Te midde van die voortdurende (én toenemende) druk oor die geheimsinnige diefstal by sy wildsplaas Phala Phala – ’n selfgeskepte albatros om sy nek – kry president Cyril Ramaphosa in die komende week ’n geleentheid om op die internasionale verhoog ’n bietjie asem te skep.
Maar dit is ook nie te sê nie: In Washington, waar hy ’n werksbesoek bring, sal sy Amerikaanse eweknie, president Joe Biden, ongetwyfeld probeer om Ramaphosa tot ander insigte te bring oor Suid-Afrika se standpunt oor die Rusland-inval in Oekraïne. Suid-Afrika steun Rusland onbeskaamd – en die Weste frons openlik hieroor. Om dié rede het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, in Augustus besoek aan die land gebring.
Nie net een nie, maar dan twee albatrosse om die nek van Ramaphosa as staatshoof. Dit is as jy die oorsprong van die gesegde in die konteks van Samuel Taylor Coleridge se gedig “The Rime of the Ancient Mariner” in ag neem; te wete onheil wat jy oor jouself gebring het.
Nóg ’n kwessie, wat Donderdag met hul ontmoeting deur Biden en Ramaphosa bespreek sal word, is ’n belangrike een vanuit ’n Afrika-konteks. Dié kwessie is voedselsekerheid. Honger mae word hier teenoor historiese, politiese lojaliteit opgestel. Hoe dit gaan uitspeel, is moeilik voorspelbaar.
Wat ook al, Ramaphosa sal die paar dae in die buiteland as tydelike verligting beskou, terwyl sy kop tuis geëis word deur politiese trofeejagters. Die EFF hardloop heel voor; die DA en ander opposisiepartye agterna. ’n EFF-optog na die kantore van die Openbare Beskermer in Pretoria is een van die wyses waarop die party aandring op toegang tot die OB se verslag oor die Phala Phala-diefstal.
Ramaphosa het homself verder in onguns gekry deur sy versoeke vir uitstel om vrae te beantwoord van die OB en ook die Reserwebank – in elke geval twee keer. Intussen het van sy antwoorde op die vrae uitgelek, waardeur onder meer aan die lig gebring is dat die geld wat gesteel is, vermoedelik afkomstig sou wees van ’n kontanttransaksie met ’n Soedannese sakeman ten bedrae van ongeveer $8 miljoen.
Indien akkuraat, is baie meer geld vermoedelik ter sprake as die aanvanklike “tussen $4–$6 miljoen” wat in die oudspioenbaas Arthur Fraser se beëdigde verklaring oor die diefstal genoem is. Die presidentskantoor het uit die staanspoor ontken dat soveel geld gesteel is, maar is deur die Fraser-klag gedwing om te erken dat ’n diefstal wél plaasgevind het – en nie by die polisie aangemeld is nie.
Hieroor moet Ramaphosa ’n hele paar vrae beantwoord: Waarom hy verkies het om die presidensiële beskermingshoof van die diefstal in te lig, eerder as die polisiediens; presies hoeveel geld gesteel is; hoeveel in die huis gehou is; waarom dit nie (soos wat die Reserwebank-regulasies vereis) verklaar en gebank is nie; en verder ook vrae oor die wyse waarop die presidensiële beskermingshoof Wally Rhoode die klagte hanteer het, of verdagtes in hegtenis geneem is, aangerand is, of omgekoop is om oor die diefstal te swyg. Dit sou goeie materiaal bied vir ’n lekker John le Carré-spioenasie- of ’n Deon Meyer-krimiroman.
Of ’n politieke riller, soos die soort wat deur ’n ander topverkoperskrywer James Patterson en die Amerikaanse oudpresident Bill Clinton neergepen is.
Tot Ramaphosa se verligting (of dalk die oorsaak van verdere presidensiële hoofpyne) is vraetyd in die Nasionale Vergadering ’n week gelede kortgeknip vóórdat hy alle opvolgvrae oor die Phala Phala-diefstal beantwoord het. In sy inleidende reaksie op die oorspronklike vraag, was hy in elk geval vaag. Graag soos wat hy sou wou, sal hy egter eers behoorlik kan antwoord wanneer alle wetstoepassingsagentskappe se ondersoeke na die kwessie afgehandel is, het hy voorgehou.
Die opposisie was boos. Hulle glo die Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula het Ramaphosa boonop beskerm deur die vraesessie weens tydsdruk te beëindig. Nou moet hulle tot 29 September wag om verdere Phala Phala-vrae aan hom te stel – dit is die vroegste wat hy beskikbaar sal wees, onder meer gegewe sy Amerikaanse reis, soos sy kantoor die Speaker laat weet het.
Die dood van die Britse monarg koningin Elizabeth II mag Ramaphosa dalk bietjie langer landuit hou, wie weet, as haar begrafnis saamval met sy beplande terugkeer huis toe. Selfs dán sal hy steeds ingewag word deur die opposisie, die parlement, die Valke, die OB, die Reserwebank, en teenstanders vanuit die geledere van die ANC. Die Phala Phala-albatros sal nog ’n ruk lank om sy nek bly hang.
Sal dié skandaal tot sy politieke heengaan lei, word gewonder, soos wat die geval was met die seevaarder in Samuel Taylor Coleridge se gedig oor verantwoordbaarheid, vergifnis, boetedoening en berou?
Buro: MvH