De Brasserie (Kusweg, Strand, Wes-Kaap)

  • 0

Kusweg in die Strand (Wes-Kaap) is hoofsaaklik bekend vir die lang strand waar die water van Valsbaai en die wit sand bymekaarkom en waar enigeen kan kom swem, baai en die sonskyn geniet.

Dit was egter nie die geval tydens Suid-Afrika se vreeslike verlede toe swart Suid-Afrikaners deur die apartheidswetgewing verbied was om hierdie en baie ander gebiede te betree nie.

’n Kleurvolle Suid-Afrikaanse politikus, Allan Hendrickse, was bekend daarvoor dat hy in opstand gekom het teen die wetgewing wat deur die destydse staatspresident, PW Botha, en die regering ingestel is, en in die see geswem het waar bruin mense spesifiek deur die Wet op Afsonderlike Geriewe verbied is om te swem. Dié wet, wat in 1953 deur die Nasionale Party ingestel is, het geriewe en gebiede soos strande, parke en die meeste ander openbare geriewe vir wit mense se eksklusiewe gebruik gereserveer.

Die President was gebelg deur hierdie daad van verset en Hendrickse, wat op televisie teen hom uitgevaar het, het teruggetree en om verskoning gevra. Twee jaar later het ook Desmond Tutu, op daardie stadium hoof van die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika en aartsbiskop van Kaapstad, hom teen die Wet op Afsonderlike Geriewe verset deur op ’n strand te loop.

Hierdie wette is uiteindelik, ná ’n proses wat van 1986 tot 1994 en die koms van demokrasie geduur het, van die wetboeke geskrap. Die onmenslike apartheidstelsel het uiteindelik tot ’n val gekom.

Dié foto van die bekende kusdorp is in die 1930’s geneem. Dit was in die mode om op die sand te stap, al het dit beteken dat jou skoene sou nat word. Toe die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, het hulle wetgewing begin instel wat enigiemand wat nie wit was nie, verbied om geriewe soos parke of strande te gebruik. Die situasie het genormaliseer toe Suid-Afrika in 1994 ten volle demokraties geword het. Die meeste van die geboue wat op die foto van die strand af sigbaar is, is intussen met toringgeboue vervang. Die situasie is soortgelyk aan wat in ander kusdorpe gebeur, soos Tel Aviv in Israel.

Kusweg, Strand. Die ry geboue en huise wat destyds langs Kusweg gestaan het, is intussen gesloop om plek te maak vir nuwe, moderne woonstelblokke en toringgeboue.

Die Strand spog met pragtige sonsondergange, en inwoners en besoekers kan byna regdeur die jaar ’n lang ent op die strand gaan stap. Dit is ’n baie veilige strand vir kinders, solank ’n ouer of volwassene 'n ogie oor hulle hou.

Vandag vorm die Strand se geriewe onder die administrasie van die Stad Kaapstad se munisipaliteit. Die wit strande is ’n trekpleister vir inwoners, besoekers en toeriste van regoor Suid-Afrika wat die son en see wil kom geniet. Een van die strande wat veral gewild is onder besoekers en swemmers, is Melkbaai. Dié strand is waarskynlik so genoem omdat die klein, wit golfies ’n wit skuimlaag vorm. Die deinings is nooit baie hoog nie en daarom is dit ’n veilige plek om te swem.

Op die foto hier bo is die berge anderkant die baai waar Kaapstad geleë is. Die baai self se naam is Valsbaai. Dit is waarskynlik die gevaarlike voorgebergte wat vandag Hangklip genoem word en aan die een kant van Valsbaai geleë is wat vir seevaarders ’n valse indruk gegee het oor die diepte van die kuslyn. Die indruk dat hulle tot ná aan die kus kon vaar, was vals en gevaarlik, en van daar die naam Valsbaai. Dit is in die 15de eeu deur Portugese seevaarders wat om die Kaap gevaar het so benoem.

Die skoon strande, wit sand en veilige waters maak van Melkbaai ’n pragtige natuurlike hulpbron en ’n veilige plek om te swem.

