DA en VF Plus se leiers wil twisvlamme blus

  • 0

Die nasionale leiers van die DA en die Vryheidsfront Plus het water op die vuur probeer gooi in die twis tussen die twee partye wat besig is om op plaaslike vlak in veral die Wes-Kaap uit te kring.

Dit volg nadat verhoudings tussen die twee partye in sommige plaaslike besture waar hulle saam in koalisieregerings gedien het, so versuur het dat die VF+ saam met die ANC in die politieke bed gespring het om die DA uit die kussings te lig.

Nou het die leier van die DA, John Steenhuisen, en die VF+ se leier, Pieter Groenewald, self ingegryp om die broeiende twis tussen die twee partye in veral die Wes-Kaapse munisipaliteite by te lê.

Die jongste munisipaliteit waar die ooreenkoms tussen die DA en VF Plus verbrokkel het, is Langeberg. Dit was nadat die VF+ volgens die DA geheime samesprekings met die ANC gevoer het om van die DA-burgemeester ontslae te raak.

Dit volg kort op die hakke van ’n soortgelyke twis in Oudtshoorn, waar die VF+ ook saam met die ANC in die politieke bed gespring het om van die DA-burgemeester ontslae te raak.

Die partye se leiers sê dit sal nie ander koalisieooreenkomste raak nie, maar daar ontstaan ’n al groter wordende spanning tussen die twee partye op grondvlak as gevolg daarvan.

Die breuk tussen die twee partye het tot uitbarsting gekom toe die DA en VF+ koalisieooreenkoms in Oudtshoorn Munisipaliteit versplinter het nadat die VF+ saam met die ANC, Patriotic Alliance, Good Party en Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief gestem het vir ’n mosie van wantroue teen die DA-burgemeester, Chris Macpherson.

Skaars ’n week later het die twis ook in Langeberg se munisipaliteit tot uitbarsting gekom toe die koalisie tussen die DA en die VF+ in Langeberg ontbind is na ’n dispuut oor die begroting.

Die DA se Wes-Kaapse leier, Tertius Simmers, het Woensdag gesê dit is ’n wesenlike verbreking van die koalisieooreenkoms en het aansienlik bygedra tot die verbrokkeling van vertroue tussen die partye.

Vroeër het Corné Mulder van die VF+ in ’n verklaring uitgevaar teen die DA op Oudtshoorn omdat hulle nie bereid was om van die DA-burgemeester ontslae te raak nie. Dit het daartoe gelei dat die VF+ en die ANC toenadering by mekaar gesoek het en saamgespan het om die DA-burgemeester uit die kussings te lig en met ’n VF+-burgemeester te vervang.   

Mulder het in antwoord op vrae van die aanlyn koerant Daily Maverick nie ontken dat die VF+ “in een of ander stadium onlangs” deur die ANC genader is nie. Hy het egter gesê die VF+ was deursigtig met die DA oor die bedoeling van die ANC.

Hierdie toenadering tussen die ANC en die VF+ het egter die DA en VF+ se leiers genoop om nou self in te gryp.

Steenhuisen en Groenewald het Donderdag ’n gesamentlike verklaring uitgereik om die vlamme te probeer blus en keer dat nóg koalisies tussen die  twee partye in die Wes-Kaap in duie stort.

Die twee leiers sê hulle stem saam dat wankelrige plaaslike ANC koalisieverhoudings tot nadeel van die onderskeie gemeenskappe is en het ooreengekom dat koalisies waarvan die partye deel is, gestabiliseer moet word.

“Hierdie ooreenkoms behels ook onder meer dat die nasionale partyleier van die VF Plus, Pieter Groenewald, met die federale en die provinsiale leierskap van die DA sal vergader.”

Insette van plaaslike leierskap van geaffekteerde munisipaliteite sal ook ingesamel word om die oorsprong van die probleme te identifiseer en dit spoedig op te los.

Die partye sê hulle is daartoe verbind om te verseker dat koalisies in die Wes-Kaap en ander provinsies gestabiliseer word om gemeenskappe te dien en dienslewering sowel as goeie munisipale bestuur te verseker.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top