Die aanlynkonsertfenomeen: Musikante verruil die verhoog vir hul sitkamer

  • 0

Op 25 Desember 1906 staan die bemanningslede van die skip van die The United Fruit Company in die Atlantiese Oseaan voor ’n apparaat in die kajuit. Dan gebeur ’n wonderwerk. ’n Stem beur deur die luidspreker, al krakerig en stotterend. “Good evening, this is Professor Reginald Aubrey Fessenden, speaking to you from Brantrock, Massachusetts at the tower of the National Electrical Signaling Company.” Daarna volg ’n opname, vasgevang deur Thomas Edison, van Handel se “Largo”. Die sopraan wat hierdie lied gesing het, is onbekend, maar sy het die eer as die eerste persoon in die geskiedenis wat musiek op radio bedien het, dit wil sê vir ’n gehoor wat nie in die onmiddellike omgewing was van die musikant óf die speel van die opname nie.

Hierdie gebeurtenis het ’n era ingelui wat die tradisionele idee van wat ’n konsert is, onherroeplik verander het.

Vandag, 115 jaar later, bevind die ganse mensdom hom in ’n soortgelyke situasie. Ja, musiek en klanke is al sedert die eerste opname in 1878 uit die mond en instrument geneem en in ’n ander vorm gegiet, maar om dit te elders in die wêreld te hoor, in real time, was ’n eerste.

Die gonswoorde van die jaar, en heel moontlik van die eeu, is “COVID-19” en “online streaming”. Meer spesifiek kan laasgenoemde net sowel “online concert streaming” wees. Hoe twee onsigbare kragte, ’n virus en musiek, ’n generasie tot ’n mate definieer, bly ’n raaisel. Die een isoleer en die ander een verenig.

Hier is ’n kykie na hoe die musiekbedryf vir die tweede keer op sy kop gedraai is.

Die eerste vraag wat op die meeste se lippe is, en wat mense dalk te skaam is om te vra: As almal livestream, kan die internet “opraak” of breek? Is dit soos water wat ’n pyp kan laat bars? Of miskien raak die kabels warm en ontplof iewers langs die kus van Afrika af? Die rede waarom dit dalk ’n belangrike vraag is, is dat die internet een van die enigste bronne van kontak met die buitewêreld is. Dit is iets om aan te kou, siende dat daar nie eintlik iets anders is om te doen nie. As mens reeds alleen en verwerp voel en vir seker weet dat die duiwe oor jou skinder, sal ’n internet lockdown die fibre halmpie wees wat die kameel se rug des moers knak. Vir tyd en wyl is daai spuitfonteintjie wat wys hoe sterk jou wi-fi is, nog aan't water pomp. Maar, mens weet nooit nie.

Met die deure gesluit en die wynvoorraad laag, kan mens net sowel gaan loer wat ander mense aanlyn doen wat ook laag is op die dop en begin wonder of daai boom wat jy buite jou woonstelvenster sien, nie dalk al beweeg het sedert gister nie.

Sitkamers is die nuwe konsertverhoog. Binne ’n maand is ’n stadion vol mense ’n blote herinnering. In hierdie tradisionele manier van musiek lewer aan ’n groot gehoor word die massas in toom gehou en mag uitbundigheid slegs binne die reëls en regulasies van die sekuriteitswagte aan diens geskied. Die verhoogkunstenaars is bo die arm van die gereg en vir ’n paar uur is hulle boodskappers van die gode en is “reëls” ’n skelwoord wanneer die eerste kitaarakkoorde die luidsprekers laat bewe. Deesdae is dit andersom. Die gehoor sit by die huis en kan skree, die muur bliksem met ’n stoel, of enige aktiwiteit van jou voorkeur uitvoer. Jy mag ook baie drink en, o ja, die badkamer is in die gang af en nie honderd “excuse me, coming through”-verskonings ver nie. Die een wat vry was, is nou in die kou. Die persoon of groep wat ’n lewende konsert stream, kan nie gou opstaan en die kamer verlaat nie. Hy kan ook nie ’n tromstel verpletter of in ’n kamera spoeg nie. Nee, boetie, jy kan tee drink en jy moet op die noot sing. Want dink hieraan: Niall Horan van One Direction-faam se lewende Twitter-konsert het binne minute oor die 20 000 kykers gelok. Vir al die nuuskierige agies wat na hul fone staar, betaal ’n aantal borgskappe om sy lewenstandaard te handhaaf, en een spoeg-in-kamera of soortgelyke manewales en niemand gaan meer betaal vir sy haarsnye nie.

