Daar’s ’n hiëna in my truspieël

  • 0

Dit was baie vroeg; die son het pas helder genoeg begin skyn vir foto’s. Toe, skielik, is hy daar. Of is dit ’n sy? Eers net die een.

Skugter.

Vir ’n paar oomblikke het ons vir mekaar gekyk. Toe is die skim weg.

Hiënas is sosiale diere. Hulle is bitter selde alleen, hoewel hulle soms klein prooi sal gaan soek as hulle honger word. Dit is anders wanneer jy ’n luiperd raakloop. Húlle sien jy nie baie in groepe nie. Maar hiënas? As ek een sien, soek ek vir die res.

Dit was op ’n stil paadjie enkele kilometer van Berg-en-Dal, ’n kamp in die suide van die Krugerwildtuin.

Die hekke het 05:30 oopgemaak en ek was uit. Weg van die teerpaaie en die motors het ek soek-soek op die agterpaadjies gebly. Ek het die donker gebruik om weg te kom van ander mense af.

Nou was daar lig en daardie een hiëna was in my truspieël.

Die veld was ruig teen die kliprantjies. Maar, as daar een hiëna is ...

In die nag het ons hulle gehoor. “Whoep! Whoep!” Enkele kere selfs daardie maniese laggie waarvoor hulle so berug is.

Hiënas jag gewoonlik in die nag, maar hulle sal helder oordag rondloop, veral as daar kos is.

Tropgroottes wissel. Hulle kan so min as vier wees, maar troppe van 15 is nie ongewoon nie.

Die meeste troppe is onder leiding van ’n wyfie.

Ek het aanhou soek ... en daar is weer een.

Die gras was lank. Hiënas verkies oop vlaktes, dus sal hulle liewer in die pad loop indien daar nie karre is nie.

Sou hulle my vertrou?

Na ’n tydjie verdwyn die skimme weer, maar ek weet nou waar hulle is.

Ek hou die enjin sag, kruip stadig in eerste rat vorentoe.

Toe die beloning: Voor in die pad, met lig agter hulle, loop hulle uit die gras en gebruik die hoogte om op my af te kyk. Hulle is versigtig. Ek stop, neem foto’s en wag.

Toe begin hulle in die pad af draf.

Dis my uitnodiging.

Saggies volg ek. Hulle is nou bewus van my, maar duidelik op hulle gemak.

Teen die volgende rantjie draf hulle rustig.

Nou moet ek kat-en-muis speel.

Kom ek té naby, gaan hulle weer in die gras verdwyn. Maar ek soek kiekies!

So, ek kruip nader.

Hulle loer, maar bly draf.

Die son klim hoër. Hulle draf stadiger. Ek waag dit nader.

En nader.

Toe stop hulle. Hier word nou goed gesnuif.

Ná ’n deeglike inspeksie draf hulle verder. Padlangs.

Hulle stop ook om water te drink, so teen dié tyd pla ek hulle nie meer nie.

Ek kruip nader en weer word daar gestop en gesnuif. Eers is dit net die leier. Maar toe kom die jongeres ook by.

Nou is die son al deeglik op en ek is naby genoeg om enkele mooi skote te kry.

Dan, die dreuning van ’n ander enjin.

Hiënas is nie bang vir mense nie. Hulle kan peste wees wat in kampe en woongebiede inkom om vullisdromme leeg te maak.

Ek trek dus af. Die ander motor ry ook stadig. Dis goed.

Hulle sien die trop en stop.

Lank sit ons stil. Die hiënas besluit wat om te doen en die ander mense, in ’n bakkie, kry mooi kiekies.

Uiteindelik skakel hulle weer aan en ry verder.

Die leier kyk hulle agterna en lei haar hele trop weer in die gras in.

Weg.

Nou moet ek raai ... Hulle is baie deeglik bewus van iets, vandaar die ruik-ruik en doelgerigte draf in ’n sekere rigting. Ek kan óf stilsit, óf ek kan in die rigting ry waarheen hulle op pad is.

’n Kilometer of so later kom ek om ’n draai en sien die witrugaasvoël. Dié kyk stip in die rigting waar ek vermoed die trop moet wees.

Maar daar is baie gras en ek kan hulle nie sien nie.

By ’n vurk in die pad kies ek die roete wat my hopelik nader sou bring aan waar ek die trop weer gaan sien.

Ek kruip voort en bingo!

Hulle is egter skugter en glip weer in die grasse in.

Hiënas is nie klein diere nie. Skouerhoogte kan tot 85 cm wees en ’n groot hiëna kan 80 kg weeg, maar hulle weet hoe om weg te kruip!

Deksels.

Maar dan kom daar weer een uit. Nog een.

Hulle is steeds iewers op pad heen, maar nou baie meer op hulle hoede.

Uiteindelik sien ek hulle teiken. Dit is ’n olifantkarkas; deeglik vrot, maar steeds vol kos.

Ek stop. En wag.

Een kom uit die gras gestap, vol wantroue ...

Ek wag.

En toe kom die ander.

Die groep het beurte gemaak om te vreet terwyl ander waghou.

Die stank was afgryslik, maar vir hulle was dit koningskos.

Party het selfs hulle tafelmaniere vergeet!

Hiënas is jagters, nie bloot aasdiere nie. Hulle sal alleen jag as dit moet, en dan sal hulle selfs insekte eet. ’n Trop kan egter groot diere soos sebras en kameelperde plattrek.

’n Geleentheid soos hierdie, waar ’n dier reeds dood is, sou die ekwivalent van Uber Eats by mense wees.

Stank? Watwou! Dis heerlik!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top