Die dag toe 49 "A(f)erikaners" op die vliegtuig geklim het

  • 0

Wit mense in die algemeen is eens deur ’n staatshoof, oudpres Thabo Mbeki, as “koloniste van ’n spesiale soort” bestempel. Of dit is hoe dit geïnterpreteer is. Maar dit was in die besonder stemme uit die Afrikaner-gemeenskap wat hewig daarteen protes aangeteken het.

Die beskrywing, as ek dit nie mis het nie, was egter in werklikheid ’n verwysing – in ’n interne ANC-besprekingsdokument oor die “nasionale vraagstuk” – na ’n (feitelike) situasie wat hier aan die voetenent van Afrika afgespeel het. Soos die dokument dit stel: “The liberation movement in South Africa characterised our society as Colonialism of a Special Type to describe the unique situation where both the colonisers and the colonised shared one country.”

“Waar die koloniseerders en die gekoloniseerdes een land deel”, maar uiteindelik het kolonialisme plek gemaak vir apartheid en apartheid is toe met die aanbreek van die negentigerjare deur die dagbreek van demokrasie vervang. Nou sou die voormalige gekoloniseerdes aan die stuur van (staat-) sake wees; die voormalige “koloniste van ’n spesiale soort” moes daaraan gewoond raak.

Breedweg beskou, het sake heel goed verloop; dog, mettertyd, het die gevoel van vervreemding – werklik en verbeeld – onder veral Afrikaners al hoe feller geraak. Dit was veral tasbaar in die werksplek, in die viering van nasionale dae, in die samestelling van sportspanne en in toenemend dreigende uitsprake van vyandige politieke figure. Oor grondbesit, byvoorbeeld: in die verlede ’n Peter Mokaba; in die hede ’n Julius Malema.

Die Mandela-versoeningsperiode en gepaardgaande lofwaardige ideaal van ’n reënboognasie, wat tussen die Mokaba- en Malema-tydperke die politiek in Suid-Afrika gekenmerk het, is al minder beklemtoon. Nie Mbeki of sy opvolger, Jacob Zuma, het hul hande vuil gemaak om ’n gevoel van samesyn te bevorder nie. Mbeki het wel die ekonomie laat groei, maar dié prestasie word meermale vergeet omdat sy intellektuele bevraagtekening van die oorsake van MIV/Vigs dit oorskadu. Zuma het hom na die staatskoffers gehaas; sy vriende en familie met Mbeki se surplus verryk. Dit het toe Zuma se plaasvervanger, Cyril Ramaphosa, gekos om die ewewig, of balans, te herstel. Maar dit was nie lank nie, toe moes hy vure doodslaan oor onder meer versteekte miljoene dollars onder ’n rusbank op sy wildplaas. En, in elk geval, wat die samehorigheidsprojek se uitdagings betref, het die ergste gelukkig nooit gebeur nie – dit wil sê, geen bloedige vergeldingsaksies, soos voor die 1994-verkiesing gevrees is nie.

Misdaad is wel ’n donker kol, maar dit geld wit sowel as swart – en in bepaalde opsigte meer so vir swart, maar ’n mens hoef ook nie altyd aan die versoeking te voldoen om met hierdie soort goed kleurvergelykings te tref nie. Eweneens, wat die angswekkende verwagte oorspoel betref van die Zimbabwe-grondgrypeffek, waaraan wit boere onder Robert Mugabe onderwerp is, het gesonde verstand tot nou geseëvier; wat dit beteken, is dat die howe enige sulke planne summier in die kiem sou smoor. Selfs die opspraakwekkende Onteieningswet en die Bela-wet oor basiese onderwys het – hoewel dit gevaar inhou – nog nie in die praktyk die ergste laat gebeur nie.

