Derde dosis teen COVID-19 oorweeg terwyl vierde golf nader

  • 0

Terwyl Suid-Afrika hom soos die res van die wêreld voorberei op ’n moontlike vierde golf van die koronavirus, word daar reeds voorbereidings getref vir ’n derde dosis van die Pfizer Comirnaty Booster-entstof.

Die nasionale medisynereguleerder, Sahpra, sê in ’n verklaring hulle het reeds ’n aansoek vir ’n derde dosis van die entstof ontvang.

Daar sal nou begin word om die doeltreffendheid en veiligheid van dié dosis te ondersoek, sê Sahpra in hulle verklaring. Die uitkoms van die assessering sal mettertyd gekommunikeer word

Miljoene Suid-Afrikaners wat reeds hul tweede dosis van dié entstof ontvang het, moet hulle dus gereed maak vir nóg ’n inspuiting.

Die Departement van Gesondheid het Woensdag ook aangekondig dat Suid-Afrika voorlopig die maatskappye Johnson & Johnson (J&J) en Pfizer gevra het om die lewering van entstowwe te staak. Daar is glo reeds te veel voorraad in die land en baie mense is steeds huiwerig is om geënt te word. Die entstowwe wat vir Suid-Afrika bestem was, sal nou na die res van Afrika gaan.

Intussen heers daar steeds wêreldwyd ’n vuurwarm debat oor die wenslikheid al dan nie van verpligte inentings.

Sentraal in die debat is die balansering van openbaregesondheidsprioriteite met etiese en wetlike oorwegings. Die mening van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) blyk te wees dat werknemersregte nie beperk kan word indien hulle weier om ingeënt te word nie.

Hierdie standpunt word sterk gekritiseer deur regs- en ander kundiges op die gebied, met sommige wat aanvoer dat die SAMRK die verskil tussen besmetting (die huidige pandemie) en aansteeklike siektes (soos dié wat deur MIV veroorsaak word) misgekyk het.

Die besprekings oor die vraag of COVID-19-inentings verpligtend gemaak moet word, is aangevuur deur die publikasie van ’n opdrag in die middel van Junie deur die staat oor die noodsaaklikheid dat werknemers in sekere werkplekke ingeënt moet word. Lees meer daaroor hier op die Departement van Gesondheid se webwerf.

Discovery, Sanlam en ander besighede in Suid-Afrika het reeds planne aangekondig om COVID-19-inenting vir werknemers te verplig. Verskeie universiteite en werkgewers oorweeg ook die moontlikheid van verpligte inentings van studente en werknemers.

Van die vrae waaroor tans by woonkomplekse gestry word, is: As besighede dit doen, kan die trustees of direkteure van jou gemeenskapsbehuisingskema dit ook doen? Kan inwoners of hul besoekers verplig word om bewys van inenting te lewer voordat hulle die kompleks binnegaan of van gemeenskaplike geriewe soos die swembad, gimnasium of klubhuis gebruik maak?

BusinessTech haal die spesialis-gemeenskapskemas-prokureur en BBM Law-direkteur Marina Constas aan: “As organisasies en sommige restaurante sê dat personeel en klante bewys van inenting moet lewer om in die kantoor te kan werk of in die instansie te kan eet, lyk dit dalk redelik, sinvol en selfs nodig dat lede van die regspersoon en huiseienaarsvereniging dieselfde verwag van die inwoners en besoekers tot gemeenskapsbehuisingskemas soos deeltitelkomplekse, woonstelblokke, residensiële landgoedere en aftreeoorde.”

Sy sê op die oomblik is geen definitiewe besluit deur die Hooggeregshof in Suid-Afrika geneem oor entstofmandate nie. Terwyl maatskappye hul reg uitoefen om entstowwe vir hul personeel te verplig, is die feit van die saak dat ons nog nie spesifieke wette of hofbeslissings het oor verpligte entstowwe met betrekking tot die stryd teen COVID-19 nie.

Business Unity South-Africa, wat onlangs aangekondig het dat hy ’n aansoek sal indien vir ’n verklarende bevel oor verpligte inentings, het na konsultasie met hulle regspan in ’n verklaring gesê hulle sal die insette met hul regsfirmas evalueer.

Martin Kingston, voorsitter, B4SA-bestuurskomitee sê die verteenwoordigers van hierdie regsfirmas sal insette met die BUSA-regsadviseur koördineer, insluitend die oorweging van enige regstreekse sake deur enige van hul kliënte. Die regspan sal dan adviseer oor die mees geskikte en vinnigste manier om wetlike duidelikheid oor verpligte inentings te kry, waarvan ’n verklarende bevel ’n oorweging sal wees.

Julian Savulescu, direkteur van Oxford Universiteit se Uehiro-sentrum vir praktiese etiek, het aan die nuusagentskap CNBC gesê die hoofgronde vir die implementering van dwangmaatreëls tydens ’n pandemie is om skade aan ander mense te voorkom.

"Jy is nie geregtig om met ’n geweer in die lug te skiet om ander mense te benadeel nie, en net so kan jy nie Covid ‘skiet’ wat ander mense in ’n skare kan doodmaak nie," het hy aan CNBC gesê.

Maar volgens Savulescu moet verskeie etiese voorwaardes nagekom word om dwangbeleide soos entstof- of maskermandate te regverdig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top