DA loop nóg ’n bloutjie teen veglustige De Lille

  • 0

 

Bron: https://twitter.com/PatriciaDeLille

Die Demokratiese Alliansie (DA) het nóg ’n bloutjie in die hof geloop in hul poging om van Kaapstad se burgemeester Patricia de Lille ontslae te raak.

Die hooggeregshof in Kaapstad het uitspraak ten gunste van De Lille gelewer in haar aansoek om die DA se besluit om haar lidmaatskap te beëindig, te hersien en ter syde te stel.

Regter André la Grange het namens ’n volbank regters met koste teen die DA beslis. Hy sê die hof het bevind dat die regsliggaam binne die DA wat haar lidmaatskap beëindig het, nie behoorlik saamgestel was nie.

’n Volbank regters het bevind De Lille het nie genoeg tyd gehad om haar saak te stel nie en dat die DA se federale regskommissie onwettig opgetree het volgens die party se eie grondwet omdat dié kommissie, die onderafdeling van die DA-struktuur wat die besluit geneem het om De Lille te skors, nie behoorlik saamgestel was nie.

De Lille het die uitspraak verwelkom en sê politieke partye moet uit die uitspraak leer en hul lede met respek hanteer. Sy het haar ondersteuners op Twitter bedank vir hul ondersteuning en sê die oorwinning is nie net hare nie maar die hele Kaapstad s’n.

“Ek is meer as ooit vol energie om aan te hou veg om verandering te help bewerkstellig aan die lewens van die stad Kaapstad se gemarginaliseerde mense,” het De Lille op Twitter geskryf met ’n foto van haar daarby waarin sy breed glimlag na die hofuitspraak.

Sy sê dit was ’n belofte van haar in 2016 om die gemarginaliseerdes se lot te help verbeter en die hof het haar nou bygestaan om voort te gaan met haar voorneme om haar belofte te vervul.

Die DA het intussen aangedui dat hy appèl gaan aanteken teen die uitspraak.

Die morsige binnegevegte in die DA om van De Lille ontslae te raak het nou al verskeie kere in die hof gedraai en elke keer moes die DA op hul neuse kyk.

In ’n persverklaring wat kort na die hofuitspraak deur die DA uitgereik is, was dit duidelik die party het nou éérs sy mes in vir Kaapstad se beleërde burgemeester en gaan die hofuitspraak nie sito-sito aanvaar nie.

Die adjunk-voorsitter van die DA se Federale Raad, Natasha Mazzone, het haar met oud-president Jacob Zuma vergelyk wat ook vasgeskop het toe die ANC van hom wou ontslae raak.

In die persverklaring beskuldig hulle haar daarvan dat sy die mense van Kaapstad op ’n oneerbare wyse verraai het as gevolg van wanbestuur en die versuim om haar pligte behoorlik uit te voer. Mazzone sê in die persverklaring De Lille het in ’n tipiese Jacob Zuma-styl die belastingbetaler se geld gebruik om ’n hofsaak te maak oor iets wat tussen haar en haar party is.

De Lille se ondersteuners het nie laat wag om op sosiale media van hulle te laat hoor nie en het die DA behoorlik geroskam. Hulle wil weet waarom haar party nie die klagtes teen haar behoorlik uitspel nie.

“Terug werk toe! Vrygrond, Bo-Kaap, Woodstock, Blikkiesdorp, Distrik Ses, Mitchell's Plain en so baie ander inwoners van Kaapstad het jou nodig,” het een van haar ondersteuners getwiet.

Haar opponente het teruggekap op sosiale media. Hulle hou vol dat sy in die pad gesteek moet word. “Jy klou net-net aan mag en moet nou antwoord op die beskuldigings teen jou noudat die tegniese kwessies afgehandel is,” het een van haar teenstanders getwiet.

De Lille se oorwinning in die hooggeregshof teen haar party beteken die 12-maande lange stryd in die DA om van haar ontslae te raak is nog lank nie verby nie. Kaapstad se kiesers kan hulle gereed maak vir nog heelwat vuil wasgoed en morsige politieke bekgevegte oor en weer in DA-geledere in die aanloop tot volgende jaar se algemene verkiesing wat die party duur te staan kan kom by die stembus.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top