Deurbraak vir privaatsektor in die stryd teen COVID-19

  • 0

Die regering se aanspraak om die alleenverskaffer en verspreider van COVID-19 entstowwe te wees het gesneuwel. Die weg is gebaan vir privaatverskaffers en verspreiders om by die enstofprogram betrokke te raak en te help om toe te sien dat meer mense ingeënt word.

Dit volg na voorgenome regstappe deur Solidariteit en AfriForum wat die regering gedwing het om toe te gee dat hy geen mandaat het op die alleenverkryging, -aankoop en -verspreiding van COVID-19-entstowwe nie.

Die twee organisasies het met regsaksie teen die regering gedreig om enige wetlike uitsluiting van die privaatsektor met die aankoop van entstowwe ongrondwetlik te verklaar.

Solidariteit en AfriForum het Dinsdag aangekondig dat die regering onder eed in hofstukke erken het dat daar geen wetlike beperking op die aankoop van Covid-entstowwe deur die privaatsektor is nie.

Solidariteit beskuldig die regering in ’n verklaring daarvan dat hulle politieke mag wou gebruik om onsekerheid met betrekking tot die aankoop en verkoop van entstowwe te saai.

Dit volg na uitlatings deur die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, wat onder andere gesê het dat die aankoop van entstowwe deur die sentrale regering bestuur gaan word. Hy het verlede maand in KwaZulu-Natal gesê die nasionale regering is verantwoordelik vir die direkte aankoop van entstowwe.

In die parlement het hy gesê dat sentrale aankope die beste opsie vir alle mense in Suid-Afrika sal wees. Hy het verder gesê die privaatsektor kan entstowwe by die regering koop.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, sê die regering het nou onder eed in sy hofstukke erken dat daar geen statutêre beperking op die aankoop van entstowwe deur die privaatsektor is nie. “Daar is nou regsekerheid dat die privaatsektor entstowwe mag aankoop en versprei, wat ’n reuseterugslag vir plunderaars is,” sê Hermann.

“Die staat het ’n geskiedenis van mislukking. Die SAL het geval, Eskom het ons ligte afgesit, munisipaliteite is bankrot en Denel kan nie salarisse betaal nie. Die regering het nie die vermoë om alleen die entstofproses te bestuur nie. Dit sluit aankope in. Die privaatsektor moet betrokke wees by die volle entstofwaardeketting – van aankope tot toediening. Om dit te verseker het Solidariteit en AfriForum hof toe gegaan om die nasionalisering van die entstofproses te verhoed,” sê Hermann.

Hy sê AfriForum en Solidariteit moes ’n hofsaak van stapel stuur om uiteindelik ’n antwoord van die regering te kry, terwyl ’n eenvoudige antwoord op hulle aanvanklike brief byna geen tyd sou gekos het nie.

AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, Ernst van Zyl, sê dit kom voor asof daar ’n doelbewuste poging tot verduistering deur die regering oor hierdie aangeleentheid is. “Dit noop ons om te vra, waarom is daar hierdie gebrek aan deursigtigheid?

“Die feit dat dit regsaksie vat om die regering te forseer om belangrike vrae te beantwoord oor ’n dringende saak wat lewens red, bewys hoe min waarde die regering werklik aan deursigtigheid heg. Hierdie saak het weereens bewys hoe noodsaaklik waghonde vir die burgerlike samelewing, soos AfriForum en Solidariteit, is in die voortdurende geveg om menseregte in Suid-Afrika te beskerm,” sê Van Zyl.

“Ons is verheug dat volgehoue druk deur Solidariteit en AfriForum tot gevolg gehad het dat werkgewers, mediese fondse en ander privaat instansies nou met vrymoedigheid vervaardigers kan nader vir onderhandelinge oor die entstowwe. Dit kan deurslaggewend wees in ons stryd teen die virus.”

Solidariteit het ’n beroep gedoen op groot werkgewers, mediese verspreiders, mediese fondse en ander rolspelers om op ’n groot skaal te begin om entstowwe aan te koop, te versprei en toe te dien. Hulle doen ook ’n beroep op verskaffers om nie net sentraal aan die regering entstowwe te verskaf nie, maar aan ’n verskeidenheid aankopers sodat daar meer rolspelers in die mark is, wat sodoende ook die verbruiker in staat stel om ’n keuse uit te oefen oor die entstof wat hy of sy wil laat toedien.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top