Die Demokratiese Alliansie (DA) het opnuut in ’n bekgeveg betrokke geraak met die Universiteit Stellenbosch (US) oor die gebruik van Afrikaans aan daardie universiteit.
Die party hou vol daar is agter geslote deure gekonkel om die gebruik van Afrikaans by sekere koshuise te verbied en beweer hulle het nuwe inligting om dit te bewys.
Die universiteit sê egter in reaksie op die DA se jongste beskuldigings sekere verklarings word uit verband gelees. “Die US bly verbind tot Afrikaans as onderrig- en kommunikasiemedium in ’n inklusiewe, veeltalige konteks”, en die US is een van die min instellings vir hoër onderwys in dié veeltalige, diverse land wat hierdie benadering volg.
Dit volg na bewerings deur die DA-parlementslid en die party se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber. Hy beweer in ’n verklaring hy het “nuwe bewyse” wat daarop dui dat die “bestuur” van die US “agter geslote deure” gesê het dat daar niks verkeerd daarmee is om Afrikaanse studente te verhoed om hul moedertaal in koshuise en op kampus te praat nie.
Die DA het deur middel van ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (algemeen bekend as PAIA) ’n kopie van ’n ondersoekverslag deur Deloitte bekom. Die verslag dui aan dat een van die universiteit se personeellede, Pieter Kloppers, op 9 Maart 2021 met die huiskomitee van Minerva vergader het nadat eerstejaarstudente gekla het dat hul verbied word om Afrikaans in die koshuis, in hul kamers en selfs op parkiebanke op kampus te praat.
Kloppers is egter nie deel van die US-bestuur nie en ook nie direkteur van studentesake soos wat in Schreiber se verklaring gesê word nie. Hy is direkteur: Sentrum vir Studentegemeenskappe en koördineerder van die universiteit se verwelkomingsprogram.
Volgens die Deloitte-verslag het Kloppers tydens hierdie vergadering glo gesê dat die huiskomitee “niks verkeerd doen” deur ’n beleid van slegs Engels af te dwing nie. Na aanleiding van hierdie erkenning was lede van die komitee na bewering hewig ontsteld dat die US-bestuur nie openlik hul steun aan die verbod op Afrikaans wou toesê nie “ten spyte daarvan dat hul [self] geglo het dat Minerva niks verkeerd doen nie”.
Op dieselfde dag is daar glo aan eerstejaars gesê dat daar ’n verwagting van die US is dat daar tydens die sogenaamde verwelkomingstydperk slegs Engels gepraat sou word.
Die US sê in sy reaksie hy neem kennis van die verklaring deur Schreiber en het reeds breedvoerig op die Deloitte-verslag gereageer, en het ook die volledige verslag met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gedeel.
’n Woordvoerder van die US het op navraag gesê die US sal dus nie in besonderhede reageer op die bewerings en punte wat Schreiber maak nie, behalwe dat verklarings uit verband geneem word en dat die Deloitte-verslag holisties en binne konteks gelees moet word.
“Wat vasgestel is in die onafhanklike ondersoek deur Deloitte en wat deel uitmaak van die volledige verslag en soos getuig voor die SAMRK-verhoor, is dat daar geen opdrag van die US was om die gebruik van Afrikaans te verbied nie, en koshuisleiers ook geen verbod op die gebruik van Afrikaans gedurende die verwelkomingsperiode in Maart uitgevaardig het nie.”
Ander bronne aan die US het ook aan Voertaal gesê die punt is eintlik dat die verslag waaruit Schreiber nou aanhaal, tot die dieselfde gevolgtrekking gekom het.
Die DA hou egter vol dat die US sekere getuienis en aanbevelings ignoreer wat volgens hulle daartoe bydra dat die US se beoogde nuwe taalbeleid onwettig en irrasioneel is omdat dit na bewering vergrype wat teen Afrikaanse studente gepleeg is, voortsit. Schreiber sê die DA berei tans onverpoosd voor op moontlike regsaksie “teen hierdie deursigtige plan van die US om Afrikaans tot uitsterwing te verdoem”.
Die SAMRK-ondersoek duur nog voort. Die US sê hulle sal wag totdat die ondersoek afgehandel is en die verslag en bevindings bekendgemaak word voordat hulle verder kommentaar lewer.