DA ruk op na Lesufi se kantoor om oor onderwyswet te betoog

  • 0

Die regering se voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) het Dinsdag weer onder skoot gekom toe die DA daarteen betoog het by die kantore van die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi.

Die wetsontwerp stel veranderinge aan die Suid-Afrikaanse skolewet voor. Dit fokus op verskeie kwessies, insluitend die taalbeleid by skole, tuisonderrig en die gebruik van alkohol op skoolterreine.

Die DA sê indien hierdie wetsontwerp deurgevoer word, gee die nasionale departement, gelei deur Angie Motshekga, aan kaders soos Lesufi ’n “gelaaide wapen om die vendetta teen beheerliggame en moedertaalonderrig te volbring”.

Die wysigings sal die departement onder meer die mag gee om ’n skool se taalbeleid en kurrikulum te bepaal, asook om regulasies in te stel oor lyfstraf en inisiasiepraktyke. Die DA se woordvoerder, Khume Ramulifho, sê die wetsontwerp sal die land se 11 amptelike tale onderdruk en die magte van skoolbeheerrade wegneem.

Volgens die DA poog Die wetsontwerp, en veral die sogenaamde Lesufi-klousules, om skoolbeheerliggame te ontmagtig deur hul mag te verwyder om hul skole se taal- en toelatingsbeleide te bepaal.

Die DA doen ’n beroep op alle besorgde ouers en gemeenskappe om hulle teen die wetsontwerp te verset.

Die party sê in ’n verklaring dit slaag ook nie daarin om die effektiewe regulering van gemengde en aanlyn leer aan te spreek nie. Volgens die DA versuim die wetsontwerp om behoorlik te handel met tuisonderrig en om aanspreeklikheidsmaatreëls te bepaal om kwaliteitonderwys te verseker. Dit neem ook nie die finansiële impak van menslike hulpbronne en infrastruktuur van verpligte graad R-onderwys in ag nie.

Lesufi se woordvoerder, Steve Mabona, sê die DA se verklaring dat die wetsontwerp ’n aanval is op Afrikaans en moedertaalonderrig, is vals. Hy sê die wetsontwerp poog om wetgewing in ooreenstemming te bring met deurlopende ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap.

Die DA het ’n memorandum aan Lesufi se kantoor oorhandig waarin hul eise uiteengesit word.

Die DA eis onder andere dat Lesufi sy steun vir die BELA-wetsontwerp in die openbaar moet terugtrek.

Hulle wil ook hĂŞ Lesufi moet druk uitoefen op die Departement van Basiese Onderwys, en die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, om die wetsontwerp aan die parlement te onttrek.

Hulle eis ook verskeie ander openbare verskonings van Lesufi. Hulle wil hê hy moet  in die openbaar om verskoning vra vir sy “aanval op enkelmedium- en moedertaalonderrig en ook om verskoning vra vir sy aanval op Afrikaans as taal, wat deur 77% van die bruin bevolking as eerste taal gepraat word”.

“Lesufi moet demokratiese prosesse erken en die stemme hoor van miljoene Suid-Afrikaners wat gekant is teen hierdie wetsontwerp”, eis die DA.

Die DA sê hulle sal alles in hul vermoë doen om te verseker dat kinders bemagtig word. “Alle kinders verdien kwaliteitonderwys. Dit is tyd dat Lesufi, minister Motshekga en haar departement daarop fokus om die ernstige bekommernisse wat die basiese onderwyssektor teister, aan te spreek in plaas daarvan om mag te probeer sentraliseer en skole en skoolbeheerliggame te boelie wat die beste vir hul kinders en gemeenskappe wil hê.”

Ander kwessies wat volgens die DA se eise aangespreek moet word, is die hoë uitvalsyfer van leerders by skole, die vervalle infrastruktuur wat te veel modder- en asbesgeboue en puttoilette insluit en swak onderrig as gevolg van die vakbonde se wurggreep.

Die DA het ’n beroep gedoen op die publiek om teen laatstens 15 Augustus 2022 om 16:00hul bekommernisse skriftelik aan Llewellyn Brown, die sekretaris van die parlementêre portefeuljekomitee, te stuur: via e-pos na belabill02@parliament.gov.za of aanlyn by https://forms.gle/MoC6AdbdQyYPk3Y49 of via WhatsApp: +27 60 550 9848.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top