Die vakbond Solidariteit het met ’n veldtog begin om mense by te staan wat as gevolg van COVID-19 in krisissituasies verkeer
’n Sogenaamde welstandsbarometer is deur Solidariteit begin om mense te help om hierdie moontlike krisisse te hanteer.
Volgens Solidariteit ervaar die meeste mense, indien nie almal nie, nou ’n mate van druk. Solidariteit Helpende Hand se welstandsbarometer se doel is om mense veral in die werkherstelproses tydens en na die COVID-19-krisistyd by te staan.
Die voortdurende blootstelling aan baie sterfgevalle en die gepaardgaande hartseer oor ’n uitgerekte tydperk kan ook depressie by gesondheidswerkers tot gevolg hê. Dit is volgens Solidariteit een van die redes waarom hulle Welstandweek loods.
Die welstandsbarometer is deel van Solidariteit se omvattende werkherstelprogram. Om van die barometer gebruik te maak moet mens ’n elektroniese vorm op hulle webwerf invul en aan hulle stuur.
Solidariteit sê die barometer is bloot ’n basiese aanduider van welstand. Indien nodig moet professionele hulp bekom word. Die Solidariteit-werkherstelprogram bied ook verskeie ander hulpmiddels wat persone kan bystaan.
Volgens Solidariteit toon navorsing dat persone met ’n hoër positiewe welstand, wat insluit algemene geluk of lewenstevredenheid, oor die algemeen meer positief funksioneer. “Welstand is dus ’n dinamiese proses waarvan die komponente interaktief met mekaar funksioneer.”
Die welstandsbarometer is ’n “slim webblad” wat aan persone ’n breë gevoel kan gee oor hoe dit met hul finansiële, werk-, emosionele en geestelike welstand gaan. Die barometer kan aandui dat ’n persoon op ’n sekere vlak positiewe welstand ervaar, maar moontlik op ander vlakke ondersteuning nodig het. Toets jou welstand hier: https://welstand.solidariteit.co.za/welstandsbarometer.
Solidariteit het op Twitter gesê mense verskil van mekaar in terme van hoe hulle op krisisse reageer. Veerkragtigheid is geïdentifiseer as ’n sleutelfaktor in die bepaling van hoe mense aanpas. Die hulpbronne om sulke uitdagings te hanteer verskil van mens tot mens en situasie tot situasie. Sommiges glo dat ekonomiese vooruitgang vir ’n mens geluk bring, maar hierdie aanname is lankal reeds verkeerd bewys, sê Solidariteit.
“Sonder dat ons dit besef affekteer self-isolasie en kwarantyn mense se normale aktiwiteite, roetines en werksaamhede.” Dit lei volgens Solidariteit tot ’n toename in eensaamheid, angs, depressie, slaapversteurings, alkohol- of dwelmmisbruik, en ook tot selfdoodneigings.
WELSTANDWEEK: Sonder dat ons dit besef affekteer self-isolasie en kwarantyn mense se normale aktiwiteite, roetines en werksaamhede. Dit lei tot ʼn toename in eensaamheid, angs, depressie, slaapversteurings, alkohol- of dwelmmisbruik, en ook tot selfdoodneigings. pic.twitter.com/wakGkd1UaX
— Solidariteit (@solidariteit) April 6, 2021
Die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), Tedro Adhanom Ghebreyesus, het intussen in ’n mediaverklaring gesê die koronavirus het sekere mense harder getref as ander. Hy sê die WGO gaan in die komende week ’n wekroep doen om te vra dat gesondheid vir alle mense bevorder word.
COVID-19 het volgens hom veral in lande waar daar diskriminasie, armoede en humanitêre krisisse is, meer siektes en sterftes tot gevolg. Hy sê die COVID-19-pandemie floreer in ongelykheid en die COVID-19-krisistyd het reeds miljoene mense na groter armoede gedryf. Dit is volgens hom van die uiterste belang dat regerings hulle gesondheidstelsels versterk.
RSG het Dinsdag berig dat koronaverwante sterftes wêreldwyd reeds op meer as drie miljoen staan tydens ’n globale herlewing van COVID-19-infeksies, wat probleme skep vir inentingsprogramme. Dit is volgens Reuters se jongste syfers. Wêreldwyd is COVID-19-sterftes besig om toe te neem, veral in Brasilië en Indië.
Gesondheidsowerhede plaas die skuld op uiters oordraagbare variante wat eers in die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika geïdentifiseer is, tesame met die publiek se voosheid met inperkingsmaatreëls. Volgens Reuters het dit meer as ’n jaar geduur vir die koronavirus se dodetal om twee miljoen te bereik. Die volgende miljoen sterftes het binne slegs drie maande plaasgevind. Brasilië het die wêreld se hoogste daaglikse dodetal met een uit vier sterftes wêreldwyd.