De Ruyter se skielike vertrek laat die poppe dans

  • 0

Die uittredende Eskom-baas André de Ruyter het behoorlik ’n knuppel in die hoenderhok gegooi met sy opspraakwekkende onthullings oor beweerde grootskaalse korrupsie by Eskom waarby ’n senior politikus in die ANC na bewering betrokke is.

De Ruyter se uitlatings, wat tot sy onmiddellike diensbeëindiging gelei het, het die hele land Donderdag aan die gons gehad.

Opposisiepartye en burgerlike organisasies het hom as ’n held bestempel. Hulle prys hom as heldhaftige fluitjieblaser, terwyl die ANC vuur spoeg en dreig om hom hof toe te sleep.

In ’n TV-onderhoud van sowat ’n uur Woensdagaand op eNCA het De Ruyter geen doekies omgedraai oor die haglike toestand waarin die land se energieverskaffer hom bevind nie.

Hy voer onder meer aan dat Eskom sistemies korrup is, dat ’n senior politikus in die ANC deel is daarvan, dat die ANC Eskom vanuit Luthulihuis gebruik om die trogvreters te voer en dat die land hom moet staal vir voortdurende fase 6-beurtkrag en selfs meer die komende winter.

De Ruyter sê die manier hoe Eskom gesaboteer word, is in sy oë niks anders as hoogverraad nie, maar die polisie en die ANC-politici doen niks daaraan nie.

Hy het ook vertel dat misdaadsindikate deel geword het van Eskom, wat diegene wat in hulle pad staan, laat vermoor. Die polisie het volgens hom nie die vermoë nie en is ook onwillig om dit te ondersoek. Sy eie veiligheid is van so aard dat hy voorlopig eers vir ’n ruk oorsee gaan bly nadat hy sy kantoordeur die laaste keer agter hom toegetrek het, sê De Ruyter.

DA-leier, John Steenhuisen, het hom ’n nasionale held genoem omdat hy die moed en oortuiging het om op te staan ​​teen “die kriminele sindikaat” wat volgens Steenhuisen die ANC-nasionale regering is. “Ek loof en bedank hom vir die dapperheid wat ons almal nodig het om Suid-Afrika reg te maak,” het Steenhuisen gesê.

Hy sê De Ruyter het die fluitjie geblaas oor die ANC-geskepte Eskom-krisis en is met onmiddellike effek afgedank, net omdat hy geverifieer het wat Suid-Afrikaners reeds weet waar is, naamlik dat Luthulihuis die toneel is van die Eskom-misdaad, en Ramaphosa en sy kabinet is die oortreders.

Die DA gaan ’n dringende versoek aan Eskom se bestuur rig om alle inligting en bewyse tot Eskom se beskikking te bekom rakende die beweerde ANC-betrokkenheid agter die sistemiese korrupsie wat die land se elektrisiteitsvoorsiening op sy knieë gebring het.

Die African Transformation Movement sê De Ruyter moet voor die parlement gedaag word, sodat hy met die hele sak patats vorendag kan kom.

Die ekonoom Magnus Heystek het op Twitter gesê minister Pravin Gordhan hou aan om die land teleur te stel. Sy opmerkings dat De Ruyter van “politiek” moes wegbly toe hy massiewe korrupsie by Eskom bekend gemaak het, is volgens Heystek  ontstellend. “Van wanneer af het korrupsie deel van die politiek geword Pravin? En ek het altyd gedink hy is een van die goeie ouens.”

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê in sy verklaring daar is geen twyfel nie dat De Ruyter se gedwonge en onmiddellike vertrek die gevolg is van sy eerlike opmerkings oor die ANC en hulle aandrang om die energiekrisis te gebruik om hul parasitiese patronaatskapsnetwerk finansieel te bevoordeel.

Mashaba sê ten spyte van president Ramaphosa se versekering dat die regering die oplossing van die energiekrisis as sy topprioriteit beskou, is dit baie duidelik dat die ANC nie werklik sulke voornemens het nie. “Die gebrek aan politieke steun wat aan mnr De Ruyter en sy uitvoerende span gegee is tydens sy ampstermyn en die konsekwente aanvalle deur minister Mantashe is verdere bewyse van ’n party wat van voorneme is om Suid-Afrika se toekoms vir sy eie eng belange op te offer.”

Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die blaam op De Ruyter probeer plaas. Hy sê die ANC het De Ruyter nog nooit veroordeel nie. “Ons het hierdie man verdedig, ons het tot op die laaste oomblik by hom gestaan, selfs toe dit moeilik was om die ligte aan te hou. Maar dit is baie duidelik dat wanneer jy voor ’n hoop mislukking te staan ​​kom, jy ’n maklike sondebok vind.”

Intussen is die vraag op almal se lippe watter senior ANC-politikus volgens De Ruyter na bewering aandadig is aan die korrupsie by Eskom. Daar is Donderdag verskeie beroepe op De Ruyter vanuit uiteenlopende rigtings gedoen om die persoon se naam bekend te maak.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top