Die Demokratiese Alliansie (DA) wil hê die Verenigde Nasies (VN) moet ingryp in die taaltwis wat tans in Suid-Afrika woed oor die status van Afrikaans en ander inheemse tale wat nie as inheems erken word deur die regering nie.
Die DA het ’n klag by die VN se Organisasie vir Opvoedkunde, Wetenskap en Kultuur (Unesco) aanhangig gemaak teen die Suid-Afrikaanse regering en die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande.
Die DA versoek met die klag dat die VN ingryp om Nzimande en die regering te dwing om Afrikaans sowel as die Khoi-, San- en Namatale as volwaardige inheemse Suid-Afrikaanse tale te erken in die nuwe Taalbeleidsraamwerk vir Hoër Onderwys.
Die party is egter self uit sommige oorde onder skoot omdat al die party se webwerwe selfs in provinsies soos die Wes-Kaap, waar die meerderheid inwoners Afrikaans is, slegs in Engels is.
Die DA word ook kwalik geneem omdat die Wes-Kaap, waar die party aan bewind is, se Hansards slegs in Engels volledig beskikbaar is en nie in al drie die provinsie se amptelike tale, Afrikaans, Engels en Xhosa, nie. In die Vrystaat, daarenteen, waar die ANC aan bewind is, is die Hansard volgens Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus in al drie die provinsie se tale, naamlik Afrikaans, Engels en Sotho, beskikbaar.
Die DA se parlementslid wat die klag namens die DA by die VN ingedien het, Leon Schreiber, het nie reageer op Voertaal se navrae rakende die DA se eie interne taalbeleid nie.
Schreiber sê in ’n verklaring die party glo dat die “haatlike klassifisering” van Afrikaans en die Khoi-, San- en Namatale as “uitheems” al die waardes van die Universele Verklaring van Menseregte teengaan.
Die artikels waarna hy verwys, stipuleer dat almal die reg op opvoeding het, dat hoër onderwys vir almal beskikbaar moet wees op grond van meriete, dat onderrig gebruik moet word om “begrip, verdraagsaamheid en vriendskap tussen alle nasies, rasse of etniese groepe [te] bevorder” en dat almal die reg het om vrylik aan die kultuurlewe van hul gemeenskap deel te neem.
Schreiber sê volgens Unesco se klagteprosedure moet die Suid-Afrikaanse regering binne drie maande reageer op die DA se klag dat Nzimande se klassifisering van hierdie tale as “uitheems” artikels 26 en 27 van die Universele Verklaring van Menseregte verbreek.
“Die DA glo dat die doel van die Taalbeleidsraamwerk behoort te wees om ‘inheemse tale as tale van die akademie, onderrig, leer en kommunikasie aan Suid-Afrikaanse universiteite’ te ontwikkel en te versterk. Die uitsluiting van sekere tale uit die definisie van ‘inheemse tale’ beteken dus dat hierdie tale uitgesluit word uit die beleid se pogings om Suid-Afrikaanse tale te ontwikkel en versterk.”
Volgens die DA sal die regering se Taalbeleidsraamwerk daartoe lei dat die regering minder hulpbronne beskikbaar sal stel aan tale wat hulle as “uitheems” beskou.
“Daardeur sal die sprekers van Afrikaans sowel as die Khoi-, San- en Namatale ontneem word van die hulpbronne wat hul benodig om die kulturele lewe van hul gemeenskappe te onderhou – in direkte teenstelling met artikel 27 van die Universele Verklaring van Menseregte.”
Die DA sê hulle is genoop om hierdie klag te lê nadat dit duidelik geword het dat die regering weier om hierdie wanklassifisering reg te stel.
Schreiber sê die DA het reeds drie maal aan Nzimande geskryf met die versoek om die definisie reg te stel. “Ons het ook ’n klag by die Menseregtekommissie ingedien, ’n openbare petisie oorhandig en aan president Cyril Ramaphosa daaroor geskryf. Die regering het gekies om hierdie pleidooie te ignoreer – wat ons met geen ander keuse laat as om die internasionale gemeenskap te nader om hulp nie.”
Die nuwe Taalbeleidsraamwerk tree in Januarie 2022 in werking, en die DA sê hulle hoop dat die internasionale gemeenskap hulle sal help om die regering te dwing om voor daardie datum Afrikaans sowel as die Khoi-, San- en Namatale as volwaardige inheemse tale te erken wat ook geregtig is op ondersteuning en erkenning.