DA weer in beheer van die Jakarandastad

  • 0

Die DA is voorlopig weer in beheer van die Jakarandastad nadat die party hom tot die hof gewend het omdat die Gautengse regering die Tshwane Metroraad vroeër vanjaar ontbind en onder administrasie geplaas het.

Die Appèlhof in Bloemfontein het Dinsdag ten gunste van die DA beslis oor die Gautengse regering se besluit om die Tshwane Metroraad te ontbind. Die Gautengse regering het agt maande gelede die raad ontbind en onder administrasie geplaas weens, onder meer, beweerde wanadministrasie.

Die DA het daarna in die hooggeregshof aansoek gedoen dat ’n hofbevel ingevolge waarvan die ontbinding van die Metroraad nietig verklaar is, onmiddellik in werking gestel word. Die Gautengse regering het appèl aangeteken teen die hooggeregshofbeslissing, maar die Appèlhof het die aansoek met koste van die hand gewys. Die DA het aangevoer dat die provinsiale regering se besluit onwettig was. Die Appèlhof se besluit was nié eenparig nie, met twee regters wat nie met die beslissing saamgestem het nie.

Die DA het die ANC met behulp van die EFF tydens die vorige munisipale verkiesing uit die kussings gelig in Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai. Die samewerking tussen die DA en sy koalisievennote, soos die EFF, het egter versuur.

Voor verlede jaar se algemene verkiesing is daar voelers tussen die DA en EFF uitgesteek oor koalisiemoontlikhede indien die ANC minder as 50% van die stemme in Gauteng sou kry. Die EFF het aangedring op die burgemeesterskap in Tshwane in ruil vir hulle samewerking om die beheer in Gauteng oor te neem indien die ANC nie ’n volstrekte meerderheid sou kry nie.

Die ANC het egter daarin geslaag om die beheer in Gauteng met ’n skrale volstrekte meerderheid te behou, wat die DA en EFF se koalisieplanne op provinsiale vlak in Gauteng in die wiele gery het.

In die munisipaliteite van Tshwane en Johannesburg het die DA koalisie slegs op die genade van die EFF regeer. Maar dit het intussen ook verbrokkel.

Malema se planne vir Tshwane en Johannesburg in die aanloop tot 2021 se munisipale verkiesing was dat sy party Tshwane se burgemeestersamp beklee en die DA se burgemeester, Herman Mashaba, sou as burgemeester van Johannesburg aanbly.

Die planne het egter deur die mat geval. Mashaba het intussen uit die DA bedank en Johannesburg is tans weer onder die ANC se beheer, terwyl daar in Tshwane ’n bloedige politieke stryd woed om die DA uit die kussings te lig.

Die DA het ná Dinsdag se hofsaak gesê hy vertrou dat alle raadslede in die Tshwane Metro teen Vrydag terug by die werk sal wees nadat die Appèlhof in Bloemfontein ten gunste van die DA beslis het in die saak oor die Gautengse regering se besluit om die Tshwane Metroraad te ontbind.

Indien die ANC en die EFF saamstaan om die DA in Tshwane finaal uit die kussings te lig, kan die DA se oorwinning vandeesweek in die hof waarskynlik van korte duur wees voordat hulle die beheer in Tshwane finaal verloor.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top