Die oorhandiging van deel twee van die Zondo-kommissie se verslag die afgelope week aan die presidensie is deur Cyril Ramaphosa bestempel as “nóg ’n betekenisvolle stap vorentoe om korrupsie in die land uit te roei”.
’n Maand gelede, toe hy deel een ontvang het (kyk hier), het hy benadruk dat Suid-Afrikaners nou strafregtelike optrede wil sien. Dit durf nie om dowe neute wees dat daar vir vier jaar lank op die afhandeling van die kommissie se werk gewag is en ’n miljard rand belastingbetalersgeld daaraan bestee is nie, het hy dit verder uitgespel.
Hierdie keer voeg hy by dat die kommissie vir die duur van sy bestaan ’n “ontstellende beeld” van “die diepte en skade van staatskaping” saamgestel het. Juis daarom dan dié onderneming deur die President: “Ons moet nou ons energie fokus op die aanbevelings van die kommissie en die nodige stappe doen om te verseker dat ons nooit weer hierdie aanslag op openbare hulpbronne en op die wese van ons samelewing in die gesig staar nie.”
Dit is waagmoedige woorde van die leier van die regerende ANC, terwyl dit bepaald na sy voorganger, Jacob Zuma, en senior lede van die party is na wie die kommissie vinger wys. Die kommissie dring ook daarop aan dat verdere ondersoeke in sekere gevalle gedoen moet word om strafregtelike vervolging – teen onder andere oudminister Malusi Gigaba – ’n werklikheid te maak.
(Jy kan die inhoud en aanbevelings van sowel deel een as deel twee van die verslag hier op die presidensie se webwerf, onder die hofie “Documents”, aflaai.)
Die aanbevelings in die eerste deel van die verslag het op onder meer beter beskerming vir fluitjieblasers teen korrupsie en die totstandbring van ’n nuwe teenkorrupsie-agentskap en nuwe verkrygingsprosedures gefokus. In die tweede deel word aan die hand gedoen dat openbare ampsdraers vir tot 20 jaar opgesluit word of tot met R200 miljoen beboet word indien hulle hulself aan magsmisbruik skuldig maak.
Zondo het verduidelik: “Sulke moontlike skendings mag strek vanaf ’n geval waar ’n president van die republiek ’n groot deel van die nasionale rykdom of toegang daartoe aan ’n ongemagtigde ontvanger oorgee tot by ’n junior amptenaar wat ’n kollega uit afsku of wraak skors.”
Magsmisbruik is nie ’n strafregtelike oortreding in Suid-Afrika nie.
En dit is waarom soveel van die mense wat in die staatskapingskandaal geïmpliseer word, skotvry van hul dade kon afkom, ’n situasie waartoe hulle oënskynlik vanuit die presidensiële kantore by die Uniegebou deur Zuma sélf in staat gestel is. In die jongste verslag van die Zondo-kommissie, wat fokus op die staatsentiteite Transnet en Denel, word breedvoerig uiteengesit hoedat Zuma as’t ware aan “ongemagtigde ontvangers” (dit is vermoedelik die Gupta-broers en hul lakeie) “toegang tot ’n groot deel van die nasionale rykdom” gegee het.
Oor Zuma se rol skyn daar eenstemmigheid te wees. Oor die rol van sy destydse adjunk, Ramaphosa, bestaan daar ’n meningsverskil – sélf word hy nie beskuldig van enige misdrywe nie, maar uit sy eie getuienis voor die kommissie weet die publiek nou dat hy wel bewus was van die ongerymdhede. Waarom het hy nie opgetree nie? word steeds deur sommige gevra.
Genoeg ander lede van die kommentariaat verkies egter om hom die voordeel van die twyfel te gee dat hy sou besluit het die beste ding is om, op welke manier ook al moontlik, saam met ander die vergrype eerder van binne teen te werk. Om as Zuma se adjunk te bedank het, sou dalk die hoofopskrifte gehaal het, het hy voor die kommissie getuig, maar sou nie enige beduidende verskil aan die beëindiging van die staatskapingsprojek gemaak het nie.
Dit moet nog gesien word of hy Zondo hiervan oortuig het wanneer die ANC as regerende party se rol in staatskaping na verwagting in die derde deel van die verslag ter sprake kom. Ramaphosa, wat ook voor die kommissie moes antwoord oor die rol van sy party se ontplooiingskomitee, het reeds vroeër aangedui dat hy opsy sal staan as die verslag hom in staatskaping sou impliseer.
Maar selfs al word hy nie in sy persoonlike hoedanigheid daarvoor verantwoordelik gehou nie, sal hy nogtans onder geweldige druk wees as die kommissie bevind dat hy onregstreeks ’n rol gespeel het by wyse van sy partyrolle. Dit wissel van sy stilswye as Zuma se adjunk, tot aanstellings in staatsondernemings wat voortgespruit het uit besluite deur die ontplooiingskomitee of die aanwending van staatshulpbronne vir die ANC se interne werksaamhede of leierskapstryde.
In ’n nuwe ontwikkeling wat by laasgenoemde kwessie aansluit, moet Ramaphosa teen 10 Februarie ’n verduideliking aan die parlement se staande komitee oor openbare ondernemings (Skoor) stuur. Die agtergrond is dat hy in ’n uitgelekte klankopname van ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee gehoor kan word dat hy sê “ons almal weet” dat staatshulpbronne (staatsgeld?) vir die 2017-leierstryd gebruik is. Wat hy waarskynlik gemeen het ’n dapper stelling is, het sy voet net verder in sy mond gedruk toe hy byvoeg dat hy bereid is om eerder op sy swaard te val oor die skenkings wat aan sy eie veldtog vir partyleierskap gemaak is (die sogenaamde #CR17miljoen) “as dat die publiek dit te wete moet kom dat staatshulpbronne [deur ander in die party] misbruik is”. Wat hy nie op daardie oomblik kon verwag het nie, is dat ’n LP en Skoor-lid vanuit eie geledere, Mervyn Dirks, hom oor sy uitlatings by Skoor en die openbare beskermer sou verkla nie.
Net minder as 11 maande bly oor voordat Ramaphosa afgevaardigdes by die ANC se vyfjarige verkiesingskonferensie moet probeer oorreed om hom vir ’n tweede termyn partyleier te maak. Die teen-Ramaphosa-faksie, bestaande uit ’n hele paar prominente staatskapingbeswadderde leiersfigure, het egter hul eie plan om hom te ontsetel.
Hoe hy die Zondo-verslag (waarvan die laaste deel einde vandeesmaand verwag word) benader, sal bepaal of hy dit (wettiglik) sal inspan om dié faksie te verswak en of hy optrede sal vertraag ter wille van ’n kamtige regverdige verkiesingstryd – en die party se stryd om oorlewing nadat kommentators toenemend dié einde teen 2024 voorspel. Die uitvoering van die aanbevelings in die verslag (Ramaphosa het 30 Junie as ’n spertyd vir sy regering se implementeringsplan hieroor gestel) kan derhalwe ’n bepalende rol speel in die finale inploffing van die ANC, óf kan die reiniging daarvan tot gevolg hê sodat dit van nuuts af kan ontkiem.
Watter rigting dié eens magtige en gerespekteerde bevrydingsbeweging se toekoms ook al inslaan, sal, sonder dat Ramaphosa dit met sy stelling oor die tweede deel van die Zondo-verslag so bedoel het, “nóg ’n betekenisvolle stap vorentoe [wees] om korrupsie in die land uit te roei”.
Buro: MvH