Suid-Afrikaners se tonge is behoorlik los oor die voor- en nadele van dagga nadat die grondwetlike hof beslis het die kweek en gebruik daarvan in private plekke is wettig.
Terwyl sommige die hofuitspraak toejuig, waarsku ander teen die negatiewe effek wat dagga op die emosionele en neurologiese ontwikkeling van veral tieners het.
Dagga, ook in Afrikaans bekend as boom, elektriese spinasie, giggelgras, karate-twak, laggras, papegaaislaai, rondkyktwak, aaptwak of wilde pietersielie het die publiek behoorlik aan die praat.
Baie mense vind dit ironies dat die rook van dagga nou gedekriminaliseer is terwyl wetgewing teen gewone tabak al hoe strenger toegepas word.
Danie van Wyk, die Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, het die hof se beslissing op Facebook betreur. Hy sê onderwysers, in veral township-skole, is reeds bekommerd oor watter effek die wettiging van dagga op leerders gaan hê. “Daar gaan geen of min beheer tuis uitgeoefen kan word oor die kweek van dagga en die rook daarvan. Die wetgewing gaan bepaal dat dit tuis gekweek en gebruik kan word.”
Van Wyk sê hy hoop die wetgewing wat deur die parlement promulgeer gaan word sal daardie aspekte in ag neem. “Behoede ons ... ons gaan nou baie meer gerookte leerders in ons klasse hê! Dis nou wettig!” het Van Wyk geskryf.
Die joernalis Heindrich Wyngaard het op Van Wyk se reaksie reageer en sê die uitspraak gee aan volwassenes die reg om dit te kweek en in private ruimtes te gebruik, met ander woorde tuis – en nie aan kinders nie.
Volgens Van Wyk vrees hy egter dat daar in baie gevalle geen beheer tuis gaan wees oor die kweek en rook daarvan nie. “Kinders gaan hieraan blootgestel word en dit is waar die probleem gaan ontstaan.”
Kenners met wie die joernalis Elsabé Brits gesels het, waarsku ook dat die gebruik van dagga ernstige gevolge inhou. In ’n berig op Netwerk24 haal sy navorsers aan wat die gevare van dagga beklemtoon. Brits meen die negatiewe effek van dié dwelm op die emosionele en neurologiese ontwikkeling van veral tieners is nie iets om oor fees te vier nie.
Prof Charles Parry, direkteur van die Mediese Navorsingsraad (MNR) se eenheid vir alkohol, tabak en ander dwelmnavorsing het aan Brits gesê dit is bekend dat dagga jou leervermoë, aandag en geheue benadeel. Hy meen kinders en tieners moet beskerm word teen die skadelike effek van drank, rook en dwelms.
Deelnemers aan die gesprek op sosiale media is diep verdeeld oor die hofuitspraak. Terwyl sommige die beslissing ten sterkste veroordeel, spot ander tong in die kies daarmee. “Sien julle wat gebeur as die Bokke wen? Dagga word legal want Groen is nou weer die in-ding,” het iemand anders gekorswil.
Heelwat mense het ook die regters bygekom. Een deelnemer aan die gesprek bestempel dit as ’n ondeurdagte, sotlike besluit van ’n volbank regters. “Het ons nie genoeg wrakke en wanaangepaste jeug in hierdie land nie?”
Diegene wat só redeneer sê die regter se uitspraak het hier ’n absolute mynveld oopgemaak. “Hier is nou soveel grys areas dit is net nie waar nie. Wat word geag as jou persoonlik area? Jou huis, jou lyf, jou rugsak waarmee jy werk toe kom?”
Iemand ander beaam dit en spot ons moet onthou dit was ’n joint decision.
Daar was egter ook heelwat reaksie van mense wat meen alkohol en ander medisyne hou ’n ewe groot gevaar in en dat die voordele van cannabis-olie die nadele oortref. “Djirre mense maak julle los van die indoktrinasie, hoekom wens julle nie alkohol en Disprins en Grandpa’s word onwettig verklaar nie? Dis die grootste en ergste addiction wat julle het. En wat van sigarette?” wil Alec Goliath op Facebook weet.
Buro: NB