DA en AfriForum neem regering moontlik hof toe oor toe strande

  • 0

Die hof gaan moontlik gevra word om te besluit of die regering rasioneel opgetree het deur alle strande in die Oos-Kaap en Tuinroete van middel Desember tot vroeg Januarie (16 Desember tot 3 Januarie) te sluit. Die DA en AfriForum het albei aangedui dat hulle die besluit in die hof gaan beveg, tensy die regering sy besluit heroorweeg.

Die DA sê die Wes-Kaap hou nie ’n groot bedreiging in vir die verspreiding van COVID-19 nie. Die party sê in ’n verklaring die provinsiale regering het reeds planne voorgelê waarmee hulle beoog om die invloei van toeriste te bestuur. Die sluiting van strande strook volgens die DA ook nie met die wetenskaplike advies van medici nie, terwyl dit voorts onmoontlik sal wees om dit af te dwing.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Woensdag ook aangekondig dat hulle die besluit in die hof gaan teenstaan. ’n Mosie is by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien om COVID-19 Regulasie 69(12)(a), (b), (c) en (d) ongrondwetlik te laat verklaar.

Hierdie regulasie bepaal, onder meer, dat alle strande in die Oos-Kaap, asook op die Tuinroete van middel Desember tot vroeg Januarie (16 Desember tot 3 Januarie) gesluit sal wees. Dit bepaal ook dat alle strande in KwaZulu-Natal op 25, 26 en 31 Desember, asook 1 tot 3 Januarie gesluit sal wees. Die strande in KwaZulu-Natal was ook op 16 Desember gesluit.

Volgens AfriForum kom die beperking van toegang tot strande, wat openbare eiendom is, neer op ’n beperking van ’n basiese mensereg. Ingevolge die Grondwet mag ’n basiese mensereg, soos die vryheid van beweging, slegs beperk word indien dit eerstens regverdigbaar is en tweedens deur algemeen geldende wetgewing ondersteun word.

AfriForum sê in ’n verklaring die regering kan dus nie verskillende reëls vir verskillende strande maak nie, aangesien dit nie regsbeginsels met algemene gelding is nie. Die burgerregte-organisasie stem wel saam dat massabyeenkomste op strande verbied moet word, aangesien daar tydens hierdie byeenkomste geen sosiale afstand gehandhaaf word nie.

Die DA sê in hulle verklaring die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die nasionale regering herhaaldelik meegedeel dat die besoeke aan strande nie ’n wesenlike gevaar vir die verspreiding van COVID-19 in die provinsie inhou nie.

Die provinsiale regering het verskeie maatreëls voorgestel om die verspreiding van die virus in brandpunte te beheer en sê hulle het die nodige voorsorgmaatreëls getref om die invloei van toeriste gedurende die feesseisoen op ’n verantwoordelike manier te hanteer.

Die DA sê die regering se jongste regulasies rakende strande sal die finale spyker in die doodskis wees van die Tuinroete se ekonomie langs die kus, wat reeds op ’n algehele ineenstorting afstuur.

“Dit was reg van die begin af baie duidelik dat die Wes-Kaap nie wou hê dat die strande gesluit moet word nie en dit was ook nie nodig nie. Die nasionale regering het die versoeke blatant geïgnoreer en misken die provinsie se vermoë om die situasie te hanteer ten koste van die lewens en lewensgoedere van die provinsie se kusbewoners,” sê die DA in hul verklaring.

Volgens Netwerk24 het die DA se versoekskrif aan die regering vir die oopstel van strande reeds meer as 4 000 handtekeninge ontvang. Netwerk24 berig ook dat president Cyril Ramaphosa het uitstel versoek mbt die DA se brief rakende die sluiting van sekere strande. Die DA het aanvanklik vir president Ramaphosa en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, tot gister 17:00 gegee om te reageer, berig Netwerk24. Hulle is meer tyd toegestaan, tot vanoggend 10:00.

AfriForum sê dit is ook ongrondwetlik en diskriminerend om sekere strande te sluit gegewe die geweldige ekonomiese impak wat dit veral op die kusdorpe gaan hê, wat reeds heeljaar baie swaargekry het weens die inperkingsregulasies.

“Die Desember-vakansie is ’n geleentheid om hul ekonomieë tot ’n mate te herstel en die sluit van strande gaan lei tot geweldige, onherstelbare skade vir die sakelui in hierdie dorpe,” sê Monique Taute, AfriForum se hoof van veldtogte.

“Om strande te besoek is ’n vorm van vermaak wat in die opelug plaasvind en mense blootstel aan die son, wat bydra tot ’n gesonde immuunstelsel. Die alternatief is dat mense hulself tot plekke soos winkelsentrums en restaurante gaan wend, wat ’n baie hoër risiko vir die verspreiding van die virus inhou,” het Taute gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top