Politieke partye het mekaar die afgelope week oor en weer van verraad beskuldig terwyl die RNE op die rand van ineenstorting gehuiwer het weens geskille oor die begroting.
Dit was veral die DA en ActionSA wat mekaar in die hare gevlieg het nadat ActionSA Dinsdagaand ’n knuppel in die hoenderhok gegooi het. Hulle het ’n ooreenkoms met die ANC aangegaan oor die voorgestelde verhoging van een persent BTW oor twee jaar wat deur die minister van finansies, Enoch Godongwan, voorgestel is. Dit het die weg gebaan vir die aanvaarding van vanjaar se omstrede begroting, selfs al is die RNE nie eenstemmig daaroor nie.
Die begrotingstwis het Woensdag ook tot ’n vuurwarm debat in die parlement gelei tussen die ANC en die DA, wat sy belangrikste vennoot in die RNE is. Dit was nadat die speaker nie die debat op versoek van die EFF wou uitstel sodat die verslag oor die 2025 fiskale raamwerk terugverwys word na die parlement se finansieskomitee nie.
Die IVP, PA en ander kleiner vennote van die RNE het ook die begroting tydens gister se debat gesteun en hulle by die ANC geskaar. Die VF Plus is ook gekant teen enige belastingverhodings.
❗️Aan die anderkant van die geraas!
🎙️Wouter Wessels, VF Plus-voorsitter en woordvoerder oor finansies #GNU #GNUbudget @wouter_wessels https://t.co/HeP4fZlzcv— VRYHEIDSFRONT PLUS (@VFPlus) April 2, 2025
Die EFF en DA oorweeg regstappe omdat Dinsdagaand se parlementêre verslag oor die begroting volgens hulle nie volgens parlementêre reëls goedgekeur is nie.
Die DA se hoofsweep, George Michalakis, het gesê as die parlement ’n gebrekkige verslag aanvaar, sal die BTW-verhoging steeds op 1 Mei in werking tree, wat die lewe vir miljoene Suid-Afrikaners moeilik sal maak.
If Parliament adopts a flawed report, the VAT increase will still come into effect on 1 May, making life difficult for millions of South Africans.
Watch as the DA's Chief Whip, George Michalakis MP, addresses this in Parliament. pic.twitter.com/edneirqjjr
— Democratic Alliance (@Our_DA) April 2, 2025
Die DA het ActionSA vroeër in ’n striemende verklaring van “uitverkooptaktiek” beskuldig. Volgens die DA werk ActionSA saam met die ANC om ’n begroting te aanvaar wat die armste Suid-Afrikaners die swaarste gaan tref as gevolg van hoër lewenskoste.
Die aanbeveling van ActionSA vra die parlement en die nasionale tesourie om alternatiewe inkomste- en uitgawevoorstelle binne 30 dae te vind. Die DA en ander partye, soos die EFF en MK, het egter gesê die aanbeveling is nie bindend nie en dat ActionSA die BTW-verhoging effektief laat slaag het.
Deur hierdie begroting aan te neem, sonder die hervormings en veranderinge wat nodig was, het ActionSA die deur gesluit vir ’n broodnodige hersiening van staatsbesteding, het die DA gesê.
Volgens die DA is ActionSA se optrede uiters onverantwoordelik. Hulle sê dit sal ’n blanko tjek aan die ANC oorhandig om voort te gaan om staatsgeld sonder hersiening te bestee.
“Dit is ’n veragtelike U-draai van ActionSA, wat hulle in die openbaar daartoe verbind het om nie die ANC se BTW-begroting te ondersteun nie, en dit tog wel ondersteun het,” het die DA in hulle verklaring gesê.
Die DA sê in hulle verklaring dit was ook ’n ernstige skending van die RNE se beginsels deur die ANC, wat ’n streep oorgesteek het deur die begroting goedgekeur te kry met behulp van ’n party wat nie in die RNE is nie, naamlik ActionSA .
ActionSA het op hulle beurt aangevoer dat hulle daarin kon slaag om die BTW-verhoging van 0,5 persentasiepunte in die voorgestelde begroting effektief te skrap omdat hulle die Minister van Finansies 30 dae gee om ’n alternatiewe inkomstebron te vind vir die geld wat hy uit die bykomende BTW wou verhaal.
ActionSA has successfully stopped the proposed 0.5% VAT Increase and secured income tax relief.
This is a major victory in our ongoing fight for a responsible fiscal framework that protects South Africans from excessive taxation.
🔗 Read more: https://t.co/s4DS3VO3T5 pic.twitter.com/mBNrm1J1dE
— ActionSA (@Action4SA) April 1, 2025
Die ANC het 201 van die 400 stemme in die Nasionale Vergadering nodig om die fiskale raamwerk deur te voer.
Hulle het 159 stemme van hul eie en het steun van verskeie politieke partye verkry: 17 van die IVP, nege van die PA, ses van ActionSA, drie van die UDM, twee elk van Rise Mzansi en Al Jama-ah, en een elk van Good en die PAC, wat kort voor die stemmery aan hulle 200 stemme besorg het.