Die strande word vandag nog skoon gehou en spesiale sorg word gedra om dié natuurlike hulpbron te bewaar. Paartjies, kinders, minnaars en sportmanne en -vroue geniet almal die vars lug terwyl hulle op die strand stap of draf of hulle seiljagte in Melkbaai in die water stoot.

Die strand is ook gewild onder ski-roeiers, wat dit tot redelik ver van die kus af in veilige waters kan waag, alhoewel hulle in die warmer seisoene versigtig moet wees vir Witdoodshaaie. In die verte is Hangklip, wat deur die vroeë Portugese seevaarders so genoem is.

Die strand is ook ’n gunsteling onder seiljagvaarders wat hul bote in Melkbaai in die water stoot en soms aan georganiseerde regattas deelneem. Kaapstad se berge kan aan die ander kant van die baai gesien word.

Seiljagvaarders berei voor vir ’n regatta, waartydens hulle in die baai om ’n boei vaar en dan kyk wie eerste die strand bereik en die eindstreep oorsteek.

Op die seefront by Melkbaai is daar ’n paar heerlike eetplekke. Jy kan met Kusweg langs ry om hulle op te spoor (’n skakel word aan die einde van die artikel gegee). Vars vis is een van die Strand se spesialiteite, aangesien die vissermanne elke oggend vroeg uitgaan om te gaan visvang. Valsbaai is bekend vir sy heerlike verskeidenheid vis. Hengelaars en vissermanne vang steeds ’n verskeidenheid vis vanaf die kus, soos wit stompneus (Pagrus pagrus), steenbras (Lithognathus lithognathus) en galjoen (Coracinus capensis), afhangende van die seisoen, terwyl vistreilers en vissersbote uitgaan om koningklipvis (Genypterus capensis), kabeljou (Argyrosmus inodorus) en rooi roman (Chrysoblephus laticeps) te vang.

Oorkant die pad van die strand af, ’n hanetreetjie van die see af, is De Brasserie geleë, waar jy van hierdie spesialiteite kan geniet.

De Brasserie is reg op die seefront geleë en bied ’n skouspelagtige uitsig oor die see. Daar is ’n dek waar restaurantgangers kan sit en vars seekos geniet terwyl hulle die vars lug en seereuk inasem (behalwe miskien op ’n winderige dag), “with the white clouds flying, and the flung spray and the blown spume, and the sea-gulls crying” (uit “Sea fever” deur John Masefield). 

De Brasserie het ’n verwelkomende gevoel wanneer jy instap; die personeel is vriendelik en die kleurskema is kalmerend. Soos in die volgende twee foto’s gesien kan word, is die tafeldekor polichromaties en is daar op verskeie plekke ’n objet d’art, hetsy in die kleurvolle plekmatjies, of teen die muur.

Kunstige plekmatjies weerspieël die style en kleure van kunstenaars soos Malevich, Piet Mondrian en Wassily Kandinsky.

Van die kuns teen De Brasserie se mure

Kleurryke kuns by De Brasserie; snaakse gesigte soos dié een sou sekerlik die Nederlandse kunstenaar Jan Vermeer laat ineenkrimp!

Die kroegarea is lekker ruim vir ’n meer informele ervaring of vir meer intieme gesprekke. See-uitsigte is oorvloedig.

Die beligting is nie te helder nie, maar lig genoeg om die vertrek nie somber te maak nie.

Die restaurant is verbonde aan ’n wynplaas in die Elgin-vallei aan die ander kant van die berg. Dit was vroeër ’n appelplaas, maar is in ’n wynplaas omskep. Vandag word die wyne van Almenkerk op dié plaas gemaak en in die restaurant bedien. Die plaas is in 2002 deur die huidige eienaars aangekoop. ’n Belgiese familie wat Suid-Afrika toe geïmmigreer het, het 32 hektaar se appelbome in wingerde omskep. Daar is tans ’n hele paar verskillende kultivars vanuit die vrugbare grond en terroir van die plaas by De Brasserie beskikbaar. Dit beteken nie dat sagtevrugteboerdery gestaak is nie. Inteendeel, daar word steeds met appels en pere geboer. Hierdie samesnoering van sagtevrugte en druiwe skep ’n wonderlike kombinasie van voorkoms, smaak en reuk; ’n estetiese samevloeiing wat ’n heerlike geur in die wyn tot gevolg het en die kos in die restaurant komplementeer.

