Suid-Afrikaners se vertroue in die demokrasie het tot ’n historiese laagtepunt getuimel, met slegs 36% van die bevolking wat die demokrasie bo enige ander vorm van regering verkies.
Volgens die jongste navorsing van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), wat tydens ’n onlangse webinaar getiteld “Defend our democracy” bespreek is, sou ’n skokkende een uit elke vier burgers nou bereid wees om niedemokratiese alternatiewe soos ’n “sterkmanleierskap” (met ’n despoot as leier, dus) te oorweeg. Hierdie bevindinge plaas hernude fokus op die kritieke belang van burgerlike deelname in die aanloop tot die 2026 munisipale verkiesings.
Die gesprek, aangebied deur die sakestrateeg Wade Manning, het gefokus op die toestand van demokrasie, burgerlike deelname en voorbereidings vir die plaaslikeregeringverkiesings later vanjaar.
Hierdie gesprekke vorm deel van ’n breër poging om voor te berei vir die 2026 munisipale verkiesings.
Deur die Election Watch-veldtog wil Defend Our Democracy help bou aan ’n burgerlike inisiatief om:
- die integriteit van die verkiesing waar te neem en te evalueer
- disinformasie en politieke destabilisering teen te werk
- ’n landswye netwerk op te bou wat verbind is tot die bevordering van demokrasie.
Volgens die RGN se opname oor kiesersdeelname wat namens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gedoen is, het die idee dat demokrasie die beste vorm van regering is, dramaties gedaal. In die middel-2000’s was dit nog sowat 67%, maar nou het dit tot slegs 36% gedaal. Daar is ’n toename in “fataliste” – mense wat onverskillig is daaroor of demokratiese of niedemokratiese stelsels ons land beheer.
Ngqapheli Mchunu van die RGN het die bevindings tydens die webinaar aangekondig. Hy het beklemtoon dat slegs 17% van Suid-Afrikaners tans tevrede is met hoe demokrasie in die land werk. Dit is ’n dramatiese daling van die 63% in 2004. Tevredenheid met plaaslike regering, korrupsiebestryding, dienslewering, werkloosheid en lewenskoste bly uiters laag. Meer as 80% van respondente voel dat korrupsie en lewenskoste oor die afgelope vyf jaar vererger het.
Vertroue in sleutelinstellings het ook skerp gedaal.
- Vertroue in plaaslike regering het van 55% in 2004 tot sowat 18% gedaal.
- Vertroue in die OVK self het van byna 74% in die laat 2000’s tot ongeveer 32% gedaal. Provinsiale verskille is opvallend: Die Wes-Kaap toon betreklik hoër steun vir demokrasie (46%), terwyl provinsies soos KwaZulu-Natal en Limpopo laer syfers toon.
Mchunu en ander sprekers, insluitend verteenwoordigers van Groundwork Collective en die OVK, het gewaarsku dat hierdie tendense die risiko vir ’n lae stempersentasie inhou. Amper 50% van stemgeregtigdes is tans nie geregistreer nie, wat kommer wek oor deelname aan vanjaar se plaaslike verkiesings.
Yesterday, we hosted a webinar on the state of democracy in South Africa, focusing on elections, civic participation, and public trust.
As Freedom Month comes to a close, we’re reminded that the work of strengthening our democracy continues. 🇿🇦
These conversations form part of…
— Defend Our Democracy (@ForDemocracySa) April 30, 2026
Ten spyte van die ontnugterende data het die webinaar na oplossings gesoek. Sprekers het oproepe gedoen vir sterker burgerlike betrokkenheid, aktiewe burgerskap en samewerking tussen die burgerlike samelewing, besighede, georganiseerde arbeid en gemeenskappe om die Grondwet as ’n “lewende belofte” te verdedig. Deelnemers is aangemoedig om by Defend Our Democracy aan te sluit en aktief aan verkiesingswaarneming en plaaslike inisiatiewe deel te neem.
South Africa’s next local government elections are approaching, but are we using data to truly understand and engage voters?
A recent study by the Human Sciences Research Council, highlights a concerning trend showing a declining voter turnout in South Africa, with participation… pic.twitter.com/W1IhYeLcBC— Ground Work Collective (NPC) (@gwc_za) May 4, 2026
Plaaslike regering is die sfeer van regering wat die naaste aan mense se daaglikse lewens is, van vullisverwydering en water, tot straatligte en basiese dienste. Die webinaar het beklemtoon dat die staat se mislukkings direk lei tot gevoelens dat demokrasie nie resultate lewer nie.
Manning het gesê Suid-Afrikaners is nie apaties nie, maar uitgeput. Die uitdaging is om hierdie tamheid om te keer en te verander in konstruktiewe aksie voor die verkiesings.
Die RGN-navorsing dien as ’n belangrike barometer vir openbare sentiment. Dit toon dat Suid-Afrikaners nog waarde heg aan vrye spraak en regverdige verkiesings, maar toenemend twyfel of die stelsel hul belange dien.
Defend Our Democracy, ’n breë alliansie van organisasies en burgers, beplan om sulke gesprekke voort te sit en burgers te mobiliseer. Met die plaaslike verkiesings wat nader kom, is die boodskap duidelik: Demokrasie moet aktief verdedig en versterk word deur deelname, nie net by die stembus nie, maar in alledaagse aksies en verantwoordelike bestuur.
Die webinaar het meer as 70 deelnemers van regoor die land gelok en onderstreep die groeiende rol van burgerlike samelewing om ons vertroue in die demokrasie te herstel.
- Die volledige webinaar kan hier gesien word op YouTube.

