Die DA het hulle eerste bloutjie geloop in die aanloop tot die munisipale verkiesing op 1 November. Die Konstitusionele Hof het Maandag hulle aansoek van die hand gewys dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se heropening van die registrasieproses van kandidate tersyde gestel moet word.
Die hof het bevind dat die OVK se besluit om die nominasieproses vir kandidate wat aan die komende munisipale verkiesing wil deelneem te heropen, nie ongrondwetlik, onwettig en ongeldig was soos wat die DA betoog het nie.
(1/2) Judgment: The Constitutional Court held that the decision of the Electoral Commission to re-open the candidate nomination process for the 2021 municipal elections, in terms of this Court’s order issued on 3 September 2021, is not unconstitutional, unlawful and invalid.
— Constitutional Court (@ConCourtSA) September 20, 2021
Volgens die DA was die OVK se besluit onwettig en strydig met ’n vorige hofbevel waarin die OVK se aansoek om die plaaslike verkiesing tot volgende jaar in Februarie uit te stel as gevolg van die COVID-19-pandemie, afgekeur is.
Die OVK se besluit om die registrasieproses van kandidate te heropen sal na verwagting onder andere die ANC bevoordeel, omdat hulle weer ’n geleentheid het om kandidate te nomineer nadat hulle die vorige spertyd nie gehaal het nie. Dit sou beteken het dat die ANC in talle wyke nie kandidate kon stel nie en in sekere munisipaliteite selfs die bewind kon verloor het.
Die OVK het in hulle vertoë by die hof aangevoer dat daar niks fout is met hulle besluit om aan politieke partye ’n tweede kans te gee om vir die verkiesing op 1 November te registreer nie.
Volgens die OVK wou die DA hê die hof moet die verkiesingsproses mikrobestuur en het gesê dit is nie die hof se taak nie.
Die registrasieproses van kandidate het intussen tot ’n yslike bekgeveg tussen die DA en die Vryheidsfront Plus aanleiding gegee. Die twee partye ding sterk mee om die steun van die land se blanke kiesers te wen. Die DA het in die jongste verlede landwyd steun onder blanke kiesers aan die Vryheidsfront Plus afgestaan. Verskeie politieke ontleders meen dat hierdie tendens in die komende verkiesing kan voortduur en dat veral plattelandse wit kiesers wat in die verlede vir die DA gestem het, dié keer dalk vir die Vryheidsfront Plus kan stem.
Die Vryheidsfront Plus was, nes die ANC, ten gunste daarvan dat die registrasieproses vir kandidate heropen moes word. Die party sê dit is hoe die regsproses werk en dat die Grondwet duidelik is daaroor.
Die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, die DA-parlementslid Leon Schreiber, het dit egter as ’n geleentheid gesien om die Vryheidsfront Plus in dieselfde kamp as die ANC te jaag omdat die twee partye dit eens is oor die saak.
Schreiber het verlede week op Twitter teen die Vryheidsfront Plus uitgevaar. Hy beskuldig hulle daarvan dat hulle nou ’n ANC-front is. “Waarom het die VF Plus die ANC se kant gekies? Die plakkate skreeu ‘staan op’, maar dan bly hulle gemaklik sit terwyl die DA alleen opstaan teen die ANC,” het Schreiber getwiet.
Hy het sy aanval op die Vryheidsfront Plus Maandag op Twitter voortgesit. Volgens hom is dit skokkend dat partye soos die Vryheidsfront Plus so “desperaat” is om die DA te verhoed om beheer te neem van munisipaliteite dat hulle die ANC gehelp het om by die agterdeur in te glip. “Hulle is soos jakkalse wat na die DA se hakskene hap terwyl ons die ANC inhaal,” het hy voortborduur.
Werklik skokkend dat partye soos die VF so desperaat is om die DA te verhoed om beheer te neem van munisipaliteite dat hul die ANC gehelp het om by die agterdeur in te glip. Hul is soos jakkalse wat na die DA se hakskene hap terwyl ons die ANC inhaal. https://t.co/RJjteDTuv9
— Leon Schreiber (@Leon_Schreib) September 20, 2021
Schreiber het ook teen die ander partye uitgevaar wat nie die DA se aansoek gesteun het nie en hulle daarvan beskuldig dat hulle ook ANC-fronte is. “Die ANC bedank die VF Plus, ACDP en Good vir hul ‘ondersteuning’ in die suksesvolle poging om kandidatelyste te heropen, wat die ANC direk bevoordeel. Hierdie ANC-fronte kry dus wat hul wou hê: Die ANC glip by die agterdeur in en verswak die opposisie in dosyne munisipaliteite,” het hy in ’n afsonderlike twiet van hom laat hoor.
Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus het Sondag aan Rapport gesê Schreiber verkondig halwe waarhede en dat dit erger is as ’n blatante leuen.