Byna die helfte van Suid-Afrika se drinkwater is nie geskik vir menslike gebruik nie en daar is ’n algehele toename in die land se aantal drinkwaterstelsels wat in ’n kritieke toestand is.
Miljarde liters swakbehandelde of onbehandelde riool, industriële en farmaseutiese afvalwater word boonop in riviere en oseane gestort. Altesaam 56% van die land se behandelingsaanlegte is in ’n swak of kritieke toestand.
Behalwe die afname in die land se drinkwatergehalte dui die Bloudruppelverslag van die Departement van Water en Sanitasie wat die afgelope week bekend gemaak is, op ’n agteruitgang in die prestasie van munisipale afvalwaterbehandelingstelsels.
Byna twee derdes van die land se afvalwaterbehandelingsfasiliteite stort gedeeltelik behandelde of rou riool in waterstelsels en die omgewing uit.
Met byna 50% van drinkwaterstelsels wat as “onveilig” geklassifiseer is, het die risiko van lewensgevaarlike siektes soos cholera en chroniese diarree skerp toegeneem.
Die DA sê in ’n verklaring dit is geen verrassing dat die Wêreldbank water geïdentifiseer het as een van die drie grootste risiko’s om in Suid-Afrika sake te doen nie.
Die DA-parlementslid Nicholas Myburgh, ook lid van die portefeuljekomitee oor water en sanitasie, sê die eskalerende water- en sanitasiekrisis, soos geïllustreer deur die jongste Bloudruppelverslag, is die direkte gevolg van swak bestuur, finansiële wanbestuur en wydverspreide korrupsie wat veroorsaak word deur die ANC se beleid van kaderontplooiing wat toegepas word in elke struktuur of entiteit waar hulle regeer.
Volgens die Bloudruppelverslag is daar fundamentele hervorming nodig om die afname in munisipale water- en sanitasiedienste onder beheer te kry en die situasie om te keer.
Die Bloudruppelverslag bevat ’n omvattende evaluering van die toestand van al 958 watervoorsieningstelsels (WSS’e) in elk van die 144 waterdienste-owerhede (WSA’s) in die land. Vir elke WSS word assesserings van die toestand van die infrastruktuur uitgevoer en vasgestel of: die vereiste instandhouding aan die infrastruktuur gedoen word; of die infrastruktuur korrek bedryf word; of die behoorlike behandelingsprosesse gevolg word; of behoorlike monitering en kontroles uitgevoer word; of die personeel oor die nodige vaardighede en kwalifikasies beskik.
Slegs 26 WSS’e het meer as 95% behaal en het vir die gesogte Bloudruppel-sertifisering gekwalifiseer. In 2014 het 44 WSS’e Bloudruppel-status ontvang. Dit dui op ’n algehele afname in uitnemendheid.
Van die 958 WSS’e is 277 (29%) in 62 munisipaliteite geleë wat in ’n kritieke toestand van prestasie verkeer. In 2014 is bevind dat 174 van die stelsels in 33 waterdienste-owerhede in ’n kritieke toestand was. Dit dui daarop dat daar ’n algehele toename in die aantal stelsels is wat in ’n kritieke toestand verkeer.
Noord-Kaap het die hoogste persentasie drinkwaterstelsels met swak of kritieke werkverrigting (87%). Dit het verswak van 48% in 2014. Die persentasie drinkwaterstelsels met swak of kritieke prestasie in Vrystaat het ook merkbaar verswak: van 2014 se 31% tot 2023 se 59%.
Drinkwaterstelsels in die groot metropolitaanse gebiede vaar oor die algemeen goed in terme van die Bloudruppel-sleutelprestasie-areas. Gauteng het die hoogste persentasie drinkwaterstelsels met uitstekende of goeie werkverrigting (62%), gevolg deur Wes-Kaap (50%). (Die watertoevoeronderbrekings wat die afgelope maande in Gauteng ervaar is, word volgens die verslag veroorsaak deur die vraag na behandelde water wat soms die beskikbare aanbod oorskry.)
Die DA sê in hulle reaksie die Bloudruppelverslag wat dié week vrygestel is, bevestig hulle ergste vrese oor die verwoestende gevolge van die ANC se beleid van kaderontplooiing. Die party sê dit is glashelder dat daar ’n massiewe mislukking in water- en sanitasiedienste in die meeste dele van Suid-Afrika waargeneem word.
“Die DA waarsku die regering al jare lank oor die vinnig verslegtende toestand van afvalwaterbehandelingsfasiliteite en watersuiweringsaanlegte regoor die land. Bedryfskenners, omgewingskundiges, gesondheidspraktisyns en ekonome het almal hul groeiende kommer uitgespreek oor die verwoestende uitwerking wat dit op die gesondheid en ekonomiese vooruitsigte van ons mense het, en die onomkeerbare skade wat dit aan die omgewing aanrig.”
Die party se woordvoerder sê net soos die regering reeds in 1998 gewaarsku is oor die dreigende elektrisiteitskrisis, so het die DA en vele ander die afgelope 10 jaar konsekwent by die regering gepleit om doeltreffende maatreëls te tref om ’n water- en sanitasiekrisis af te weer wat moontlik nog meer verwoestend is as die Eskom-ramp.