Die DA stuur op ’n botsing af met die regering oor die manier waarop die COVID-19-entstofplan geïmplementeer gaan word.
President Cyril Ramaphosa en die DA-leier John Steenhuisen het Maandag albei na die belangrikheid verwys dat Suid-Afrikaners so vinnig as moontlik teen die virus ingeënt moet word.
Steenhuisen sê die DA berei hom voor op regsaksie teen die regering weens die regering se versuim om al die nodige inligting te verskaf ten opsigte van die verkryging en verspreiding van die entstowwe.
In die eerste van sy weeklikse nuusbriewe die jaar sê Ramaphosa die regering is besig met die implementering van ’n reuse-inentingsveldtog. “Namate meer en meer mense ingeënt word, sal ons lewens red en progressief begin om die risiko van infeksie deur die breë bevolking te beperk.”
From The Desk Of The President - Monday, 18 January 2021 - https://t.co/Rk39OiI5d6 The first two weeks of the year have been difficult for all South Africans. The coronavirus pandemic has gotten worse, with new infections increasing far faster and far higher than before. pic.twitter.com/D3nDZYg7L3
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) January 18, 2021
Ramaphosa sê die verkryging van genoeg entstof so vinnig as moontlik en om seker te maak dat dit by soveel as moontlik mense wat dit nodig het, uitkom, gaan een van die grootste uitdagings wees in die komende jaar. Hy sê dit sal ’n groot uitdaging wees omdat elke land in die wêreld alles in hulle vermoë doen om die beperkte hoeveelheid entstof op te raap. Hy het die versekering gegee dat die regering hard aan die onderhandel is met al die tersaaklike instansies om dit moontlik te maak.
Die DA is egter nie daarvan oortuig dat die regering genoeg doen om die proses te bespoedig nie.
In ’n brief wat Maandag deur die DA aan Ramaphosa gestuur is, sê die party die versuim om betyds een of meer COVID-19-entstowwe aan te skaf, terwyl die entstowwe reeds beskikbaar is, is ’n skending van die reg op lewe soos vervat in die Grondwet.
Verdere spanning is ook tussen die nasionale regering en die DA aan die oplaai omdat die DA-beheerde Wes-Kaap reeds planne beraam om self entstowwe in die hande te kry. Steenhuisen sê dit word nie gedoen om teen die nasionale regering te werk nie, maar die provinsie het ’n grondwetlike plig om sy inwoners te beskerm.
📹| WATCH
"In the Western Cape, the provincial government has already started to explore its own procurement process. Not because it wants to go against national government, but because it has a sworn constitutional duty to protect its citizens." - @jsteenhuisen #VaccineNow pic.twitter.com/ewbIWseXOf
— Democratic Alliance (@Our_DA) January 18, 2021
Die DA het in ’n verklaring ook sterk uitgevaar teen moontlike belastingverhogings om vir die COVID-19-inentingsprogramme te betaal. Die party sê enige belastingverhogings om daarvoor te betaal sal ’n klap in die gesig wees van hardwerkende Suid-Afrikaners. “Die voorstel is gevoelloos en toon ’n buitengewone onsensitiwiteit vir die finansiële krisis waardeur baie families tans gaan.”
Steenhuisen, het Maandag tydens ’n virtuele nuuskonferensie gesê sy party gaan ’n regsdokument aan Ramaphosa stuur waarin hy dringend versoek word om uitsluitsel te gee oor entstof teen die koronavirus. Die DA wil ’n volledige uiteensetting hê van die verkryging en beskikbaarstelling van die entstowwe. Ramaphosa is sewe dae tyd gegee om op die DA se navrae te reageer. Steenhuisen sê indien die President se antwoord ontoereikend is, regsoptrede teen die staat onafwendbaar is.
We cannot let government failure become the accepted norm in our country!
This why we are taking legal action to force national government to disclose all details pertaining to its vaccine rollout strategy, and abolish the centralisation of vaccine acquisition.#VaccineNow pic.twitter.com/2th2bZuj4l
— Democratic Alliance (@Our_DA) January 18, 2021
Volgens die DA beloop die totale koste vir die implementering van ’n landwye inentingveldtog hoogstens net meer as R15 miljard. Die party sê hierdie bedrag kan maklik deur die regering bekostig word indien hulle nie geld mors op projekte wat niks beteken nie. Enige vooruitsigte op belastingverhogings om daarvoor te betaal is volgens die DA ’n erkenning dat die regering nie verlede jaar die nodige beplanning gedoen het vir die noodsaaklike inentingsprogram nie.
Steenhuisen sê die voeteslepery van die regering met die verkryging van die entstof kan die land baie duur te staan kom. Om kudde-immuniteit te bereik moet 67 persent van die bevolking of ongeveer 40 miljoen mense ingeënt word, maar daar is steeds nie ’n enkele entstof in die land beskikbaar nie. Om die kudde-immuniteit teen die einde van die jaar moontlik te maak beteken dat sowat 115 000 mense per dag vir 347 dae ingeënt sal moet word.