DA lê klag teen Mashatile en Creecy by Openbare beskermer

  • 0

Die Demokratiese Alliansie (DA) het amptelik ’n klag by die openbare beskermer ingedien teen adjunkpresident Paul Mashatile en die minister van openbare ondernemings, Barbara Creecy. Dit volg na bewerings van politieke inmenging in die aanstelling van ’n nuwe uitvoerende hoof vir die Suid-Afrikaans Lugdiens (SAL)

Volgens berigte beplan Creecy om John Lamola, die swakste kandidaat, vir die genoemde posisie aan te beveel. Dit is ten spyte daarvan dat die SAL-raad Allan Kilavuka vir die pos aanbeveel het. Kilavuka is die hoogste gekwalifiseer, en het die meeste ervaring, as huidige uitvoerende hoof van Kenya Airways.

Die DA sê hulle beskou hierdie ingryping as ’n skreiende voorbeeld van die ANC se voortdurende praktyk van kaderontplooiing, wat die DA al herhaaldelik veroordeel het. Mense word op politieke gronde aangestel, terwyl dit institusionele integriteit vernietig, sê die DA se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp, in ’n verklaring.

Soos uiteengesit in hoofregter Raymond Zondo se staatskapingsverslag, is ANC-kaderontplooiing beide onwettig en ongrondwetlik.

“Ons sal nie toelaat dat die ANC hul politieke kaderontplooiing verder toepas ten koste van Suid-Afrika se staatsinstellings en die publiek se vertroue nie,” het Aucamp in die verklaring beklemtoon. Die DA se aksies onderstreep hul verbintenis daartoe om deursigtigheid en verantwoording in die openbare sektor te bevorder, te midde van wat hulle beskryf as ’n voortdurende stryd teen politieke inmenging.

Rise Mzansi het die portefeuljekomitee oor vervoer ook gevra om ’n verdoemende berig op News24 te ondersoek waarin beweer word dat Mashatile, Creecy en die ANC onbehoorlik ingemeng het met die kortlys vir ’n uitvoerende hoof van die SAL en dat daar onbehoorlike politieke inmenging is.

Volgens die News24-berig het ’n bron met direkte kennis van die interaksies tussen die SAL-voorsitter, Derek Hanekom, en minister Creecy onthul dat Creecy vir Hanekom op 27 Oktober gebel het. Sy het hom glo versoek om die raad se aanbeveling, wat in ’n brief op 18 September aan haar oorgedra is, te wysig. Hanekom het toe ’n spesiale raadsvergadering belê, maar die raad het Creecy se versoek verwerp. Beide Creecy en Hanekom het egter enige bewerings van politieke druk ontken.

Die party se hooforganiseerder, Makashule Gana, sê hulle hoop om duidelikheid van die Minister te kry oor die keuringsproses.

Hy sê dit sal baie belangrik wees vir die aandeelhouersverteenwoordiger, wat die minister van vervoer is, om nie net die portefeuljekomitee nie, maar alle Suid-Afrikaners in haar vertroue te neem oor die proses van die aanstelling van die permanente uitvoerende hoof. “Want ons kan nie teruggaan na die era van beduidende inmenging in die aanstellingsproses van die permanente uitvoerende hoof van die SAL en ander entiteite binne die Departement van Vervoer nie.”

Die DA het ernstige kommer uitgespreek oor die besluit om Kilavuka en Philip Saunders, die kandidaat met die hoogste punte in onafhanklike bevoegdheidstoetse, te ignoreer ten gunste van Lamola, wat die laagste gegradeer is.

Daar is ook bespiegelinge dat Mashatile en Creecy privaat onderhoude gevoer het met sekere kandidate by die adjunkpresident se amptelike woning, buite die formele keuringsproses. Die DA sien hierdie beweerde optrede as ’n poging om die aanstellingsproses te manipuleer ten gunste van ’n polities gekoppelde kandidaat.

Hierdie gebeure wek kommer dat Hanekom moontlik in belang van die ANC eerder as die onafhanklikheid van die SAL-raad opgetree het. Die DA sê dat hulle daarom ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) indien om die notules van die vergadering te bekom.

In ’n dringende beroep het die DA die kabinet versoek om enige aanbeveling om John Lamola as SAL se uitvoerende hoof aan te stel, te verwerp wanneer dit vandag (Donderdag) aan hulle voorgelê word.

“Ons sal nie toelaat dat die ANC sy politieke patronaatstelsel verder verstewig tot nadeel van staatsinstellings en die publiek se vertroue nie,” het Willie Aucamp gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top