Suid-Afrikaners staal hulself vir die derde golf van die koronavirus wat op pad is en reeds twee provinsies getref het. In die Vrystaat het die provinsie se Departement van Gesondheid verlede week gesê die derde golf het reeds die provinsie getref, terwyl alles daarop dui dat die Noord-Kaap ook besig is om die derde golf te betree.
Die nuwe vlaag is vroeër hier as wat aanvanklik verwag is. Die eerste vier gevalle van die nuwe variant wat in Indië voorkom, is ook vir die eerste keer in Suid-Afrika aangemeld.
Op Excelsior het een van die skole sy deure gesluit nadat ’n aantal leerlinge en een van die onderwysers na afloop van die vakansie positief getoets is. Die dorp word tans as ’n koronavirusbrandpunt in die Vrystaat beskou.
In van die ander provinsies is die getal nuwe gevalle van mense wat positief getoets het, ook besig om toe te neem. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het Maandag in hulle daaglikse verslag gesê die Noord-Kaap se infeksiekoers het ook begin styg. Dié provinsie se infeksiekoers is tans die hoogste in die land. Die aantal mense wat landwyd behandel word, is sedert verlede week ook besig om weer te styg.
Gauteng was die provinsie wat Maandag die meeste nuwe sterfgevalle aangemeld het.
Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het die naweek gesê twee nuwe variante is in Suid-Afrika ontdek. Hy sê daar heers veral kommer in die Vrystaat, Gauteng en die Noord-Kaap.
The Network for Genomic Surveillance in SA (NGS-SA) confirmed today that 2 variants of concern, other than the B.1.351 already dominating in South Africa, have been detected. These are: B.1.1.7 (first detected in the UK)- 11 cases. B.1.617.2 (first detected in India)- 4 cases. pic.twitter.com/EigBCcgaJs
— Department of Health (@HealthZA) May 8, 2021
In die Wes-Kaap het die provinsie se premier, Alan Winde, ’n beroep op inwoners ouer as 60 jaar gedoen om te registreer vir fase twee van die inentingsveldtog in die provinsie. Dit begin op 17 Mei. Intussen word daar tot 15 Mei voortgegaan met die inenting van gesondheidswerkers. Winde het Maandag die “Kom-ons-doen-dit”-inentingsveldtog in Stellenbosch bekendgestel. Dit sal gevolg word met deur-tot-deur-besoeke in Cloetesville. Winde sê die Wes-Kaap verwag om vandeesmaand 260 000 enkeldosisse entstof van Johnson & Johnson te ontvang en 135 600 dosisse van die Pfizer-entstof. ’n Dubbeldosis van Pfizer moet toegedien word.
1/6 During the last weekly digital press conference on 6 May, I outlined the WC Gov’s vaccine rollout plan, focusing on Phase 2. The Dept. of Health have made steady progress in planning to vaccinate 5 076 130 people in the WC during Phase 2.
Statement➡️https://t.co/RMZBpuy6Ii pic.twitter.com/1IvgRSq6Wt— Premier Alan Winde (@alanwinde) May 9, 2021
In die Vrystaat, waar daar reeds verlede week bekend gemaak is dat die provinsie in sy derde vlaag is, het die gesondheidsdepartement in ’n verklaring gesê daar is ’n skokkende toename in die aantal infeksies. Die departement se woordvoerder, Mondli Mvambi, sê gemeenskappe moet seker maak dat hulle hul deel doen om die verspreiding van die virus te bekamp sodat die gesondheidstelsel nie oorstroom word met nuwe gevalle nie.
“Ons huidige vermoë om pasiënte te behandel mag dalk nie voldoende wees as dit tot die uiterste beproef word as gevolg van ’n versuim deur die publiek om te voldoen aan die nodige regulasies nie.”
Mvambi sê daar kan wêreldwyd gesien word geen gesondheidstelsel is in staat om te voorsien in die groot aanvraag na suurstof en intensiewe sorg as die getal nuwe infeksies handuit ruk nie.
Hy het ook mense aangeraai om te registreer vir inenting wanneer hulle gevra word om dit te doen.
Intussen bespiegel Suid-Afrikaners reeds oor die vraag of bykomende regeringsmaatreëls weer binnekort ingestel gaan word, soos die sluiting van drankwinkels. Zweli Mkhize sê egter Cyril Ramaphosa het nog geen aanduiding gegee dat inperkingsregulasies verskerp gaan word nie.
Die medevoorsitter van die ministeriële advieskomitee, Koleka Mlisana, het Suid-Afrika gevra om op hoë gereedheid te bly weens die variante wat sowel plaaslik as in die buiteland voorkom. Die sterftesyfer in die land nader reeds die 55 000-kerf. Suid-Afrikaners word gemaan om alle veiligheidsregulasies streng na te kom en plekke met baie mense en min ventilasie te vermy.
#COVID19 Statistics in SA as at 10 May.
Use the COVID Alert SA app to protect yourself, your loved ones and your community. Start using this privacy preserving app today. Add your phone to the fight! Download the Covid Alert SA app now! https://t.co/8YKEqaiiRF pic.twitter.com/frpAjBcOn7
— Dr Zweli Mkhize (@DrZweliMkhize) May 10, 2021