Die week begin met die teks aan die onderkant van die televisieskerm wat kykers daaraan herinner dat presies ’n jaar verloop het sedert die sluipmoord op die teenkorrupsie-fluitjieblaser Babita Deokaran in Johannesburg.
Ook sien kykers op die hoofskerm van die televisie die regstreekse verslagdoening deur die nuuskanaal vanaf die Durbanse hooggeregshof waar Zandile Gumede, voormalige burgemeester van eThekwini, op die aanklag van bedrog- en rampokkeryklagte verskyn. Gumede arriveer (steeds) soos ’n hooggeplaaste met ’n luukse voertuig, lyfwagte wat haar omring; haar grimering is netjies gedoen en sy is geklee in ’n modieuse uitrusting, geskik vir iemand van haar (bedenklike) statuur.
In ’n onderhoud wat buite die hof met haar (in Engels) gedoen word, beantwoord sy die vrae in haar moedertaal isiZulu, wat haar volle reg is, maar ’n reg wat sy hier duidelik uitoefen om ’n bepaalde politieke, Zoeloe-nasionalistiese, boodskap oor te dra. Dit pla haar geweldig, vertaal die verslaggewer vir sy gehoor, dat sy hier in die hof moet verskyn en nie haar nuwe rol as ’n verkose streeksleier van die ANC kan uitoefen nie.
Die rede daarvoor is die ANC se opsystaanreël, wat van ampsdraers vereis om hul poste te verlaat wanneer hulle van ’n misdaad aangekla word. Gee die korrupsie-verrotte regerende party erkenning daarvoor dat hier darem een stap is, gering soos wat dit mag voorkom, om teen korruptes in eie geledere op te tree. Gemaklik voorspelbaar, het Gumede onskuldig op die klagte gepleit. Die saak duur voort.
Maar terwyl sy gepantser in die openbaar verskyn – en wie sou haar leed wou aandoen, wonder ’n mens onwillekeurig? – word onthou dat Deokaran géén beskerming geniet het ten tyde van haar dood nie. Geen lyfwagte vir haar nie; geen polisiebegeleiding nie.
Haar lewe was nie een van aansien in die openbaar nie. Haar sonde was nie dat sy haar aan ongerymdhede skuldig gemaak het nie, maar dat sy die integriteit gehad het om as ’n senior amptenaar in die Gautengse gesondheidsdepartement vergrype bloot te lê.
Hiervoor is sy – om dit sinies te stel – beloon met ’n lewelose liggaam en ’n dogter wat moederloos gelaat is.
In ’n land waar korrupsie, bedrog en misdaad oor die algemeen aan die orde van die dag blyk te wees, word mense soos Deokaran gou vergete. Of, soos nou, dalk een keer ’n jaar onthou met die herdenking van hul dood. Ses aangeklaagdes het darem reeds dae ná die gebeure (dit was einde Augustus verlede jaar) in verband met haar dood in die hof verskyn; ’n maand gelede, in Julie vanjaar, is die saak in die Johannesburgse hooggeregshof voortgesit. Die staat het verklaar dat 1 600 bladsye se bewyse teen die beskuldigdes bestaan, maar van skuldigbevindings is daar nog lank nie sprake nie.
Intussen vra eNCA sy kykers of hulle, nou ’n jaar sedert die Deokaran-moord, dink Suid-Afrika is ’n veilige plek vir fluitjieblasers. Die verskillende opsies vir antwoorde hierop het die volgende steun gekry: slegs 1% van die deelnemers meen die land is nou veilig(er) vir fluitjieblasers; ’n ongelooflike, maar nie onverwagse, 85% glo nie dat die land veilig is vir fluitjieblasers nie, terwyl niemand die opsie vir “onseker” gekies het nie.
Maar daar was nog ’n opsie wat aan die deelnemers van hierdie peiling deur die nuuskanaal voorgehou is. Dit was ’n opsie wat in werklikheid die vinger na die fluitjieblasers en ander teenkorrupsiestryders gewys het: “Bepaal jou by jou eie besigheid.” Hiervoor het ’n aansienlike 14% van die deelnemende kykers gestem. Wat leer ons daaruit? Een: dat die deelnemers dalk meen dit is veiliger dat jy wegkyk van die korrupsie wat jy raaksien; of twee: dat die skuldiges dalk makliker daarvan sal afkom as dat jy die duurste prys betaal deur met jou lewe te boet. ’n Mens sou tog nie wil vermoed dat die 14% dalk prontuit ’n boodskap uitstuur dat hulle nie dink korrupsie of selfverryking ten koste van die staat, belastingbetalers en behoeftiges is aanvaarbaar nie...
Die dag voor Gumede se eerste hofverskyning hierdie week, het ’n geleentheid by Constitution Hill plaasgevind waar Ahmed Kathrada, een van die ANC se etiese strydrosse, gehuldig is. Hier by die tuiste van die land se Konstitusionele Hof het die hoof van die SA Inkomstediens, Edward Kieswetter, dit prontuit gestel dat “die onderduimse en korrupte elemente [uit die staatskapende-Jacob Zuma-era] steeds in die gange van die NVG [Nasionale Vervolgingsgesag] en die SAID rondsluip”. Hul “daaglikse” doel is, soos Kieswetter dit verwoord het, “om die integriteit van die instansies te ondermyn en hul vermoë te verswak”.
Kathrada se weduwee, Barbara Hogan, ook ’n teenapartheidsikoon, wat uit die Zuma-kabinet verwyder is oor sy stelling teen korrupsie geneem het, het in haar toespraak na die verskynsel van “hubriste” verwys. Hulle, voer sy aan, het die regering oorgeneem. Wat is die definisie van “hubris” in die Hogan-woordeboek? Dit is “wat met mense gebeur wat mag het, wat skielik glo hulle is self gode, dat elke besluit wat hulle neem, reg is en dat hulle onfeilbaar is”.
Dit is mense soos Zandile Gumede waarvan hier waarskynlik gepraat word – al het Hogan, toegegee, nie haar naam genoem nie. “Hubriste” het gelukkig ook ’n teenkant. Hulle word “helde” genoem – en dit is hoe Babita Deokaran onthou word. Háár soort is die keersy van die gesig van korrupsie.
Buro: MvH