Die ideologie van woede

  • 0

Een van die eienaardigste aspekte van die hele staatskaping-debakel is die geringe uitwerking van al die onthullings op sekere praktyke en denkwyses wat die afgelope dekades in Suid-Afrika gevestig geraak het.

Na al die grappige berigte oor mense soos (I-don’t-believe-in-scientific-research) Hlaudi Motsoeneng, Tom Moyane, wat ’n top-amptenaar in sy kantoor laat aanhou, of Pallo Jordan met sy vervalsde doktorsgraad, sou ’n mens van hulle verwag om ten minste uit die nuus te probeer bly. Maar nee.

Die Proteas makeer ʾn afrigter, maar weet nie wie die keurders is nie, terwyl die Engelse vir die Nuwejaarreeks op pad is. Maar op TV gooi Thabang Moroe, die baas van die krieketplaas, mense uit hulle kantore, verban die land se beste krieketskrywers en verklaar met leë stadions in die agtergrond, alles is reg.

En nou gaan ons getransformeerde eiendomsagente kry, ’n beroep wat nog nooit met groot vertroue bejeën is nie. Pas het die hoof van die raad van eiendomsagente, nog ’n ou ANC-staatmaker, Mamodupi Mohlala, onthul dat die raad oorweeg om swart aspirant-agente van ’n rits oudits kwyt te skeld, van kwalifikasies tot trustrekenings. Soos die koerant Business Day kripties opmerk: “Asking for trouble”.

Dié kwessie herinner my aan die tydjie in die jare tagtig toe ek een van die dosyne stigterslede van die Congress of South African Writers was. Ek het enige poste soos die pes vermy, maar omdat ek drie van Cosaw se vyf grondbeginsels bygedra het (om Afrikaans tot Afrikataal te verklaar, om inheemse tale gelyke status te gee en om swart Afrikaanse skrywers aan te moedig), is ek gevra om deel te wees van ’n afvaardiging wat met die Afrikaanse Skrywersgilde moes gaan praat.

Dit was sommer in iemand se woonstel of hotelkamer, en daar begin ek gesels met ’n outjie van Pietermaritzburg, wat ek aangeneem het een van ons was. Watse soort goed skryf jy, vra ek hom. Briewe, sê hy. Nee, gaan ek voort, fiksie, of poetry of performance? Briewe aan die koerant, verduidelik hy. So jy is nie hier as skrywer nie, vra ek. Hy het onmiddellik aanstoot geneem, maar hoe meer ek verduidelik dat ek vra as ’n Cosaw-lid wat wil uitvind hoe dinge werk in Natal, hoe kwater raak hy. Antjie Krog moes naderhand ingryp.

Hy het my natuurlik geprofileer: omdat ek wit is, moes ek ’n Skrywersgilde-man wees, wat my vrae ’n heel ander kleur sou gee. Maar, ek het agterna gebrand om verder te gesels oor die implikasies daarvan dat hy homself as skrywer sien bloot omdat hy briewe aan ’n wit koerant skryf, maar ook dat dit hom genoeg status gee om lid van ’n afvaardiging te word. Hy het my egter ’n koue skouer gegee.

Daar was ’n komiese sy daaraan, ja. Maar omdat ek my politieke verstand as seun in Zoeloeland gekry het, was ek bewus van landelike Zoeloes se tegnologiese agterstand weens die uitsluitings van apartheid en kolonialisme. Iemand wat briewe kan skryf, soos elders in Afrika, was ’n gesogte mens. Na 25 jaar van ANC-regering is dit nog steeds so, jy is outomaties ’n pilaar in die gemeenskap.

Maar natuurlik was daar die ernstige sy: hoe ver kan jy standaarde aanpas om kanse vir ontwikkeling in posisies te gee vir mense met duidelike talent en potensiaal, maar wat agtergelaat is weens hul omstandighede. En wie was ek om te praat? Ek het self pas maar ’n dun boekie kortverhale gepubliseer, nog glad nie waffers binne my eie kultuur nie. Die onderonsie het my altyd bygebly as ’n rigtingwyser te midde van die kompleksiteit wat later, na 1994, ’n sentrale kwessie in die beleid van swart ekonomiese bemagtiging geword het.

