DA en ActionSA wil nouer saamwerk om ANC in 2024 te verslaan

  • 0

Twee van die land se opposisiepartye wat mekaar gedurig aan die keel beet het, wil in die aanloop tot die 2024- algemene verkiesing hulle binnegevegte probeer tem en nouer saamwerk om die ANC tydens die volgende verkiesing uit die kussings te lig en ’n koalisieregering saam te stel.

Die leiers van die DA, wat die amptelike opposisie is en die grootste party naas die ANC en ActionSA, wat baie goed vertoon het tydens die laaste munisipale verkiesing, het verlede Vrydag in Johannesburg vergader om te kyk of hulle nie die kleinlike geskille tussen hulle in belang van die land uit die weg kan ruim nie.

Die twee partye se leiers, John Steenhuisen van die DA en Herman Mashaba van ActionSA, sê in ’n gesamentlike verklaring die partye stem saam dat dit nog nooit belangriker was as nou vir eendersdenkende politieke partye om saam te werk om Suid-Afrikaners van ’n lewensvatbare alternatief vir die ANC te voorsien nie.

Die partye het ’n verbintenis gemaak om vorentoe met ander eendersdenkende politieke partye saam te werk met die oog op 2024 om van die ANC ontslae te raak.

Die twee partye regeer reeds saam met ander kleiner partye in drie van die land se metro’s, naamlik Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni, maar vlieg mekaar gedurig in die hare.

Met steun vir die ANC wat afneem, hoop hulle om die geleentheid te benut en die opposisiepartye se steun te konsolideer sodat hulle die ANC in die volgende verkiesing kan ontsetel.

Tydens hulle vergadering in Johannesburg die afgelope Vrydag het hulle ook die afgelope jaar van plaaslikeregeringskoalisies bespreek en erken dat daar ’n behoefte is om vertroue te bou en munisipaliteite te stabiliseer.

Die twee partye het besluit op ’n proses om beter deurlopende samewerking te fasiliteer, terwyl hulle die behoefte erken om van tyd tot tyd sterk te verskil oor die soort oplossings wat nodig is om Suid-Afrika om te draai.

In KwaZulu-Natal het die DA ook reeds begin om ooreenkomste met die IVP aan te gaan in munisipaliteite waar samewerking daartoe kan bydra om die ANC uit te stem.

Intussen het ActionSA ook hulle “Ready for Action, SA?”-veldtog van stapel gestuur. Daarmee wil hulle ’n boodskap van hoop gee vir ’n inklusiewe en voorspoedige toekoms vir alle Suid-Afrikaners.

ActionSA sê in ’n verklaring  Suid-Afrika staar ’n krisis van etiese en bevoegde regering in die gesig. “Met beurtkrag op die rand van fase 7 is president Ramaphosa in ’n faksie-ANC-stryd om sy politieke toekoms gewikkel. Suid-Afrika is leierloos.”

“Wanneer buffels dreun, is dit die gras wat daaronder ly. Nou meer as ooit het Suid-Afrika ’n etiese en oplossingsgebaseerde alternatief vir die mislukte politieke establishment nodig. ActionSA staan ​​gereed om daardie alternatief te wees,” lui die party se verklaring.

Volgens ActionSA is hoop nie verlore vir Suid-Afrika nie. Maar die party sê dit is duidelik dat solank die ANC aan bewind is, Suid-Afrika nie sal floreer nie. In plaas daarvan om in hopeloosheid en wanhoop te verdrink, is dit nou die tyd om aksie te neem en ’n koers na ’n nuwe toekoms vir Suid-Afrika te bepaal, sê Mashaba.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top