DA skarrel oor taal en twiets

  • 0

Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het Afrikaanssprekendes van uiteenlopende politieke oortuigings behoorlik die harnas in met sy onlangse uitspraak dat dit sy verstand te bowe gaan dat daar nog baklei word vir Afrikaans as taal van onderrig.

Panyaza Lesufi (Foto: YouTube)

Die voorsitter van Solidariteit, Flip Buys, het op Twitter gesê hy weet nie waarom die mense so negatief oor Lesufi is nie. “Hy’t reggekry wat Verwoerd, PW Botha, Andries Treurnicht en FW de Klerk nie kon vermag nie. Hy’t Afrikaners eendragtig laat saamstaan. Panyaza Lesufi, die stiefpa van Afrikaner-eenheid. Oorle lord Milner kon dit laas regkry.”

Lesufi het die wind van verskeie ander oorde ook van voor gekry nadat hy op ’n mediakonferensie van die Gautengse Departement van Onderwys in Johannesburg gesê het mense wat op Afrikaanse onderrig aandring, kelder hulle kinders se toekoms omdat daar nie meer Afrikaanse universiteite in die land is nie.

Die voormalige Wes-Kaapse premier en DA-ystervrou, Helen Zille, wat al dikwels in die moeilikheid was oor haar omstrede twiets, het Buys se twiet oor Lesufi op haar muur gedeel. In ’n afsonderlike twiet het sy ’n dwarsklap na die DA gemik omdat hulle soos die graf geswyg het na Lesufi se twiet.

Helen Zille in 2011 (Foto: The Democratic Alliance [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Sy het op Twitter gesê sy sien die DA plaas ’n hele reeks twiets oor ’n hele verskeidenheid sake, maar kry geen amptelike DA-twiet oor hierdie kritieke saak rakende Afrikaans by skole nie. Is daar dalk ’n amptelike verklaring van die DA hieroor? wou sy weet.

Haar steelhou na haar partygenote volg terwyl sy weer midde-in ’n Twitter-geveg met haar party is omdat sy kort tevore oor die kwessie van swart bevoorregting getwiet het.

Dit was nadat die akteur Hlomla Dandala op Twitter oor wit bevoorregting getwiet het. Zille het daarop reageer en gesê hy verstaan duidelik nie swart bevoorregting nie. “Dit is om in staat te wees om ’n land te plunder en honderde miljarde te steel en herkies te word. As mense permanente armoede vir die massas wil hê, doen hulle dinge reg. #SwartBevoorregting”.

Dié twiet van Zille het ’n nuwe storm in haar partygeledere veroorsaak. Die DA dreig nou om “gepaste” stappe teen die voormalige DA-leier te neem. Die partyleier, Mmusi Maimane, wat daarvoor kwalik geneem word dat die DA so swak gevaar het in die afgelope verkiesing, het die afgelope week tydens ’n mediakonferensie laat blyk dat die party die saak nie daar gaan laat nie en daar teen Zille opgetree gaan word.

Dit lyk egter nie of sy slapelose nagte daaroor het nie. Aangesien sy geen pos meer in die DA beklee nie, is daar weinig wat hulle aan haar kan doen. Dit wil voorkom of Zille haar eintlik verkneukel in daardie feit. Sy het verskeie twiets op haar Twitterrekening gedeel waar mense die gek skeer met die DA, of die DA oor een of ander saak kwalik neem.

Een van die twiets wat sy gedeel het, was van Jonathan Witt wat meen die DA is besig om sy eie grafskrif te skryf deur vooraanstaande DA-lede voor stok te kry oor hulle menings, maar toegelaat het dat die party se jeugleier, Luyolo Mphithi, groot skade aanrig toe hy vroeër vanjaar ook op Twitter te kenne gegee het dat ’n graad 1-klas se kinders in Schweizer-Reneke volgens ras van mekaar geskei is en dat dit op die ongelykheid in ons samelewing dui.

Die onderwyseres wat by die saak betrokke was, is onder meer van rassisme beskuldig. Dit het tot ’n yslike storm aanleiding gegee voordat daar bevind is dat rassisme niks daarmee te doen gehad het nie.

Luyolo Mphithi (Foto: YouTube)

Mphithi, wat nou die DA in die parlement gaan verteenwoordig, het later verskoning gevra vir sy optrede, maar dit het die DA duisende stemme in die afgelope verkiesing gekos.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top