Ons dog toe ons is eintlik heel skaflik op koers – vratte en al – met ’n regering van nasionale eenheid wat ná Mei 2024 se verkiesing saamgestel is. Toe gebeur daar ’n vreemde ding. Uit Amerika (“land of the free”) word uitkoms deur pres Donald Trump gebied vir Afrikaners wat nie meer so vry voel in hul eie land nie. Trump het, minder as ’n honderd dae ná die aanvang van ’n tweede presidensiële termyn, op ’n byna onverklaarbare wyse hierdie intense besorgdheid oor die wit minderheid in Suid-Afrika ontwikkel.

Maar nou moet jy weet, dit is omdat hy blykbaar iewers gehoor het, dit as die waarheid aanvaar en dit daarom reeds ’n paar keer herhaal het – al weet ’n mens nie of hy dit noodwendig self glo nie – dat Afrikaners op die oomblik in Suid-Afrika slagoffers van ’n volksmoord sou wees. Ook dat hul grond (reeds) voor die voet deur die staat afgevat word: “Terrible things,” soos hy dit noem, vind in Suid-Afrika plaas. Nie eens ’n regstreekse regstelling deur Ramaphosa in ’n telefoongesprek met Trump het dié van sy “feite” laat afsien nie. Trump lê ’n groot deel van die skuld voor die deur van “woke media” wat in sy beskouing weier om oor dié “verskriklike vergrype” verslag te doen.

Nou moes daar tot aksie oorgegaan word; ’n reddingsboei gegooi word na die slagoffers. Hulle sou kon reken op vlugtelingstatus – selfs al het die Trump-administrasie sedert Januarie die land se immigrasie- en vlugtelingbeleid tydelik opgeskort – en die versnelde prosessering van hul toegang tot hulpbronne met hul aankoms in die land. Altesame 49 het dié geleentheid met albei hande gegryp en het die afgelope week in hul nuwe, aangenome tuisland aangekom – gereed om ’n nuwe lewe daar te begin. Elkeen met ’n Amerikaanse vlaggie, wapperend, in die hand.

Die kritiek op hul besluit en die Amerikaanse regering se gretigheid om hulle spesiale behandeling te bied het onmiddellik ontplof. Wie is die mense? is gevra. Wat is hul werklike motivering om soontoe te verhuis? En, terselfdertyd, die teenargumente: Waarom nie?! Hoe lank moet Afrikaners nog die ANC se openlike afjak op die kinnebak vat? Of soos Koos Kombuis op sy Bloedrivier-album vra: “Hoe lank moet ons nog sorry sê?”

Bestaan daar ’n sinvolle verklaring vir waarom Trump volhard daarmee om Afrikaners se grondwetlik beskermde bestaan in Suid-Afrika om te draai in een waar jy moet vrees vir jou lewe en jou besittings (of, in die werklikheid wat hy vir homself geskep het, reeds “uitgemoor” word)? Net hy sal weet. Maar om ’n waagkans te vat: Miskien is dit sy manier om Suid-Afrika terug te kry vir die klag van volksmoord teen Amerika se bondgenoot Israel vir oorlogsdade wat dié land in die Gaza-strook pleeg. Dit is hoe hy dan vir die wêreld kan sê: “Sien julle wat Suid-Afrika aan sy eie burgers doen – presies dit waarvan hy Israel beskuldig! Nou moes ek hulle help om uit die land te vlug. Klomp skaamtelose skynheiliges!”

Vanselfsprekend is dit nie verkeerd van enigiemand om ’n beter heenkome te soek as dinge onuithoudbaar raak daar waar jy gevestig is nie, soos wat dit skynbaar vir die 49 nuwe “A(f)erikaners” die geval is. Maar wil ’n mens regtig die begunstigde wees van voorkeurbehandeling (’n aanbod, ’n vergunning, ’n verbuiging van die reëls) wat op leuens steun? En is jy gemaklik daarmee om hierna as “vlugtelinge van ’n spesiale soort” bekend te staan?

Lees en kyk ook op LitNet:

Besoek aan die Withuis – uiteindelik! (16 Mei 2025)

Die 49 wit Afrikaanssprekendes in die VSA: "vlugtelinge" of vlugtelinge?

Elders gesien: Van ’n president verwag ’n mens beter

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top