Inwoners van Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is deur die stadsvaders gewaarsku dat hulle drinkwater nie veilig is om te drink nie.
Die metro het inwoners derhalwe in ’n verklaring gevra om hulle water te kook voor hulle dit drink of daarmee kook.
The @NMandelaBaymuni would like to inform residents that the latest tests have shown a deterioration in our water quality.
The current drought facing the City, with the resultant low dam levels and fluctuating reservoir levels, is one of the major contributing factors. [tread]— Nelson Mandela Bay Municipality (@NMandelaBaymuni) February 22, 2022
Die metro, wat Gqeberha en die dorpe Uitenhage en Despatch kombineer, is die Oos-Kaap se grootste metro en die tuiste van twee hawens – Port Elizabeth-hawe en die diepseehawe Ngqura.
Die water is glo deur bakterieë besmet nadat spore van E coli – menslike of dierlike afval – in toetsmonsters ontdek is.
Die DA sê in ’n verklaring onmiddellike optrede is nodig omdat die munisipaliteit moontlik inwoners se gesondheid in gevaar stel met besmette watervoorsiening.
Die party het aan Nelson Mandelabaai se uitvoerende burgemeester, Eugene Johnson, geskryf om hulle kommer uit te spreek nadat die munisipaliteit uiteindelik erken het dat die Metro se watertoevoer nie veilig is vir menslike gebruik nie.
Dié erkenning het glo gevolg eers nadat die DA aangedring het op die resultate van toetse wat op die verkleurde en vuil water wat uit inwoners se krane vloei, gedoen is.
Die munisipaliteit sê sy jongste toetse het getoon dat die gehalte van die water agteruitgegaan het en dat sekere mikrobiologiese perke oorskry is. Johnson het inwoners verseker dat hulle dringend aandag aan die kwessie gee.
’n Woordvoerder van die stadsraad het volgens die koerant Herald Live gesê hulle is onseker waar die besmetting vandaan kom. “Dit kom dalk nie van mense af nie, dit kom dalk van diere.”
Die lae damvlakke en wisselende reservoirvlakke as gevolg van die huidige droogte wat die stad in die gesig staar, is moontlik een van die bydraende faktore.
Die jongste toetsresultate is in teenstelling met die munisipaliteit se versekerings tot dusver dat die stad se water veilig is om te drink.
Die munisipaliteit het inwoners verseker dat hy hierdie saak met die uiterste dringendheid en erns hanteer. ’n Dringende vergadering is reeds vir Woensdag 23 Februarie met die betrokke departemente belê om ’n omkeerplan te ontwikkel.
’n Verslag sal daarna uitgereik word wat planne sal uiteensit om seker te maak dat die water wat uit die NMBM-verspreidingstelsel kom, veilig is, sê die munisipaliteit in hulle verklaring.
Die munisipaliteit se erkenning dat die metro se watergehalte verswak het en dat “sekere mikrobiologiese perke oorskry is” het die stad se inwoners warm onder die kraag.
Woedende inwoners het hulle frustrasie Dinsdag op sosiale media uitgestort. Delia Groer het op Facebook geskryf toe die watervlakke baie laer was en hulle dae lank sonder water was, het hulle nie hierdie probleem gehad nie. “Kry ons die hele waarheid? Kom ons hoop hulle maak dit gou reg, want ons kan nie die heeltyd elektrisiteit gebruik om water te kook nie. Gaan hulle ons gratis elektrisiteit gee om dit te doen?” wou sy weet.
Volgens ’n berig wat verlede maand in Daily Maverick verskyn het is dit maar net die seekoei se oortjies wat uitsteek en gaan klimaatsverandering die gebied se waterprobleem in die toekoms aansienlik vererger.
Die koerant haal Andrew Muir, die skrywer van ’n nuwe scenario oor die impak van klimaatsverandering in Nelson Mandelabaai, aan wat sê hy voorsien dat inwoners sal toustaan vir water van tenkwaens, aangesien kraanwater al hoe meer onbeskikbaar sal raak. “Ons sien dit reeds in Indië.”
Namate suur in die see opbou weens temperatuurstygings, sal daar volgens hom ’n toename in rooigety wees (’n skadelike algebloei met ’n ernstige impak op die seelewe). Dit sal weer die metro se visbedryf en die dolfyne, walvisse en pikkewyne wat groot toeriste-aantreklikhede in Nelson Mandelabaai is, raak.
Muir het aan die koerant gesê twee ander seemetro’s, Durban en Kaapstad, het albei planne om klimaatsverandering te versag. Hy sê ’n multi-belanghebbende taakspan is nodig om die dreigende krisis aan te spreek.