DA slaan bollemakiesie oor De Lille

  • 0

Kaapstad se beleërde burgemeester, Patricia de Lille, het nóg ’n aanslag op haar politieke loopbaan oorleef. Dit volg nadat die DA onverwags bollemakiesie geslaan en ’n mosie van wantroue wat Donderdag teen haar ingestel sou word, op die laaste nippertjie teruggetrek het.

Die DA het die afgelope maande elke toertjie in die boek probeer om van De Lille ontslae te raak, maar moes telkens met ’n rooi gesig toekyk hoe sy hulle troef.

Sy het reeds twee vorige mosies van wantroue wat deur haar eie party teen haar ingestel is in die stadsraad oorleef. Die DA moes ook in die hof op die neus kyk toe hulle ’n hofsaak met koste verloor het nadat hulle haar uit die party wou skors sonder om hulle eie grondwet na te kom.

Die vredesverdrag tussen De Lille en die party se leierskap kort voordat Donderdag se wantrouemosie teen haar ingestel sou word, het die verdeeldheid in die party net verder beklemtoon. Sommige DA-lede meen dit is net die stilte voor die eintlike storm.

Chaos het in die Kaapse metroraad uitgebreek toe raadslede ingelig is dat daar ’n ooreenkoms met De Lille bereik is en dat die wantrouemosie nie voortgaan nie. DA-raadslede het mekaar die hare ingevlieg en op mekaar geskreeu. Sommige DA-raadslede was woedend omdat hulle glo nie vooraf ingelig oor die ooreenkoms nie. Hulle sê die ooreenkoms sal nie die verdeeldheid in die DA besweer nie.

Uit die publiek se reaksie op sosiale media is dit duidelik dat die DA se bekgevegte onder mekaar die party duur te staan mag kom in volgende jaar se verkiesing. Baie mense het aangedui dat hulle nie weer vir die DA gaan stem nie, terwyl ander sê slegs die tyd sal leer vir wie hulle volgende keer gaan stem.

“En wie het gewen?” vra J van den Berg in een van die kommentare op Netwerk24 se kommentaarblad. “Niemand nie. Die DA sit met eier op hulle gesigte want wie gaan hulle ooit glo as hulle sê hulle sal nooit weer ’n mosie van wantroue indien nie. En de Lille het skade gely want mense sal haar nou met agterdog bejeën. Ek is nie so seker of die DA weer WP gaan inpalm nie. Tyd sal leer en gelukkig het kiesers lyk my baie kort geheue.”

“En so het hulle die DA reeds opgedonner en kosbare veldtogtyd en kiesers verloor in hulle onbenullige binnegevegte!!” het Cobus Dyssel van hom laat hoor.

Die besluit om die mosie van wantroue teen De Lille ter elfder ure te onttrek is Woensdagaand tydens ’n laataandvergadering tussen De Lille en senior DA-leiers geneem.

Die DA en De Lille het ook ooreengekom dat haar dissiplinêre verhoor so gou as moontlik sal plaasvind. De Lille het ook haar sin gekry dat die verhoor deur ’n onafhanklike senior aanklaer gelei sal word en dat die verhoor oop sal wees vir die media. Sy het nog altyd daarop aangedring dat die verhoor oop moet wees vir die media, maar die DA het dit voorheen verwerp en gesê dit is ’n interne partyaangeleentheid.

Die leier van die ANC in die Kaapse metroraad, Xolani Sotashe, sê hy is nie verbaas dat die DA die mosie teruggetrek het nie, want die party was nie seker dat dit sou slaag nie.

Die dissiplinêre verhoor sal volgende maand plaasvind en De Lille sê sy sien daarna uit om voor die paneel te verskyn en haar kant van die saak te stel.

De Lille het voor gister se raadsvergadering op Twitter gesê: “Wat moet wees, sal wees.” Sy hou ook voet by stuk dat die aantygings teen haar op ongetoetste bewerings sonder enige getuienis berus.

Buro: NB
  • 0
Top