Naamsveranderings is ’n emotiewe saak in Suid-Afrika, soos wat die herverdeling van grond ook is. Dit is terselfdertyd, soos die grondkwessie, ’n noodsaaklikheid, onafwendbaar, ten spyte van die hewige teenstand wat dit moet trotseer.
In die nuutste verwikkeling is ’n aantal naamsveranderings in die Oos-Kaap deur Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, aangekondig: Onder meer word die stad Port Elizabeth nou Gqeberha, Oos-Londen se lughawe heet nou Koning Phalo en King William’s Town se nuwe naam is Qonce. Maar sedert dié proses van stapel gestuur is, was ek as ’n bruin Suid-Afrikaner die meeste geprikkel deur die voorstel dat die Port Elizabeth-lughawe na die Khoisan-hoofman Dawid Stuurman hernoem moet word.
Foto: Pixabay.com
Hier is dit nou gedoen, en dit is ’n goeie rede om jubelend die riel- of reëndans uit te voer.
Stuurman se verhaal is vir sommige mense dalk minder bekend as dié van byvoorbeeld Autshomao, die eerste “politieke gevangene” wat van Robbeneiland kon ontsnap. Hieraan het Nelson Mandela ons gereeld herinner. Dit is dalk ook minder bekend as die ervaring van die sogenaamde Hottentot-Venus, Saartjie Baartman, wat na onder meer Frankryk geneem is om daar as ’n koddigheid vir omstanders geparadeer te word weens onder meer haar prominente sitvlak. Haar oorskot is uiteindelik in 2002 uit ’n museum in Frankryk na Suid-Afrika teruggebring en op ’n koppie in Hankey in die Gamtoosvallei begrawe.
Dit is uit hierdie selfde vallei dat Stuurman afkomstig was. In sy afsku van die koloniale gebruik om die oorspronklike bewoners in arbeiders te omskep, het sy verset saad geskied. Maar vir “moeilikheidmakers” soos hy was daar nie plek nie, wat veroorsaak het dat hy drie keer na Robbeneiland verban is, drie keer ontsnap het, en uiteindelik as straf na ’n verre land – Australië – geneem is, waar hy in 1830 dood is.
’n Spirituele tuiskoms was egter al wat in 2017 vir hom gereël kon word, omdat sy oorskot in ’n massagraf begrawe lê onder vandag se Sydney-spoorwegstasie. Wat bly dan oor behalwe dat sy nalatenskap by wyse van storievertellery en naamgewing na die huidige generasies oorgedra, oftewel getransporteer, word?
Naamsveranderings sou tog nie nou nog nodig gewees het as die name van dorpe, openbare geboue, strate en so meer rééds verteenwoordigend was van die diversiteit waaraan die leuse op die landswapen ontleen is nie: “!ke e: /xarra //ke” beteken immers dat ons verskeidenheid tot eenheid moet lei.
Wat jy egter eerder vind, is name wat ons op ’n helder wyse herinner aan die land se meer onlangse geskiedenis as ’n “blanke” staat, waar die wit bevolking in alle opsigte prioriteit geniet het, en ook die vroeëre geskiedenis van ’n voormalige kolonie (om die beurt) van Nederland en Brittanje.
Wat in hul afwesigheid skitter, is name wat bykomend erkenning gee aan die vroegste (vóórkoloniale, vóórapartheid) werklikheid van ’n samelewing hier aan die voetenent van Afrika. Dit was ’n samelewing wat éérste was, ongeag hoe gering dit ook al geskat word, hoe dit geminag word, deur die nakomelinge van sowel die “buitelandse besoekers” as die inheemse volkere.
Die Oos-Kaapse naamsveranderings, wat nou ’n gesprekspunt is, bied ons daarom opnuut ’n geleentheid om oor mekaar te leer. Na wie is Port Elizabeth in elk geval vernoem (raai, raai)? Waarom sou enige koloniale persoonlikheid enige “lojaliteit” en erkenning verdien? Wat sê ons daarmee oor die rol, bydrae, geskiedkundige teenwoordigheid, plék en bestaan van die res? Waarom word hulle wat eie is aan hierdie grond se verbintenis met die land op dié wyse vervreem (ontken, uitgewis)?
