Die regering beplan steeds dat die meerderheid volwasse Suid-Afrikaners teen die einde van die jaar ingeënt sal wees teen COVID-19.
President Cyril Ramaphosa het Maandag die mikpunt herhaal te midde van ’n skerp styging in die aantal nuwe COVID-19-gevalle wat daagliks aangemeld word.
Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê COVID-19-gevalle het die afgelope paar weke uitsonderlik vinnig gestyg. Hy het ’n beroep gedoen dat Suid-Afrikaners moet saamstaan en die pandemie met alle moontlike veiligheidsprotokol moet bestry. Die styging in nuwe gevalle is reeds vyf keer hoër is as in April vanjaar.
Ramaphosa sê dit is noodsaaklik dat Suid-Afrikaners hulle laat inent sodra hulle daarvoor kwalifiseer. Hy sê die regering hoop om al vyf miljoen mense ouer as 60 tydens die huidige fase in te ent.
We are now in the midst of a third wave of the #COVID19 pandemic. We may be tired of this persistent enemy, but it is not yet tired of us. The threat to health and lives is evident as people become ill and some die. https://t.co/9VYeDPcpmq pic.twitter.com/AuOH7oUGKg
— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 #StaySafe (@CyrilRamaphosa) June 21, 2021
Daar word hierdie week begin om die sowat halfmiljoen onderwysers en ander personeel in die onderwyssektor ook in te ent. Die Vryheidsfront Plus het die aankondiging verwelkom.
Die party se woordvoerder oor gesondheid, Wynand Boshoff, sê in ’n verklaring sedert die aanvang van Covid-verwante inperkings het die VF Plus hom daarvoor beywer dat die onderwyssektor so gou moontlik heropen moet word. Daarom verwelkom die party die geleentheid wat geskep word om alle skoolverwante personeel wat dit verlang, te laat inent.
Die aangekondigde inentingsprogram sluit alle skole, openbaar en onafhanklik, sowel as alle personeel, onderwys-, administratiewe en ander personeel in. Personeellede wat deur die skoolbeheerliggaam betaal word, is ingesluit. Inenting is steeds vrywillig en nie 'n voorwaarde om as personeellid van 'n skool te dien nie.
Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Saterdag gesê skole wat deur COVID-19-besmettings geraak word, sal op 'n geval-vir-geval-grondslag hanteer word. Dit beteken dat skole waar geen gevalle voorkom nie, sonder ontwrigting kan voortgaan.
'n Aspek wat volgens die VF Plus wel kommer wek, is dat onderwysers met onderliggende siektetoestande ook ná die inentingsprogram na skole sal moet terugkeer.
Boshoff sê die Minister het tereg daarop gewys dat die entstof nie honderd persent beskerming bied nie. Dit beteken dat sommige onderwysers sal moet kies of hulle die risiko wil loop of vervroegde pensioen wil neem.
In Gauteng, waar die pandemie tans die ergste woed, heers daar kommer oor die provinsie se gesondheidsdienste. Die adjunkminister van gesondheid, Joe Phaahla, sê hoewel daar nog nie ’n krisis is nie, kan dit een word as die aantal infeksies in die provinsie bly styg.
Die VF Plus het verlede Vrydag in die Gautengse wetgewer gesê die Departement van Gesondheid in die provinsie is 'n skandalige ANC-instelling weens die omvang van COVID-19-tenderbedrog met die aanskaffing van beskermende toerusting.
Anton Alberts sê in ’n verklaring noudat die derde vlaag in Gauteng in volle swang is, word dit duidelik dat die departement nie na behore voorbereid is nie. Hy sê dit lyk of daar te min beddens beskikbaar gaan wees weens probleme by verskeie hospitale.
Die VF Plus sê die party vind dit ook uiters kommerwekkend dat die gesondheidsdepartement geen lesse geleer het uit die vorige twee vlae nie.
Intussen het die regering in Gauteng bevestig dat mediese personeel van die weermag by die Chris Hani Baragwanath Hospitaal in Soweto ontplooi gaan word. Dit volg nadat die provinsiale regering vroeër erken het dat dié hospitaal nie ten volle benut word nie. Die hospitaal beskik oor beddens, maar daar is ’n tekort aan dokters en verpleegkundiges. Meer as 5 000 Covid-pasiënte word tans in die provinsie se privaat- en staatshospitale behandel.
Die viroloog en entstofkenner Shabir Madhi het ook die Gautengse Departement van Gesondheid gevra om die personeelkapasiteit by die hospitaal se Covid-afdeling te vermeerder. Madhi het aan die SABC gesê die hospitaal is uitstekend toegerus. Dit maak egter nie sin om so ’n fasiliteit te hê sonder om genoeg personeel aan te stel nie.