De Lille wil DA by stembus pak gee

  • 0

Foto: Twitter

Die vuurvreterpolitikus Patricia de Lille se aankondiging dat sy ’n nuwe politieke party gaan stig, het gemengde reaksie onder Suid-Afrikaners uitgelok.

Terwyl sommige haar as ’n politieke klipspringer bestempel wat van party tot party spring as sy nie haar sin kan kry nie, het ander haar lof toegeswaai en voorspoed toegewens met haar nuwe party.

Een van diegene wat De Lille op Twitter geluk gewens het, is die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela.

Madonsela het op Twitter gesê dit is goed vir die demokrasie om ’n vrou te hê wat die taak opneem om ’n politieke party te lei.

Politieke kommentators is skepties dat De Lille se nuwe party groot steun sal kry, maar te oordeel aan die reaksie op sosiale media geniet sy nog wye steun in veral die Wes-Kaap en kan daar vir die DA ’n kopseer word.

De Lille het haar toekomsplanne Sondag tydens ’n nuuskonferensie in Kaapstad aangekondig en Suid-Afrikaners op twitter genooi om saam met haar vir ’n beter Suid-Afrika te werk.

Die vraag op baie kiesers se lippe is egter wat sy kan bied wat die talle ander politieke partye nie reeds bied nie. Volgens De Lille benodig die land “goeie mense” om korrupsie, rassisme, misdaad en haat te beveg. “Goeie mense wat seker sal maak almal geniet goeie onderwys, gesondheidsdienste, ’n goeie ekonomie en hoop.”

De Lille was in ’n veglustige bui toe sy haar nuwe party die naweek aangekondig het. Sy het veral haar mes ingehad vir die DA met wie sy die afgelope maande verskeie kere kop gestamp het. Sy het haar voormalige party van karaktermoord beskuldig en gesê die wyse hoe die DA haar reputasie wou vernietig, is erger as enige iets wat sy ooit voorheen in haar politieke loopbaan ervaar het.

Terwyl die ANC en EFF De Lille se aankondiging verwelkom het, het die DA se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi, voorspel dat sy nie daarin sal slaag om wesenlike steun van die DA af te rokkel nie. Hy sê daar is meer as 500 politieke partye in Suid-Afrika en sy sal nou deel wees van daardie groot groep politieke partye sonder enige bewese steun.

Julius Malema van die EFF glo egter sy sal genoeg steun van die DA afrokkel om te help dat die EFF tydens volgende jaar se verkiesing minstens die amptelike opposisie word omdat dit die DA se stemme gaan verdeel.

Die meeste politieke kommentators betwyfel egter die wysheid om so kort voor die verkiesing ’n nuwe party te stig. Prof Bheki Mngomezulu, ’n politieke ontleder, het aan Netwerk24 gesê ondanks De Lille se politieke verlede en ervaring in die politiek, sal haar party waarskynlik nie lank oorleef nie en sal ’n natuurlike dood sterf.

De Lille beoog om in al nege provinsies kandidate te stel tydens volgende jaar se verkiesing. Alle oë sal egter op die Wes-Kaap wees waar haar magsbasis is. Kiesers kan hulle gereed maak vir ’n morsige politieke stryd tussen haar en die DA in dié provinsie.

Met verdere hangende hofsake tussen haar en haar voormalige DA-kollegas sal De Lille haar hande behoorlik vol hê om voor te berei vir die hofsake en terselfdertyd ’n landwye verkiesingsveldtog te loods.

Sy hoop om kiesers veral deur middel van sosiale media aan te spoor om vir haar party te stem, maar het ook beloof om stede en dorpe regdeur die land te besoek om steun te werf.

Sy het ook ’n nuwe webwerf bekend gestel waar sy Suid-Afrikaners uitnooi om by haar party aan te sluit.

Die nuwe party sal waarskynlik vroeg volgende jaar amptelik gestig word.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top