’n Oorsig van internsaionele streaming tendense

Die #TogetherAtHome-konsertreeks is ewe “viral” as die koronavirus. Vele internasionale kunstenaars het onlangs hul selfone staangemaak in hul sitkamers om konsert te hou, soos die elektroniesemusiek-ghoeroe James Blake, en ook John Legend, Pink en die tjellis Yo-yo Ma, Ben Gibbard van Death Cab for Cutie en Chris Martin van Coldplay. ’n Deurlopende tema in hierdie konserte is die eerste paar sinne van die kunstenaars. “1, 2, 3, 4. Can everybody hear me?”

Die elektroniesedans-DJ's is ewe bedrywig. Dansklubs is ook ’n taboe, maar skoffelgehore is nie geneë met stilsit nie. ’n Paar dae gelede is die Defected Virtual Festival van stapel gestuur met oa befaamde DJ's soos Calvin Harris, Claptone, Roger Sanchez en Sam Divine. Dan is daar die Rooms-Katolieke priester Guilherme Peixoto wat sy gemeentelede by die huis laat dans. DJ Guilherme Peixoto, soos hy bekend staan, sê oor sy Paasfees-diens/konsert: “Easter is joy, hope, and new life. Let's celebrate this with music and a lot of movement.” Nie net is sy boodskap aan Christene heilig nie, maar ook sy oorfone wat geseën is deur pous Francis tydens ’n besoek aan die Vatikaan.

Laas Sondag, 12 April, sing Andrea Bocelli in Milaan se Duomo-katedraal. Hy word begelei op die orrel deur Emanuele Vianelli en saam lewer hulle ’n uitvoering wat nog vir baie jare onthou sal word. Soos sy stem deur die gebou eggo, verskyn beeldmateriaal van hierdie stad se leë strate. Die somber beeldmateriaal is ’n teenpool vir die boodskap van hoop wat Bocelli aan die wêreld gebring het. Hy sê in ’n persverklaring: “I believe in the strength of praying together. I believe in the Christian Easter, a universal symbol of rebirth that everyone, whether they are believers or not, truly needs right now. Thanks to music, streamed live, bringing together millions of clasped hands everywhere in the world, we will hug this wounded Earth's pulsing heart.”

’n Oorsig van aanlyn konserte op tuisfront

Suid-Afrikaanse kunstenaars laat nie op hulle wag nie. Die woord “lockdown” was nog nie koud nie of ’n groot verskeidenheid live video’s het deur die fibre kabels geblits. Hier is maar ’n paar van die optredes wat die virusvrees vir ’n uur of wat in die kiem gesmoor het.

Zolani Mahola speel elke dag ’n konsert op haar Facebook-blad. Die opbrengste word geskenk aan verskeie liefdadigheidsorganisasies.

DJ Black Coffee hou elke Saterdagaand konsert met die titel Home brewed live streaming party.

Splashy Fen Music Festival is aanlyn aangebied met kunstenaars soos Goodluck Goldfish, Jeremy Loops, Juzzie Smith en Veranda Panda.

Standard Bank Arts Live Sessions vind weekliks plaas met jong talent wat deur hierdie instansie geborg word. Kunstenaars wat hier te siene is, sluit in: die jazzmusikant Nduduzo Makathini; komponis, baskitaarspeler en vervaardiger Shane Cooper; pianis en sanger Thandi Ntuli; en een van Suid-Afrika se vooraanstaande jazzkontrabasspelers, Benjamin Jephta.

Charl du Plessis, die jazzpianis, sou ’n konsert hierdie jaar gehou het in die Kangogrotte tydens die KKNK, maar hy het die konsert in sy huis gespeel.

As jy ’n selfoon het en noot kan hou, is jou kans om voor duisende aanhangers te sing net ’n vingergly oor jou slimfoon ver. Stem jou kitaar, leer ’n liedjie of twee en smeek jou wi-fi om sy ding te doen. Die wêreld is gestroop tot die essensie van bestaan – rou eerlikheid teenoor jou medemens en jouself. En daar is niks so rou en eerlik soos iemand wat in sy sitkamer sit en deelneem aan die tendens wat ons almal verenig nie.

Bronne

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top