DA vra buitelandse hulp teen plaasmoorde

  • 0

Die DA het hom nou, net soos AfriForum verlede jaar, tot die buiteland gewend om hulp teen plaasmoorde te probeer kry.

Die DA het aan tien voorste internasionale menseregte-agentskappe geskryf om hulle te vra om druk op die ANC-regering te plaas in die stryd teen plaasmoorde. Dit volg ná nog plaasaanvalle die afgelope naweek.

Die DA se skaduminister van veiligheid, Dianne Kohler-Barnard, sê in ’n verklaring boere, hul families en werkers word wreed aangeval, vermoor en geterroriseer in ’n doelbewuste poging om diegene wat die land van kos voorsien, van plase te verdryf.

Kohler-Barnard sê die situasie word toenemend gewelddadig en die tyd het aangebreek om internasionale hulp te vra. Amnestie Internasionaal en Human Rights Watch is onder die organisasies wat gekontak is.

Verlede jaar het Ernst Roets, Marina Wiese en Mariandra Heunis van AfriForum na die VSA gevlieg as deel van AfriForum se veldtog om bewustheid te skep vir plaasmoorde en grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika. Hulle het destyds gesê die veldtog is veral belangrik in die lig van president Cyril Ramaphosa se ontkennings van die realiteit van plaasmoorde en grondgrype tydens sy VSA-toer verlede jaar.

AfriForum het met navorsings- en media-instellings, politici en ander belangstellendes gesels gedurende hulle twee week lange bewusmakingstoer.

Die politieke kommentator en redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, het op Twitter gesê die DA volg nou in die voetspore van AfriForum om vir buitelandse ingryping ten opsigte van landelike veiligheid te vra. Du Preez sê die oplossing vir die gevaarlike verskynsel van plaasaanvalle kan slegs binnelands gevind word. Hy sê die DA is besig om VryheidsFront Minus te word met sy optrede.

Die DA sê in hulle verklaring die organisasies in die buiteland wat genader is, sal nie net gevra word om druk op die regering te plaas om teen plaasmoorde op te tree nie, maar ook dat navorsing gedoen word om te bepaal wat die motiewe agter die aanvalle is. “Die feit dat daar by meer as een geleentheid van hierdie gevalle min of niks gesteel word nie, terwyl die slagoffers wreed aangeval en vermoor word, dui op motiewe wat tot dusver nog nie verklaar kan word nie.”

Johan de Klerk het op Netwerk24 se kommentaarblad geskryf dit beteken die DA het nie die politieke kennis om die oorsaak van plaasmoorde uit te wys nie, en hoegenaamd geen idee hoe om dit te stop nie. Hy sê as hulle die regerende party was, sou hulle nie kon regeer nie, omdat hulle nie weet hoe nie, en buiteland toe moes hardloop vir hulp. 

Die organisasies aan wie die DA geskryf het om te help is:

  • Amnesty International
  • Human Rights Watch
  • Centre for Human Rights
  • Civil Rights Defenders
  • Human Rights Without Frontiers
  • African Commission on Human and People’s Rights
  • African Court on Human and People’s Rights
  • International Federation for Human Rights
  • Human Rights Foundation
  • Freedom House.

Die DA sê in hulle verklaring hierdie organisasies is geïdentifiseer omdat hulle wêreldwyd erken word as prinsipiële, professionele en onpartydige organisasies.

“Hierdie organisasies sal hopelik ’n sneeubal-effek hê om internasionale bewusmaking van die probleem te skep en druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen asook by binnelandse menseregte-organisasies om aandag te skenk aan die marteling, verkragting en moorde in die landelike gebiede.”

Volgens die DA is boere en plaaswerkers ’n strategiese nasionale bate en moet as sodanig ondersteun en beskerm word. “Aangesien dit duidelik is dat die ANC geen voornemens het om erns hiermee te maak nie, doen ons die ongewone stap om elkeen van hierdie internasionale organisasies om hulp te vra,” sê die DA in hulle verklaring.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top