Wat nou vir my uitstaan, dertig jaar of wat later, is die toe nog onverwagse woede. Nou is ons al gewoond daaraan, die doktrine: As ’n swart slagoffer van wat ookal in woede uitbars, is dit in sy omstandighede gegrond, wat hom dwing om só op te tree. “Lived experience” is die sleutelwoord, een wat baie wit akademici ook opgeneem het in hulle rasionalisering van sommige van die #FeesMustFall-studente se dwalings.

Hoe durf ek die outjie van Maritzburg uitvra oor sy kwalifikasies as ek wit is? Dit was my eerste kennismaking met die ideologie van woede. Later sou ek dit sien in die goedpraat van halssnoermoorde, maar veral ook onder Cosatu se vakbonde: die aandrang op kwalifikasies, toetsing en standaarde word as ’n onding beskou, die uitwerking van kolonialistiese meerderwaardigheid terwyl swart mense in elk geval al die werk doen.

As ’n anargistiese rebel in die 1970’s het ek simpatie gehad hiermee. Ontsaglik baie talent het eenvoudig verlore gegaan weens die gebrekkige opvoedingstelsel onder apartheid. Maar, toe die ANC-regering oorneem, het hierdie houding ’n fondament in beton en gruis geword. Onderwysvakbonde het inspeksies op skole laat inkort en soms laat afskaf. Die Spoorwegpolisie is ontbind, en die kommando’s in die platteland ook (’n historiese euwel wat met niks vervang is nie).

Natuurlik was daar vinnig ’n oorvloed van valse kandidate en charlatans, met onse Hlaudi en sy vals matriek heel voor. Die eienaardigste hiervan is die dikwelse toepassing van die Stalingrad-strategie in die enkele gevalle waar oortreders wel uitgevang word. Pleks om jou kantoor so vinnig moontlik te ontruim en in skaamte uit die stad te trek, probeer sulke mense selfs om hulle sake deur die grondwetlike hof omgekeer te kry.

Afdanking is strydig met hulle “lived experience”, waarin hul familie, kollegas en die publiek hulle dan met soveel agting en selfs bewondering moet behandel. Soos Motsoeneng homself verdedig het: “Everywhere I go people acknowledge Hlaudi”.

En dan is daar die berugte slaagpunt van 30% om matriek te behaal wat Suid-Afrika se onderwysstelsel so swak laat vaar. Daar is ’n onderwysdirekteur in Polokwane se arm buurte wat die kinders in sy skole elke dag laat opsê: “We want fifty percent, we want fifty percent.”  Hy het dit lankal laat vaar om met die regering of die regerende party te probeer praat. Vra hom daaroor, en die woede bars los by SADTU, die vakbond vir onderwysers. 

Die resultate is oral te sien. Selfs die SA Buro vir Standaarde, wat onlangs akkreditasie verloor het by die internasionale motor-taakmag, en Stats SA is in ’n toestand. Die grappigste is sekerlik Transnet se bestelling van lokomotiewe wat nie op sy spoorlyne pas nie, waarna hy ook agterkom sy hoofingenieur se kwalifikasies klop nie met sy CV nie.

Maar die soustrein en die spooktrein van Suid-Afrikaanse vooruitgang stoom voort op die woede wat amper weekliks iewers uitslaan, oor hoe min transformasie nog plaasgevind het. Twee weke gelede was dit Cyril Ramaphosa in sy weeklikse presidentsbrief, toe volg die bohaai oor die nuwe wit baas van Eskom.

Jy kan met die vuis op die tafel slaan soveel as wat jy wil, maar as die spens leeg is, is hy leeg.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top