Die inhegtenisname van Transnet se voormalige groep- uitvoerende hoof, Brian Molefe, en ander voormalige topbestuurders van Transnet word as ’n belangrike deurbraak beskou om diegene wat na bewering vir staatskaping verantwoordelik was, aan die pen te laat ry.
Molefe en Transnet se voormalige finansiële hoof, Anoj Singh, was onder die vier mense wat Maandag in die spoormaatskappy se bedrogsaak van R93 miljoen deur die Valke in hegtenis geneem is.
Die saak teen die voormalige uitvoerende beamptes van Transnet wat in hegtenis geneem is, is Maandag in die Palm Ridge Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof aan die Oos-Rand uitgestel tot 14 Oktober.
Hul inhegtenisneming hou verband met ’n hoogs omstrede kontrak vir lokomotiewe wat die Suid-Afrikaanse belastingbetalers miljarde rand gekos het. Molefe ontken die bewerings teen hom en sê hy sal nie ’n verklaring aflê voordat die aanklagte teen hom bekendgemaak is nie.
Die Zondo-kommissie het bevind dat die Gupta-broers na bewering sowat R6 miljard uit die transaksie gemaak het.
Die groep wat Maandag in hegtenis geneem is, het saam met die voormalige bestuurshoof van Transnet, Siyabonga Gama, die voormalige hoof- finansiële beampte Garry Pita, die voormalige groeptesourier Phetolo Ramosebudi en die sakemanne Eric Wood, Daniel Roy en Kuben Moodley verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery.
Brian Molefe and co-accused released on R50 000 bail.
Brian Molefe, Anoj Singh and four other former Transnet executives were arrested early this morning in connection with a R93 million tender, corruption and fraud case.#MDNnews pic.twitter.com/WYjynabHrK
— MDN NEWS (@MDNnewss) August 29, 2022
Die DA en GOOD was van die opposisiepartye wat die inhegtenisnemings eerste verwelkom het.
GOOD sê die staatsvangnet het hiermee “’n paar groot visse ingetrek”, terwyl die DA die hoop uitgespreek het dat hierdie inhegtenisnemings slegs die begin is van die inhegtenisnemings van diegene wat geïmpliseer word.
GOOD sê in ’n verklaring die inhegtenisnemings is om verskeie redes belangrik. Nie net sodat geregtigheid sonder vrees of guns kan geskied nie, maar ook om ’n einde te bring aan die bewerings dat diegene wat van ernstige misdade beskuldig word, slegs slagoffers is van interne politieke faksiegevegte.
Verdoemende bewyse van Molefe en Singh se beweerde korrupsie is aan die Zondo-kommissie voorgelê. Die twee het nie net Transnet gelei nie, maar is ook tydens die hoogtepunt van die staatskapingstydperk as hoofde van Eskom aangestel.
Nadat die Valke nou die stap gedoen het om Molefe en Singh in hegtenis te neem ten opsigte van die verkryging van treine uit Spanje wat te hoog was om op Suid-Afrikaanse spore te ry, moet die Nasionale Vervolgingsgesag nou met haas beweeg om die saak te voer, sê GOOD in hulle verklaring.
🚆 The State Capture net has pulled BIG fish.
Brian Molefe and Anoj Singh have been arrested for involvement in Transnet's capture.
When the powerful are held accountable, we can begin to escape the quicksand of lawlessness.
🔗: https://t.co/F8mwCkeWYk pic.twitter.com/YICAuKhw6n
— GOOD (@ForGoodZA) August 29, 2022
GOOD sê uiteindelik moet die howe die laaste woord hê oor die skuld of onskuld van diegene wat by staatskaping betrokke is.
“Wanneer mense, selfs die magtiges, aanspreeklik gehou word (...), kan Suid-Afrika begin ontsnap uit die dryfsand van wetteloosheid en strafloosheid waarin hy vasgevang is.”
Die DA sê in hulle verklaring onder Molefe en Singh het die Guptas en ander ANC-kaders Transnet skynbaar as hul eie persoonlike spaarvarkie gebruik.
Die DA sê die volgende stap moet wees om die R41,2 miljard se kontrakte wat toegeken is aan maatskappye wat aan die Guptas en hul assosiaat Salim Essa toegeken is, te verhaal.
“Miljarde wat vir die ontwikkeling van Suid-Afrika se welvaart moes gegaan het, is gesteel en verkwis gedurende die jare van staatskaping.”
Die DA se woordvoerder oor justisie en grondwetlike ontwikkeling, Glynnis Breytenbach, sê hulle hoop dat die inhegtenisnemings van Molefe, Singh en ander Transnet-bestuurders uiteindelik die begin van geregtigheid is en dat alle ander wat geïmpliseer word, vinnig sal volg.
Singh en Molefe se arrestasie word allerweë beskou as ’n groot mylpaal in die ondersoekdirektoraat se belofte om op te tree teen staatskapers in ooreenstemming met die Zondo-kommissie se aanbevelings. Die Zondo-kommissie het in Februarie ’n magdom moontlike vervolgings aanbeveel wat aan Transnet gekoppel is.