De Lille is die DA se bitter pil

  • 0

Kaapstad se vuurvreter burgemeester Patricia de Lille wat haar pos die week moet ontruim is nie van plan om haar goue ketting stilweg terug te gee nie. Op dieselfde dag wat sy veronderstel is om haar pos te ontruim, gaan sy haar weer eens tot die hof wend en hoop om die DA nóg ’n slag bloedneus te gee.

De Lille wil die hof nader om haar naam in ere te herstel. Sy het die Kaapstadse Persklub vroeër die week toegespreek oor haar planne om twee verslae van die regsfirma Bowman Gilfillan in hersiening te neem. Sy sê die twee verslae is strydig omdat die een verslag haar kwytskeld van enige ongerymdhede, terwyl die tweede een beweer sy kan strafregtelik vervolg word.

De Lille moet haar kantoor vandag (Woensdag) ontruim volgens ’n ooreenkoms met die DA. Sy klou egter steeds vas aan haar pos en pleks van om haar kantoor te ontruim, daag sy haar party weer voor die hof. Sy wil ook nie sê of sy wel haar kantoor gaan ontruim nie.

Die DA sê een van die verslae oor De Lille was in opdrag van die Metroraad en het niks met die DA te doen nie. Die DA se woordvoerder, Solly Malatsi sê daar is ’n duidelike onderskeid tussen die proses deur die Kaapstadse Metro en die DA se proses en dat die Bowman-verslag ’n saak tussen De Lille en die raad is.

De Lille was die afgelope maande in ’n morsige geveg met haar eie party gewikkel wat al verskeie kere in die hof geëindig het. Tydens die vorige hofsake het sy telkens daarin geslaag om haar party op die neus te laat kyk.

Die interne twis in die DA het verlede week ’n hoogtepunt bereik toe vyf DA-stadsraadslede op ’n dramatiese wyse uit hulle poste bedank het tydens ’n raadsvergadering wat in chaos geëindig het. Hulle beskuldig die party onder andere van rassisme. “Ons is gatvol vir die DA en hul rassistiese optrede,” het die DA se voormalige hoofsweep Shaun August gesê toe hy sy bedanking tydens ’n vuurwarm raadsvergadering aangekondig het.

Die jongste twis in die DA volg enkele weke nadat De Lille en die DA-leier, Mmusi Maimane, oënskynlik die strydbyl begrawe het. Daar is ooreengekom dat alle dissiplinêre aksies teen haar laat vaar word en dat sy onderneem om haar pos die einde van die maand te ontruim.

Die vrede was egter van korte duur. Die diep verdeeldheid in die Wes-Kaapse DA het tydens verlede week se raadsvergadering soos ’n septiese sweer oopgebars ten aanskoue van die hele wêreld.

Intussen is DA-ondersteuners in die Moederstad ewe diep verdeeld en vlieg mekaar op sosiale media oor en weer in die hare oor wie die skuld moet kry vir die gemors waarin die DA hom bevind.

Pieter Meissenheimer het op Netwerk24 geskryf die ANC het Zuma gehad wat die ANC op sy knieë (gehad) het en die DA het vir De Lille. “OK, die ANC het darem so half-en-half van Zuma ontslae geraak. Komaan DA.”

Adriaan Vorster meen egter dit is eerder Maimane wat die DA op sy eie vernietig. “Eers sy eindelose speletjies met Zille en nou met De Lille. Die kind moet groot word.”

Van die ander deelnemers aan die gesprek is van mening dat De Lille alle simpatie verbeur wat enige DA-ondersteuner moontlik nog vir haar gehad het omdat sy nie haar pos ontruim nie en sê haar ondersteuners speel nou die rassekaart.

Ten spyte van die swaard oor haar kop en die uurglas wat vinnig besig is om leeg te loop, het De Lille Dinsdag nog volstoom voortgegaan met haar pligte as burgemeester en daaroor getwiet.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top