Die rooiwyne spog met ’n baie bevredigende geur, hier teen die agtergrond van ’n polichromatiese plekmatjie bedien.

Dekor teen die mure beeld tonele van Almenkerk in Elgin uit, waar die familie se wynplaas ’n verskeidenheid wit-, rooi- en vonkelwyne produseer wat ook in die restaurant bedien word.

Nog muurdekor van Almenkerk in Elgin beeld rustige natuurtonele uit waar vrugte groei vir die wyn wat uiteindelik vir die restaurantgangers en kosliefhebbers by De Brasserie bedien word.

’n Slim en elegante binneontwerp beeld die lewendige styl en dekor van De Brasserie uit.

Familiefoto’s teen die muur dra iets van ’n meer persoonlike stempel oor.

Die kelder waar die wyne van die plaas af gestoor word

Die plaas se filosofie is om wynmaak te geniet. Die bon vivants van die familie dra hiertoe by en uiteindelik geniet die personeel en ander betrokkenes die proses. Hulle sê dat dit die doel van wynmaak is om te te geniet, en as jy dit nie geniet nie, het dit geen doel nie. Hulle voel hulle wyn reflekteer die passie en plesier van die wynmaakproses. Lees meer by https://www.almenkerk.co.za/about-us en klik hier vir aanwysings.

..............................................................................

Kontakbesonderhede en handelsure:

+27 21 848 9844
info@almenkerk.co.za

Dinsdag tot Saterdag: 10:00 tot 16:00
Sondag en Maandag: gesluit

..............................................................................

’n Verskeidenheid rooiwyne van Almenkerk

Almenkerk se 2013-Merlot (Klik hier vir nog inligting.)

Vir die skrander wyndrinker is daar Platters wat jy kan raadpleeg om die meer te lees oor die wyn wat jy wil drink. Nota aan die leser: John en Erica Platter het dié projek begin, waar Suid-Afrikaanse wyne gelys en gradeer word. Daar is elke jaar ’n nuwe, bygewerkte uitgawe, soos in die foto gesien kan word.

Daar word ook vars oesters vir oesterliefhebbers bedien.

Die voorblad van die spyskaart, waarop die stigtingsjaar van Almenkerk (nou ses jaar gelede) aangedui word

Olywe en wyn is ’n geskikte eetluswekker voor jy jou hoofgereg geniet.

Maak seker jy het genoeg tyd om al die verruklikhede te geniet terwyl die see net daar anderkant lê. Maak seker jy bespreek ’n tafel by die venster sodat jy ’n goeie uitsig het.

’n Glas rooiwyn, vars uit die Almenkerk-bottel

Die keuse op die spyskaart. Ek het oesters as voorgereg gehad. Die vars suurlemoensap het die vleis laat krimp, wat ’n teken is dat die oesters vars is.

Ek het spesiaal vir die bouillabaisse gekom. Sien foto’s van die dis verder af.

Vars oesters by De Brasserie. Lees hier meer: https://www.sa-venues.com/things-to-do/westerncape/de-brasserie.

Die disse is klassiek. Vir resensies en nabygeleë besienswaardighede, besoek https://www.tripadvisor.co.za/Restaurant_Review-g1236998-d4298498-Reviews-De_Brasserie-Strand_Western_Cape.html. Vergelyk ander restaurante elders wat dieselfde naam het: https://www.brasserie-excelsior-nancy.fr/en/menu/oysters-seafood.

Die bouillabaisse (my hoofgereg)

Wat maak ’n bouillabaisse besonders? Dit word ook vissermansbredie genoem, en die Strand is ’n goeie plek om dit te eet. Besoek http://www.slowburningpassion.com/how-to-make-a-classic-french-bouillabaisse om te sien hoe dit voorberei word.

De Brasserie hou dalk verrassings in vir die avontuurlustiges wat die dag op die strand deurgebring het en op soek is na goeie seekos en wyn.

Vir vleisliefhebbers is daar ook opsies, soos in die lewe, maar komaan – dié een is vir seekos.

Buro: LE
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top