA sê hulle sal veg om die vordering wat hulle met hul koalisievennote in Tshwane gemaak het, te behou, en om Mashaba te keer, omdat hy die slegste moontlike uitkoms vir die stad wil lewer.

Volgens die DA is Mashaba besig om sy eie party met sy optrede te vernietig en dit sal in die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing uitgewys word.

Hulle sê ten spyte van oorweldigende teenkanting teen hierdie stap, insluitend deur lede van ActionSA, lyk dit asof Mashaba daarop ingestel is om ’n doeltreffende, goed funksionerende koalisie tot ’n val te bring wat sukses behaal het in:

  • ’n beduidende verbetering in die stad se finansies en oudituitkoms
  • ’n geloofwaardige plan om maksimum energieselfstandigheid te verseker
  • ’n vennootskap met die nasionale regering om die Hammanskraal-waterkrisis op te los.

“Om Action se skynheiligheid uit te wys: Hulle het krediet vir baie van hierdie prestasies opgeëis, en hul raadslede dien steeds in sleutelburgemeesterskomiteeposisies ondanks Mashaba se uitsprake.”

Die DA sê meer mense het die afgelope twee weke petisies teen ActionSA onderteken as wat in die algemene verkiesing van 2024 vir die party gestem het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top