Altesaam 19 burgerlike organisasies beskuldig die regering in ’n gesamentlike verklaring daarvan dat daar landswyd ’n berekende aanval is op Afrikaanse onderwys en Afrikaanssprekendes as taalgemeenskap.
Die organisasies sê in hulle verklaring, wat die naweek bekendgemaak is, sekere van die voorgenome wysigings van die Skolewet is ’n verdere uitvloeisel van die kaping van Afrikaanse onderwys.
Dit ondermyn volgens hulle die betrokkenheid en vrygewigheid van Afrikaanse skoolgemeenskappe landswyd. Afrikaanse gemeenskappe se regstreekse seggenskap om hulle gemeenskappe deur onderwys te verbeter word glo deur die staat weggeneem as die wysigings in die Skolewet deurgevoer word.
Die DA verwelkom die mobilisering van burgerlike organisasies teen wat hulle bestempel as die “drakoniese” Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (BELA).
The DA opposes the problematic aspects of the BELA Bill and the ‘Lesufi clauses’ that will remove school governing bodies’ power to decide language and admissions policies.
The DA will fight the BELA Bill and continue to oppose it in Parliament.https://t.co/vtHzJwUVM7
— Democratic Alliance (@Our_DA) June 6, 2022
Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Bax Nodada, sê in ’n verklaring, wat Maandag uitgereik is die voorgestelde wetsontwerp wil poog om die ANC-regering se oorlog op Afrikaans af te dwing sonder om die verrykende gevolge van gehalte-onderrig in ander inheemse tale in ag te neem.
Die DA het onderneem om die stem in die parlement te wees wat die BELA-wetgewing sal teenstaan.
Die 19 organisasies sê in hulle verklaring hierdie wetsontwerp spruit uit ’n oppervlakkige beskouing van taal en is daarop gerig om die identiteit van Afrikaanssprekendes te misken en om deur onderwys die taaldiverse aard van die land teen te werk deur ’n Engelse hegemonie af te dwing.
“Die volgehoue verdagmaking van Afrikaanse onderwys veronderstel ook dat Afrikaanssprekendes onwaardige burgers is wat nie hulle taal in openbare onderwysinstellings mag laat voortleef nie.”
Organisasies wat die verklaring onderteken het, sluit onder andere in Solidariteit, die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), DAK Netwerk, die Afrikaanse Taalraad en Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).
Die 19 burgerlike organisasies het aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, ’n brief geskryf om al die problematiese klousules van die BELA-wetsontwerp uit te lig.
Volgens die DA sal die Gautengse LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, “en sy ANC-makkers se irrasionele haat vir Afrikaans en alle sprekers van die taal” nie net die sprekers van Afrikaans benadeel nie, maar ook moedertaalonderrig in alle inheemse tale en kwaliteitonderwys in die geheel.
“Die BELA-wetsontwerp is ’n sprekende voorbeeld van die ANC-regering wat ideologie bo die welstand van die mense stel wat hulle moet dien. As nasionale regering is hulle veronderstel om al die burgers van Suid-Afrika te dien, ongeag die taal wat hulle praat,” sê die DA.
Die 19 organisasies wys in hulle verklaring en brief aan die minister daarop dat Afrikaans die derde mees gesproke taal in die land is met meer as sewe miljoen moedertaalsprekers, van wie die meeste uit die bruin gemeenskap kom.
“Dit gaan huidige Afrikaanssprekendes deur burokratiese en ideologiese besluite van hulle grondwetlike reg op die onderrigtaal van hulle keuse ontneem. Dit sal ook ’n onherstelbare en permanente verbreking van die grondwetlike skikking deur die regering in 1994 daarstel,” lui die verklaring.
Volgens die ondertekenaars is daar onderliggend aan sekere BELA-bepalings ’n valse voorstelling dat Afrikaanse onderwys ’n versperring vir toegang tot onderwys in die land is.
Hulle sê indien BELA sou slaag, dit as ’n eensydige verbreking deur die regering van die grondwetlike skikking van 1994 geag sal word, en dat die vertrouensbreuk tussen die Afrikaanse taalgemeenskap en die regering onherstelbaar en permanent sal wees.
“Met die grondwetlike skikking in 1994 is die belofte gemaak dat taal en kultuur in die nuwe bedeling beskerm sal word. Dit sou insluit verdraagsaamheid en ruimte vir die behoud en ontwikkeling van Afrikaans en ander inheemse tale. Die behoud van Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal is in die skikking as ’n bate voorgehou, saam met die ontwikkeling van ander inheemse tale. Dit is ook verskans in artikel 6 van die Grondwet.”
Die DA doen ’n beroep op die publiek om hul bekommernisse skriftelik te rig aan Llewellyn Brown, die sekretaris van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys. Hulle kan dit e-pos na belabill02@parliament.gov.za, aanlyn indien by https://forms.gle/MoC6AdbdQyYPk3Y49, of via WhatsApp stuur aan +27 60 550 9848. Alle skrywes moet teen 15 Junie 2022 om 16:00 ingedien wees.
- Die volledige verklaring en al die ondertekenaars se name kan hier gelees word.