Hierin dan lê die krag van die DAK Netwerk se missie opgesluit: “Ons streef om die vervreemding van geskiedenis, herkoms en kultuur te verminder,” spel hulle dit op hul Facebook-blad uit. Die organisasie se naam is ’n samevoeging van dié van drie historiese Khoisan-ikone: Doman, Autshomao en Krotoa.
Juis daarom het hulle onlangs kapsie gemaak teen die gebruik van ’n uitbeelding van die Khoi se reëndans op die verpakking van goedkoop bokswyn. Boonop word dié wyn spesifiek onder die bruin gemeenskap, afstammelinge van die Khoisan en slawe, bemark – en dít ten spyte van die realiteit van drankmisbruik onder jonk en oud én fetale alkoholsindroom onder kinders in daardie gemeenskappe. Maar laat ons nou nie te diep in daai bottel kyk nie, want dan kom ons onwillekeurig uit by die oorsprong daarvan, wat vandag bekend staan as die dopstelsel, ’n gebruik waardeur die inheemse bevolking vir werk vergoed is en daar sodoende ’n afhanklikheid van alkohol geskep is, of dit nou bedoeld of onbedoeld geskied het.
Die afwesigheid van sogenaamde inheemse media in ons land veroorsaak egter dat jy nie alte gereeld oor die “vervreemding van geskiedenis, herkoms en kultuur” lees en hoor nie.
Periodiek kom dit wel ter sprake, soos pas weer toe die einste DAK Netwerk ’n voorstel ingedien het dat die bekende Jan Smuts-rylaan in die Skiereiland, wat kronkel deur gebiede wat as wit, swart en bruin “gebrandmerk” is, na die oudambassadeur, onderwysikoon en struggle-leier Franklin Sonn hernoem moet word. Dit is gedoen nadat dit onder die organisasie se aandag gekom het dat daar wel ’n straat in die noorde van die land – in ’n swart gebied, nogal – na Sonn, ’n produk van die bruin gemeenskappe, vernoem is.
Waar laat dit die verering van genl Smuts, veldmaarskalk, kabinetslid, staatsman en filosoof, wat ook vir twee termyne eerste minister van die Unie van Suid-Afrika was? Jy hoef nie te ver te gaan soek na die velerlei wyses waarop hy reeds gehuldig word nie, onder meer deur nóg ’n belangrike rylaan in Johannesburg, asook deur talle boeke, soos Richard Steyn se Jan Smuts: Afrikaner sonder grense en in 2017 in Churchill & Smuts: Die vriendskap.
En verering vir Sonn? So skaars soos die spreekwoordelike hoendertande. Naamsveranderings is geen vriend van inheemse mense nie. Dit skreeu ten hemele – en dáároor moet die nuutste naamsveranderings, soos deur die Minister aangekondig, ons opnuut oor dié netelige kwessie laat besin. Dit help egter nie veel as dit gewoon gedoen word as ’n teenreaksie nie; dit moet begrip kweek, help om ruimte te skep, aanvaarding en waardering tot gevolg hê.
Sommige mense meen ons het belangriker, groter kwessies as naamsveranderings om aan aandag te gee. Hulle is reg as hulle verwys na korrupsie, armoede, en sekerlik vandag die gevolge van die Covid-regulasies. Maar hulle is selektief in hulle teregwysing. Die groter, onafgehandelde saak of taak is die regstelling (geleenthede en waardigheid) en herverdeling (grond en welvaart) waarsonder Suid-Afrika nie sommer na ’n meer regverdige, meer gelyke samelewing vordering sal kan maak nie.
Die nuwe Hoofman Dawid Stuurman-lughawe in Port Elizabeth is dus in meer as een opsig ’n welkome vertrek-en-aankoms-punt vir die herwaardering van inheemse geskiedenis en die heldedade en beginselvastheid van historiese Khoisan-ikone.
Buro: MvH