Die dood van ’n Suid-Afrikaanse illusie

  • 0

Hierdie is ’n artikel oor onluste, waar die aksie nog nie verby is nie; en dalk het dit ook nog nie werklik in alle erns begin nie. Jou korrespondent in Johannesburg skryf dus wyl die storie nog ontwikkel. Wat jy nou hier lees, het dalk al netnou reeds weer verander, maar ek kan bevestig dat dit wel plaasgevind het.

Die hutsmerk #SouthAfricaIsBurning som die storie deels op. Dit bevestig wat aan’t gebeur is, hoewel dit nie álles vertel nie – “álles” sluit die politieke konteks en die ekonomiese agtergrond en die samelewingsnuanses in.

Dit het begin met aanvalle en die plundery van vragmotors op die N3-snelweg op pad na die Durban-hawe, ’n ekonomiese anker. Omdat dié soort aanvalle egter vir ’n geruime tyd reeds aankom, het dit nie aanvanklik te veel aandag getrek nie. Maar wat die hele land sedert die naweek laat ópkyk het van waarmee hulle ook al op daardie oomblik besig was, was toe die eerste berigte uitgesaai word – op sosiale media, televisie, radio en deur aanlyn publikasies – dat winkelsentrums nou aangeval word.

Die meer akkurate beskrywings is: oorgeneem word; besteel word; agebreek en afgebrand word.

Nou is daar behoorlik, en met kommer, kennis geneem van die beelde wat oor TV-, rekenaar- en slimfoonskerms flits: plunderaars, oud en jonk, met winkeltrollies vol buit en voertuie wat gelaai word met alles van elektriese toebehore tot sanitêre doekies; ’n man met ’n grootskermtelevisiestel of kroegyskas op die skouer; ’n vrou met ’n 20 kg-sak mieliemeel op die kop; ’n kind met 1,5 liter-koeldranke onder die arm.

Dit is veronderstel om ’n manifestering te wees van mense se hulpeloosheid in die aangesig van tussen 30% en 40% werkloosheid (en na raming tot nagenoeg 60% onder die jeug). Ook die ekonomiese impak van die Covid-grendelregulasies dra die blaam na aanleiding van inperkings deur die regering, wat met verdere verlore werksgeleenthede of ’n tydelike verlies aan inkomste gepaardgaan.

In die soeke na ’n verklaring lees ek weer die inleiding van Nancy Gibbs se artikel vir TIME oor hoe Amerikaners van die katastrofe van die 9/11-terreuraanval probeer sin maak het. “If you want to humble an empire, it makes sense to maim its cathedrals,” skryf sy. “They are symbols of its faith, and when they crumple and burn, it tells us we are not so powerful and we can’t be safe.”

Wanneer jy “terreur” met “plundery” vervang, verwoord die Gibbs-aanhaling ongetwyfeld die ervaring van Suid-Afrikaners met betrekking tot die afgelope week se katastrofiese gebeure: “winkelsentrums” vervang “katedrale” of die “Twin Towers” van die VSA se World Trade Center in 2001. Twee dekades later stort winkelsentrums as ’n simbool van oorvloed, rykdom en kapitalisme weens die gewelddadige en misdadige optrede van meestal arm, werklose mense in duie en word deur die vlamme van brandstigting verslind.

Nou sal meer mense in die gemeenskappe wat hierdeur geraak word, sonder werk sit; nou sal diegene wat deur die winkelsentrum toegang tot supermarkte en ander noodsaaklikhede gehad het, moet elders heen. Plaaslike entrepreneurs sal van voor moet begin. En waar sal die geld vir vervoer ná die hoop van beter dae vir die arm, werkloses vandaan kom?

Nie almal wat aan die proteste en plundery deel het, is in elk geval ewe duidelik oor wat hulle betrokkenheid aanhits nie. Die meeste klink of hulle net gehoor het jy kan gaan gryp by die plaaslike mall; ander probeer jou wel oortuig dat die onluste veroorsaak word deur hulle aandrang dat Jacob Zuma vrygelaat moet word.

Zuma is van middernag vannag (Woensdag 14 Julie) presies ’n week lank agter tralies nadat hy tot 15 maande tronkstraf deur die Konstitusionele Hof gevonnis is weens sy minagting van die hof. Dit was ’n eerste vir die land se regstelsel, omdat die Konstitusionele Hof die hoogste hof in die land is en nie gewoonlik die rol van ’n strafhof aanneem nie, maar normaalweg ’n finale oordeel moet vel oor die laer howe se bevindings en beslissings.

Hieroor het Zuma se regspan die afgelope Maandag ’n aansoek in die hof gebring dat sy skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel moet word. Die hof het uitspraak voorbehou en ons is nie seker hoeveel tyd hulle sal benodig om ’n besluit te neem nie; wat Zuma se skuldigbevinding en vonnisoplegging betref, het dit hulle sowat drie maande geneem.

Die gebeure van die afgelope week het gemaak dat pres Cyril Ramaphosa Maandagaand vir ’n tweede keer (in twee dae) die land toegespreek het (nadat hy dit ook die vorige aand gedoen het). Dit was ongekend. Die eerste keer was weliswaar om ons op hoogte te bring van waar sake met die hantering van Covid staan, maar toe haak hy ook daaraan sy afkeuring van die geweld wat sedert die naweek begin kop uitsteek het. Die volgende aand het hy hom uitsluitlik oor die geweld uitgespreek: “Ek het duidelike instruksies aan die wetstoepassingsagentskappe gegee dat streng teen die skuldiges opgetree moet word,” was sy boodskap.

Maar die minister van polisie, Bheki Cele, was skoonveld en tjoepstil ... tot gister, toe hy en ander justisie- en veiligheidskabinetsministers ’n media-inligtingsessie gehou het. Cele het gesê die wetstoepassingsagentskappe het goeie werk gedoen. Die minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, het gesê dinge kon veel erger gewees het, maar is danksy die intelligensie-agentskappe afgeweer. Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het gesê die situasie is nog nie so erg dat dit die afkondiging van ’n noodtoestand verg nie.

En die mense van die land, sowel as polisiëring- en militêre kenners, het met verbasing na hulle gekyk en geluister, want wat die ministers gedurende die inligtingsessie voorgehou het, glimlaggend en dapper, was vir die mense en die kenners van die werklikheid van hul ervaring verwyder.

Terwyl hulle gepraat het, het die plundery dan houtgerus op sommige plekke voortgeduur, soos die vorige aand toe die President gepraat het. Maar hier, nou, was daar darem ook sigbare optrede deur die polisie en weermaglede wat van die plunderaars in toom probeer hou het.

En nog is dit het einde niet.

Toe die President Maandagaand gepraat het, was die dodetal as gevolg van die onrus 26. Teen die tyd dat minister Cele gisteroggend die inligtingsessie toegespreek het, het dit reeds tot 45 gestyg. Toe ek gisteraand met hierdie artikel begin het, was dit 72.

Maar daar was ook een onaangetekende sterfgeval, naamlik die dood van die illusie dat wat ons tans sien gebeur, nie tot nou in Suid-Afrika moontlik sou wees nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top