DA wil ’n stokkie voor ministers se buitensporige byvoordele steek

  • 0

Die DA het ’n privaatledewetsontwerp by die parlement ingedien wat die land se president sal verhoed om ministers met allerhande buitensporige byvoordele te beloon indien dit goedgekeur word.

Dit volg nadat die media onlangs berig het kabinetsministers in Suid-Afrika betaal nie munisipale tariewe, insluitend water en elektrisiteit nie, ondanks hul maandelikse R200 000-salaristjeks.

President Cyril Ramaphosa het glo die bestedingsperk van R5 000 per maand vir kabinetslede se munisipale tariewe geskrap, wat beteken dat hulle onbeperkte water en elektrisiteit kan gebruik sonder om dit uit hul salarisse te betaal.

Die veranderings het op 13 April 2022 in werking getree, met die ministeriële handboek wat nou bepaal dat “die Departement van Openbare Werke verantwoordelik sal wees vir die koste verbonde aan die voorsiening van water en elektrisiteit aan amptelike wonings”.

Ramaphosa het die toegewing teruggetrek na die openbare herrie wat daaroor losgebars het.

Die DA sê in ’n verklaring hulle privaatledewetsontwerp is daarop gemik om ’n einde bring aan die straffeloosheid waarmee die President belastingbetalers in die geheim kan dwing om vir bykomende byvoordele en voordele te betaal. Die wetsontwerp sal ’n nuwe artikel, 4A, in die bestaande Wet op Besoldiging van Openbare Ampsdraers 20 van 1998 instel sou dit aanvaar word.

Volgens die DA bestaan daar tans hoegenaamd geen wetlike raamwerk om die ministeriële handboek te beheer nie.

Hierdie gebrek aan ’n wetlike raamwerk is volgens die DA waarom Ramaphosa nie net in staat was om die grootte van ministeriële kantore massief uit te brei en ministers en adjunkministers van die betaling van water en elektrisiteit vry te stel nie, maar dit is ook hoekom hy dit in die geheim gedoen het met geen vereiste om eers die parlement oor hierdie veranderinge in te lig nie.

“Was dit nie vir die publiek wat agter die DA verenig en president Cyril Ramaphosa gedwing het om hierdie veranderinge terug te trek nie, sou belastingbetalers gedwing gewees het om elke jaar meer as R87 miljoen meer te betaal vir hierdie bykomende byvoordele sonder om eens daarvan te weet,” sê die DA in hulle verklaring.

Die DA se voorgestelde nuwe artikel in die wet sal die president dwing om eers behoorlik deurdagte aanbevelings van die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Openbare Ampsdraers te verkry, asook wat dit sal kos, voordat voordele of toelaes vir ministers en adjunkministers buite hul jaarlikse vergoedingspakkette ingestel word.

Die wetsontwerp sal ook hierdie byvoordele aan oorwegings van bekostigbaarheid onderwerp en vereis dat die president in ag neem watter voordele redelik kan wees gegewe die heersende ekonomiese situasie in die land. Verder sal die DA se Wetsontwerp op die Besnoeiing van die Kabinetvoordele vereis dat die president enige veranderinge aan die handboek binne 30 dae aan die Nasionale Vergadering rapporteer, tesame met sy redes vir die goedkeuring van die byvoordele en wat dit sou kos.

Die DA sê soos met alle ander presidensiële aksies wat belastingbetalers geld kos, moet besluite oor hierdie bykomende voordele op ’n rasionele en deursigtige wyse geneem word. Die party sê dit is onhoudbaar in ’n grondwetlike demokrasie dat die president diktatoriale magte het om geheime besluite te neem oor geld wat uit die sakke van belastingbetalers kom.

“Soos ons in ons oorlog teen kaderontplooiing gedoen het, vul die DA ons stryd teen individuele misbruik aan deur die sistemiese oorsake van hierdie korrupsie aan te pak. In die geval van die ministeriële handboek is die oorsaak die feit dat die President diktatoriale magte het om geheime veranderinge aan kabinetsvoordele aan te bring. Ons doen dus ’n beroep op lede van die publiek en alle politieke partye wat moeg is daarvoor om die prys vir ANC-korrupsie te betaal, om ons te help om kabinetsbyvoordele te sny deur die DA se wetsontwerp te ondersteun,” lui die DA se verklaring.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top