
Grafika: Pixabay.com
Die duiwel is behoorlik los soos wat Suid-Afrikaners mekaar in die hare vlieg oor ’n omstrede kunsuitstalling van ’n matriekleerling by die Curro-skool Grantleigh in Richardsbaai.
Die skool het ná ’n hewige mediaherrie besluit om die omstrede uitstalling te onttrek nadat een van die ouers gekla het dit is satanies en laat die deur oop vir demoniese magte.
In die video wat wyd op die internet gedeel is, vaar ’n ontstoke pa emosioneel uit teen die uitstalling.
A pupil from Grantleigh Curro (a private Christian school) has the Christian community hot under the collar today. A parent has filmed his final art submission to the IEB. #Grantleigh pic.twitter.com/1MkBz2aFbK
— Quintessential ZA (@Qessential_ZA) October 22, 2019
Na verskeie klagtes het die skool onder druk geswig en die installasie uit die kunsuitstalling onttrek. Die skool vra in ’n verklaring om verskoning aan diegene wat die kunswerke afstootlik gevind het. Hulle sê dit is egter belangrik dat kuns subjektief is en oop vir interpretasie. “Kuns moedig mense aan om ’n mening te lug, hetsy teen of ten gunste van die betrokke werk.”
Daar was ’n duidelike waarskuwing by die uitstalling dat dit potensieel aanstootlik mag wees vir sekere mense, bedoel is vir ’n volwasse en gesofistikeerde gehoor en spesifiek nie vir kinders nie.
Daar was ook ’n kennisgewing by die uitstalling wat vra dat daar nie foto’s geneem word nie.
Ten spyte van die versoek dat dit in die regte konteks gesien moet word en dat geen foto’s geneem mag word nie, is die kunswerke oral op sosiale media versprei sonder om die simboliek daarvan te verduidelik.
Grantleigh Curro School, art display making a mockery of Christianity. Shame on you !!! pic.twitter.com/L8afTWpPJf
— Bill (@billb_bill) October 22, 2019
Die skool sê die kunswerke was kritiek op die wyse waarop godsdiens beoefen word en nie op God, of Jesus self gerig nie. Die kunstenaar het by elke kunswerk volledig verduidelik presies wat dit beteken. Predikante, politici en akademici het skerp onder mekaar verskil oor die kunswerke. Jonathan Jansen van die Universiteit Stellenbosch het op die radiostasie CapeTalk gesê: “As hulle Jesus so klein is en bedreig voel deur ’n jong seun se kuns stel ek voor hulle herlees weer hulle geskrifte.” Jansen het die kritici van die uitstalling daarop gewys dat die kunswerk nie daaroor gaan om die spot met Jesus te dryf nie maar om ’n simboliese boodskap oor te dra. Dit is eintlik ’n kommentaar oor hoe georganiseerde godsdiens geld najaag.
“If their Jesus is so small and so threatened by a young boy's depiction, then I suggest they go re-read their scriptures.” - Prof Jonathan Jansen https://t.co/CS3gi9yegR
— 702 (@Radio702) October 23, 2019
Jansen het diegene wat so te velde trek teen die uitstalling se reaksie as buitensporig afgemaak. Hy sê hy wens die sogenaamde Christene wil dieselfde ontsteltenis uitspreek oor armoede, rassisme en xenophobia.
Die VF Plus sê hulle deel die ontsteltenis van Christen-groepe rakende die kunswerke. “Dié voorval plaas weereens klem op die spanning tussen gemeenskappe se gevestigde waardestelsels en die radikale individualisme van die liberale ideologie,” sê die party in ’n verklaring.
Hulle sê terwyl die VF Plus hom nie vir sensuur beywer nie, is verskillende aspekte vir die party problematies. “Indien vertoning van die ou Suid-Afrikaanse vlag byvoorbeeld ’n hofbevel kan uitlok, sou mens verwag dat ander groepe, soos Christene, se oortuigings ook sensitief hanteer word.”
Kunsuitstalling by Grantleigh Curro-skool: Onderwys is nooit waardevry nie #grantleigh : https://t.co/wbY92b2CZE
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) October 22, 2019
Verskeie predikante en gelowiges het tot kalmte gemaan. Hulle sê diegene wat so te kere gaan, behoort eers die kunstenaar se verduideliking van die kunswerke te lees voordat hulle oorboord gaan met hulle kritiek.
Die jong kunstenaar het glo agt onderskeidings in matriek, is die beste kunstenaar in al die Curroskole landwyd en speel ook uitstekend viool. Hy het al van graad 7 af ’n mentor in die fisikadepartement van Universiteit Kaapstad (UK) en wil volgende jaar Fisika studeer.
Die man wat so teen die kunswerke te velde getrek en dit op die internet versprei het, is glo ’n lekepastoor in ’n charismatiese Pinksterkerk.
Die leerling en sy kunswerke het ook groot steun van die publiek gekry. ’n Kunsonderwyseres, Mariana du Preez, het op Facebook geskryf die kunswerke is konseptueel uitmuntend. “Die feit dat daar nou ’n debat ontstaan het, wys juis hoe geslaagd die uitstalling is.”
“Baie geluk aan die kunsjuffrou wat haar leerders so kon begeester om hul siening van die wêreld daar buite te kon verbeeld.”
Du Preez sê wanneer sulke opdragte gegee word, kry die leerders ’n onderwerp waarop hulle visueel moet reageer.
“In dié geval was die leerders se invalshoek duidelik die bedreiging wat die hedendaagse wêreld op hulle, en die wêreld soos hulle dit sien, het. Die opskeur van die Bybel en die kopbene spreek juis die verval aan. Come on almal wat nou die duiwel agter die skool uitskop. Die uitstalling spreek juis op ’n intellektuele vlak, wat 18 jarige kids verhef tot sterk konseptuele denke. Well done aan die betrokkenes. Dis ’n uitmuntende sterk konseptuele uitstalling met tegniese sterk versorgde werk as jy bereid is om verby die duiwel te kyk, in die post-post-moderne tyd waarin ons en ons kinders nou leef.”