Demokratiese blou golf in VSA bring gemengde nuus vir Suid-Afrika

  • 0

Die dramatiese Demokratiese oorwinning in albei huise van die Amerikaanse Kongres in die VSA se middeltermynverkiesing het ’n nuwe politieke landskap in Washington geskep wat ook vir Suid-Afrika gevolge inhou en die twee lande met ’n meer komplekse stel verhoudings as ooit laat.

Die Demokrate het nie net die Huis van Verteenwoordigers herower nie, maar ook die Senaat oorgeneem in ’n ongewoon groot “blou golf” wat selfs diep Republikeinse state soos Texas, Kansas, Suid-Carolina en Iowa bereik het. Dit is ’n skerp afwysing van Trump se presidentskap ná twee jaar van Republikeinse beheer.

Vanaf Januarie 2027 sal hy genoodsaak wees om met ’n Demokratiese Kongres saam te werk of in konflik met hulle te regeer.

Vir Suid-Afrika is die onmiddellike vraag wat dit beteken vir die twee lande se verhouding wat die afgelope tyd onder aansienlike spanning verkeer. Trump het steeds die grootste deel van die mag om buitelandse beleid te bepaal. As uitvoerende gesag bly hy in beheer van die Withuis, sy land se Departement van Buitelandse Sake en Amerika se handelsbeleid tot Januarie 2029.

Hy kan dus steeds handelsbesluite neem, sanksies aankondig, visumbeperkings oplê en die toon van bilaterale betrekkinge bepaal. Die Demokrate se beheer van die Kongres maak dit egter vir hom baie moeiliker om sy agenda alleen deur te druk. Waar hy vroeër op ’n lojale Republikeinse meerderheid kon staatmaak om sy stappe te ondersteun, moet hy nou rekening hou met Demokratiese leiers soos Chuck Schumer in die Senaat en Hakeem Jeffries in die Huis van Verteenwooordigers.

Hulle kan ondersoeke loods, nominasies blokkeer, begrotings vertraag en politieke druk uitoefen. Dit skep ’n meer verdeelde regering waarin Trump se vryheid om aggressief teen lande soos Suid-Afrika op te tree, ietwat beperk word.

Die mees onmiddellike en pynlike voorbeeld is die Agoa-besluit (African Growth and Opportunity Act). Net voor die verkiesing het die Trump-administrasie aangekondig dat Suid-Afrika (saam met Rwanda) vanaf 1 Januarie 2027 sy voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark onder Agoa verloor.

Dit is ’n uitvoerende besluit waar Trump die mag het om lande se geskiktheid vir Agoa te hersien en te beëindig. Die Demokratiese oorwinning verander nie outomaties die regstatus van daardie aankondiging nie. Trump kan steeds weier om dit terug te trek.

Die nuwe dinamika in die Kongres skep egter ook nuwe moontlikhede. Demokrate kan verhore hou oor hoe die besluit geneem is, die administrasie dwing om meer deursigtig te wees, of nuwe wetgewing probeer deurvoer wat die proses heropen. Alhoewel Trump so ’n wet kan veto, verhoog dit die politieke koste van die besluit.

Die Demokratiese oorwinning hou dus gemengde nuus vir Suid-Afrika in met ’n effense positiewe kant op medium termyn. Die slegte nuus is dat Trump se Agoa-besluit bly staan en dat hy steeds die mag het om verdere stappe teen Suid-Afrika te doen.

Die goeie nuus is dat hy nie meer ongehinderd kan optree nie. ’n Demokratiese Kongres is histories meer geneig tot multilaterale samewerking, handelsdialoog en ’n minder ideologiese benadering tot Afrika.

Dit skep ruimte vir groter diplomatieke deurbrake, veral as Suid-Afrika bereid is om konstruktief met Demokratiese leiers saam te werk en op spesifieke Amerikaanse bekommernisse soos korrupsie en beleggingsklimaat konsentreer.

Suid-Afrika se beste strategie is nou om proaktief te wees en sy eie huis in orde te kry op die gebiede wat die Amerikaners irriteer, markte te diversifiseer, en tegelyk met beide die Withuis en die nuwe Demokratiese leierskap in die Kongres te skakel.

Die verkiesingsuitslag verander nie die magstruktuur oornag nie, maar dit maak die speelveld minder eensydig. Met Demokrate in beheer van die Kongres is die politieke omgewing vir Suid-Afrika gunstiger as onder volle Republikeinse beheer. Die Demokrate kan sorg dat Agoa op die agenda bly. Die finale mag om die besluit terug te trek, bly by Trump. Sonder sy samewerking is ’n volle omkering onwaarskynlik voor 1 Januarie 2027.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top