De Lille veg terug

  • 0

Kaapstad se voormalige burgemeester, Patricia de Lille, wie se weë met die DA op stormagtige wyse geskei het, se politieke blus is nog lang nie gedoof nie. Sy mag dalk een van die DA se grootste nagmerries word in volgende jaar se algemene verkiesing.

De Lille sê sy sal haar toekomsplanne op 18 November bekend maak.

Intussen het sy die geveg met haar voormalige party die afgelope week op Twitter voortgesit. Sy het die een na die ander twiet gepos en beskuldig van haar voormalige kollegas daarvan dat hulle haar naam beswadder het deur fopnuus oor haar te versprei.

Sy het ook strafregtelik klagtes teen vier DA-lede by Kaapstad Sentraal Polisiestasie ingedien oor ’n vals verslag van die Ouditeur-Generaal wat op sosiale media versprei is. Die vals verslag verwys na beweerde oortredings deur De Lille wat verband hou met die aankoop van busse vir die MyCiti-busdiens. Die Ouditeur-Generaal het later bevestig dat die verslag vals is. De Lille sê sy het verlede maand die lede kans gegee om haar om verskoning te vra, maar daar was geen reaksie nie.

Daarom het sy besluit om klagtes van bedrog en naamskending teen vier senior lede van die DA in te dien, onder andere twee DA-parlementslede.

Die DA-lid Henk Hugo, die DA se adjunk provinsiale voorsitter in KwaZulu-Natal, Shehana Kajee, DA se adjunk-hoofsweep Mike Waters en die Nasionale Raad van Provinsies se Bronwyn Engelbrecht is almal in De Lille se visier en staar nou klagtes in die gesig omdat hulle na bewering ’n vals verslag van die Ouditeur-Generaal versprei het waarin sy geïmpliseer word.

Hulle het die spertyd wat sy in Oktober aan hulle gestel het om verskoning te vra, geïgnoreer.

De Lille het verskeie foto’s van haar op Twitter geplaas wat in die polisiestasie geneem is terwyl sy die klagtes teen haar voormalige kollegas indien.

Sy het ook ’n klag ingedien by die kantoor van die Speaker, Baleka Mbete teen twee DA-parlementslede wie se optrede volgens haar in stryd is met die parlement se gedragskode vir etiek.

De Lille het gesê sy lê nou eers die klagtes omdat haar huidige status nadat sy as burgemeester bedank het, haar genoeg tyd gee om dit te doen.

Sy sê sy neem hierdie stappe ook weens die ernstige aard van die beweerde bedrog asook die disrespek wat haar vorige kollegas as publieke verteenwoordigers teen die kantoor van die Ouditeur-Generaal openbaar het.

“Ek doen dit ook omdat ek waarde heg aan die regte en beskerming wat die grondwet aan sy burgers bied, omdat ek lief is vir my land en omdat ek wil toesien dat alle burgers gelyke behandeling geniet voor die reg en beskerm word deur die wette waarvoor daar so lank geveg is,” het sy haar redes die een na die ander op Twitter uitgestippel.

Tussendeur het sy darem ook kans gehad vir ontspanning en foto’s van haar op Twitter geplaas terwyl sy ’n potjie gholf speel en die vars lug geniet.

Die DA het intussen vyf nuutverkose raadslede in die Kaapse Metroraad verwelkom. Dit volg na die bedanking van vyf DA-raadslede, insluitende die party se hoofsweep, Shaun August, verlede week. Beweerde rassisme binne die party is as die hoofrede vir hul bedanking voorgehou. Die burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, Brett Herron, het ’n dag na De Lille se bedanking haar voorbeeld gevolg en ook uit die DA bedank. Die DA sê die verkiesing van nuwe raadslede is ’n voortsetting van verandering in die stad wat begin het met die onlangse inhuldiging van die nuwe burgemeester, Dan Plato.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top