DA en regering bots skerp oor toe strande

  • 0

Die DA het Donderdag op twee fronte oorlog verklaar teen wat hulle beskou as die regering se drakoniese maatreëls om COVID-19 tydens die feesseisoen te beveg.

’n Dringende aansoek is by die Hooggeregshof in Kaapstad ingedien teen die nasionale regering se besluit om al die Tuinroete se strande in die Wes-Kaap gedurende die feesseisoen te sluit.

Dit volg nadat die regering versuim het om voor Donderdag om 10:00 redes vir die besluit te verskaf.

Die DA sê in ’n verklaring hulle het president Cyril Ramaphosa en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, se tydperk om redes vir hul besluit te verskaf op Ramaphosa se versoek van Woensdag tot Donderdag verleng, maar steeds geen antwoord gekry nie.

Die DA-leier, Johan Steenhuisen, sê hy hoop sy party se hofaansoek kan reeds Maandag aangehoor word en dat die hof ’n onmiddellike uitspraak sal lewer oor die “drakoniese” maatreël.

Luister hier na ’n stemsnit van Steenhuisen hieroor.

In ’n ander voorval het die DA die minister van polisie, Bheki Cele, by die parlement se etiekkomitee aangekla ná ’n relletjie tussen hom en die DA se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, JP Smith, in Kampsbaai. Cele, wat die Kaapse strande besoek het om te kyk of die COVID-19-regulasies nagekom word, het opdrag gegee dat ’n filmspan hul werksaamhede langs die strand staak.

Dit het in ’n woordewisseling tussen die minister en Smith ontaard. Volgens Cele was die filmspan se optrede in stryd met die COVID-19-regulasies en hy het die polisie opdrag gegee om toe te sien dat dit nie voortgaan nie.

Volgens die DA het die filmspan wel oor die nodige permitte beskik om hul werk te doen. Smith het aan Cele probeer verduidelik dat hulle optrede nie onwettig is nie en dat hulle permitte van die Kaapse Stadsraad het om hul werk te doen. Cele het hom egter kortgeknip en gesê die stadsraad kan nie die nasionale regulasies ignoreer nie.

Hy wou nie Smith se verduideliking aanvaar dat Kaapstad binne die wet opgetree het toe hulle die permitte aan die filmspan uitgereik het nie.

Die DA sê in ’n verklaring Cele het 16 polisiebeamptes aangesê om toe te sien dat die filmspan hul werk staak, ondanks die feit dat hulle permitte daarvoor gehad het, wat deur Stad Kaapstad uitgereik is.

Volgens die DA het Cele sy mag oorskry toe hy operasionele opdragte aan lede van die polisie gegee het.

Die DA sê in hul verklaring Cele verwar sy magte as minister met die mag van ’n nasionale polisiekommissaris. “Dit is wat gebeur wanneer daar onregmatig na politici as generaal verwys word. Die mense van Suid-Afrika is moeg vir Cele se cowboy-optrede voor die kameras.”  

Smith het op Facebook gesê Cele het in ’n japtrap 16 polisiebeamptes na die toneel gestuur, maar wanneer daar bendegeweld op die Kaapse Vlakte is, is daar geen polisie in sig nie.

Cele het die gedrag op Kaapse strande op sy beurt Donderdag as roekeloos bestempel. Die minister sê in ’n verklaring hy het met kommer kennis geneem van die “roekelose gedrag” deur sommige mense op die Kaapse strande en dat dit in stryd is met die regering se pogings om COVID-19 te beveg.

 “Die land se eerste versoeningsdag tydens vlak 1-inperking was minder besig as gewoonlik op die strande. Baie van diegene wat strand toe gekom het om te swem het maskers gedra en sosiale afstand gehandhaaf. Namate die dag gevorder het, het die getalle toegeneem en by sommige strande was daar ’n algehele gebrek aan die nodige gesondheidsprotokol,” het Cele gesê.

Hy sê hy sal sy waarnemings aan die nasionale koronabevelsraad oordra.

Die DA se volledige hofstukke kan hier gelees word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top