Die ANC behoort in kwarantyn geplaas te word sodat die land kan herstel van die skade wat die afgelope jare onder hulle bewind aangerig is.
So het die politieke kommentator en uitvoerende hoof van die strategiese kommunikasiefirma DonValley Reputation Managers, Solly Moeng, tydens ’n gespreksgeleentheid van die gespreksgroep DINK in Somerset-Wes gesê. Moeng is ook die sameroeper van SA Brand Summit & Awards.
Volgens Moeng het die ANC die afgelope jare onder Zuma se bewind onherkenbaar verander. Dit het die land se handelsmerk onberekenbare skade berokken. Hy sê die ANC is nie in staat om die land op die regte koers te stuur terwyl die kanker van verrotting steeds in die party aanwesig is nie.
Moeng, wat ook ’n gereelde bydraer op Media24 se finansiële blad Fin24 is, sê dit is onrealisties om te verwag dat president Cyril Ramaphosa die land gou sal kan regruk. Hy sê daar is nog te veel van Zuma se ondersteuners in strategiese posisies en Ramaphosa moet gedurig oor sy skouer kyk.
Volgens Moeng is die enigste oplossing vir Suid-Afrika ’n nuwe politieke party wat waardegedrewe is en waarin alle Suid-Afrikaners tuis kan voel. Die EFF is volgens hom niks anders as ’n rassistiese party nie terwyl die DA ook nie oor die potensiaal beskik om die land saam te snoer nie. Hulle het te veel bagasie en is self onderling verdeeld. Volgens hom moet daar iets nuut kom in die plek van die bestaande partye.
Die stigting van Cope het die ANC in 2008 baie bekommerd gehad maar die leierskaptwis tussen Mosiuoa Lekota en Sam Shilowa het die party se kanse om ’n wesenlike rol te speel vernietig, sê Moeng. Hy voorsien nie dat Cope weer ’n noemenswaardige magsbasis sal kan opbou nie.
Dit grief hom dat baie wit Suid-Afrikaners voel hulle is nie welkom in die land nie. Hulle is volgens Moeng net so deel van die land soos enige ander Suid-Afrikaner. Hulle moenie skaam wees om hul stem te laat hoor nie anders raak hulle deel van die narratief dat wittes in Suid-Afrika nie op ’n mening geregtig is nie. “’n Jong wit dogtertjie het net soveel reg soos enige ander Suid-Afrikaner om te aspireer om eendag president van die land te word en moet aangemoedig word om dit te doen.”
Wit Suid-Afrikaners moet egter nie probeer om apartheid goed te praat en te maak asof dit nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. Moeng sê hy het organisasies soos Solidariteit en AfriForum dikwels in die verlede verdedig maar Kallie Kriel se onlangse uitlatings oor apartheid maak dit vir hom onmoontlik om weer vir hulle in die bres te tree.
Diegene wat apartheid probeer verdedig besef nie die skade wat dit oor geslagte heen aan mense se psige aangerig het nie, het Moeng gesê. Dié skade is steeds sigbaar in die samelewing. Suid-Afrikaners wat onder apartheid gely het moet ook besef dit het tyd geword om hulself nou te bemagtig.
Moeng sê die ANC maak ’n fout om mense onbepaald afhanklik te maak van staatshulp. Dit skep ’n samelewing waar geen nuwe vaardighede aangeleer word nie en talle Suid-Afrikaners tot hulle eie nadeel afhanklik bly van regeringshulp om te oorleef. “Dit help nie om vir mense vis te gee om te eet as hulle nie geleer word om self vis te vang nie.”
Buro: NB